Wednesday, 10 April 2013

DIE AFSKEID

Hy is reeds skemeroggend in die veld. Sy skoene knars oor die rooi klippertjies teen die skotige rantjie. Die dou hang nog swaar aan die grashalms onder in die rivier en hier en daar sien jy klein diertjies hierdie lewegewende vog drink. Hy hoor die oggendgeluide by die kraal, soos dit op die koeler oggendwindjie na hom aangesweef kom. Bokke wat blêr en as jy fyn luister die geklingel van die melkemmers en die werksmense se vrolike tongklap-geselsies. Bietjie later sal die skape veld toe streep.

Alles klink so normaal en tog is dit vandag die afskeid. Die. Afskeid. Later vandag, as die son se warmte oor die kaal rante strek, die gemsbokke lui na 'n koelte in die rivierlope soek,  gaan die afslaer se gong op die hoogste bod toegeslaan word.

Skuld is 'n harde rentmeester en 'n oordeelsfout kan soms nie ongedaan gemaak word nie.

Vier generasies lank is die grond in sy familie. Oud-Oupa het die plaas bekom. 'n Dorre stuk aarde en volgens die Duitse owerhede geklasifiseer as semi-woestyn en nie geskik vir kommersiele boerdery nie. Tog het hy moed gehou en rondgetrek met die vee terwyl hy stuk-stuk die plaas begin toekamp het. Met die tyd het Oud-Oupa boorgate gesink en dus hier en daar waterpunte op sy grond bekom. 'n Eenvoudig, dog statige kliphuis het teen die rantjie verrys, knus omarm deur die U-draai in die rivier.

Dit was vanselfsprekend dat Oupa op die grond sou aangaan. In daardie jare was daar immers nie 'n keuse nie. Erf en boer. Oupa het voortgebou op die plaasverbeterings en water was die heel belangrikste. Met die boormasjien agter sy ou Ford lorrie, het hy die rante plat gery en moedig aanhou soek vir water. Hoop beskaam nie. Vadertjie tyd het egter stadig maar seker aangestap en voor hul weet was  Pa aan stuur van sake.

Soos dit met boerdery gaan was daar goeie en slegte jare. Jare waarin die veld min was, waarin die grootste oorlewing was om die diere tot volgende seisoen deur te kry. Met 'sjokolade-mielies', lusern is allerhande planne beraam dat die ooie net nie hul lammers moet weggooi nie. Die wild het swaargekry. Van swakte in die drade vasgespring en daar bly lê totdat hul dalk so gelukkig was om 'n genadeskoot te kry.

Tog was daar goeie jare ook. Rëenjare waarin die kuile net nooit opgedroog het nie. Waarin die rante oortrek was met blinkhaargras en spekvet karakoele kol-kol  gewei het. Jare waarin die gemsbokke blinkvet in die veld staan en hul sterte luiweg geswaai het as die voertuie nader kom. As jy te naby kom, het hul met 'n geklap van die hoewe, statig tog doelgerig oor die rant gehardloop. Hul bewegende blink velle losserig oor hul lywe.

Daar is soveel mooi herinneringe.Generasies opgebreek in leeftye. Leeftye opgebreek in jare. Jare weer opgebreek in seisoene en so het elkeen sy plek gehad. Winters en somers, swaarkry en klaarkry. Goeie tye en minder goeies...

Die dag breek in die ooste en daarmee saam kom hy terug uit sy mymeringe. Hy raak bewus van die geklap van die droeë peule van die ghabba-bosse in die oggendwindjie. Die geblaf van die werfhonde, want die eerste blink voertuie begin arriveer.

 Stadig staan hy op van die plat klip waarop hy gesit het en vat sy hoed was langs hom gelê het. Hy kyk oor die plaas en lê die prent vir oulaas in sy geheue vas. 'n Benoudheid styg op in sy bors en die opwelling van emosie vang hom amper onkant.

As die bod vandag toegeslaan word, sal hy eersdaags vir oulaas die lynhek met die skewe naamplaat agter hom toetrek en daarna gaan hy tussen vier mure moet sit...


No comments:

Post a Comment

MEER AS NET ‘N KWILT Vandat ek kon onthou was kwilts, of soos dit in die volksmond bekend staan, lappieskomberse deel van my lewe. Me...