Friday 8 August 2014


DAARDIE ‘IETS’ 

As mens die dag immigreer verander alles. Jou land, jou taal, jou vriende, jou meubels, jou voertuig, jou klere, tot die kos wat jy eet. Seisoene is anders. Reuke, kleure en geluide is anders. Huise, strate en dorpe is anders. Tot die son kom op ‘n ander plek op. Links en regs van die huis, nie meer oos en wes nie. Eensklaps verander alles. Die eerste tyd is jy verdwaas en jou brein vol muwwe kolle. Later skop ‘n oorlewingsdrang in en jy durf eenvoudig die vreemde aan. Soos ‘n sesjarige die eerste dag van sy skoolloopbaan, so pak jy alles aan. Met blink blink oë en vol verwagtinge. En jy leer. Elke dag. 

Nie net leer jy ‘n nuwe land, omgewing en mense ken nie, maar jy leer jouself ken. Jy ontdek ‘n oorlewingsdrang in jouself wat jy nie eers geweet het bestaan nie. Jy leer anders dink. Jy dink soos wat jy in die nuwe land moet dink om te kan regkom met daaglikse goed. En dis nie noodwendig logies nie. Jy leer dat dit nie noodwendig logies is dat ingemaakte beet, by die ingemaakte slaai op die rak sal staan, soos jy gewoond is nie. Jy leer dat die bakpoeierhouertjie ‘n wit en blou kartonnerige afêre is, al soek jou oë die eerste paar maande vir die rooierige bakpoeier blikkie. Jy leer dat Palmolive nie badseep is nie, maar skottelgoedseep. Dat witbroodmeel en koekmeel een en dieselfde is. Dat jy allerhande eksotiese kruie en speserye in die kruidenierswinkel kan kry, maar doodgewone anyssaad by die gesondheidswinkel moet gaan koop. Dat hul vlapoeier sout is en jy liefs nie jou gebruiklike knippie sout moet byvoeg nie. Dat gravox die nuwe bisto is. Dat bruinuiesop skaars is. Dat die plaaslike bier en wyn die kleurrykste name het. Pure Blond, Little Creatures, Counting Sheep, Third Verse (weet nie wat van die eerste twee geword het nie), Pink Passion Pop en vele meer, wag jou by die bottelstoor in. Jy leer...

Iets wat jy ook vinnig agterkom, is dat die poskantoor, nie vreeslik lang ure vir die publiek oop is nie, maar wel die plaaslike “One Stop Shop” is. Pakkies stuur, pos ontvang, belastingregistrasie, paspoortaansoeke en die verkoop van skryfbehoeftes, lekkergoed en tuinkabouters is maar enkele van hul vele dienste. Jy leer dat ‘n “Proof of age” kaart die nuwe identiteits dokument is. Maar, jy doen daarvoor aansoek by die kantore van die Departement van Transport en nie die poskantoor nie. Lekker uitgevangJ Jy sal ook agterkom, dat ‘n Bali vakansie meer bekostigbaar as dagsorg en tandarste is en dat jy ‘n groter kans het om met Tony Abbot ‘n afspraak te kry as by die plaaslike dokter.  

Iets wat jy nie so vinnig agterkom nie, is dat hul ‘spietkops’ in siviele klere EN voertuie werk.  

Jy leer dat die winter die mooi seisoen is. Dit reën, is meeste van die tyd windstil en die veld is mooi groen. Teen die einde van die winter is daar oral veldblommetjies en dit verander die rooi sand in ‘n kleuryke tuin. Die sypaadjies en landerye is ‘n sagtegroen. Kom die somer, is die storie egter heeltemal anders. Die wind waai jou uit jou geloof uit en die veld is droog en stowwerig. Boonop is dit vrekwarm met wolke vliee. So teen November begin jy oor die voordele van antidepressante nalees. Net jou jaarlikse verlof en die see wat om die draai is, laat jou darem nog huiwer om dit te gebruik. Teen Januarie lees jy daagliks daaroor na. 

Jy leer dat die veld leeg is. Daar is nie wild nie. Kangeroo’s tel nie, want maak nie saak hoe lank na hul kyk nie, hul sal nooit die prag en grasie van ‘n gemsbok hê nie. Koala’s tel ook nie. Mens slaap saam met sagte wollerige beertjies. Koedoe’s, springbokke en blesbokke sou tel. 

Tog is daar een lekker iets wat dieselfde bly. Maak nie saak in watter kontinent, land of streek jy is nie. Vir my is dit ‘n baie baie lekker ‘iets’. Dit laat dink my aan die ou oom wat gesê het, dat die lekkerste drie dinge in die lewe, treinry, konsertina speel en kondensmelk drink is. (Seker nie noodwendig in die volgorde nie.) Wel, hierdie lekker ‘iets’ is nie een van daardie drie dinge nie. Hier word plattelandse treine meerendeels vir mynbou en landbou aktiwiteite gebruik en hul weet nie eers wat ‘n konsertina is nie. Kondensmelk, wel dié kry jy hier en dis steeds lekker. Maar terug na die punt. Hierdie ‘iets’ is in ‘n mate nog lekkerder in ‘n vreemde land as in jou eie land. In Suidwes kon ek nie genoeg daarvan kry nie en hier kan ek glad nie genoeg daarvan kry nie. 

Dis egter nie so geredelik beskikbaar in die stad nie. Dis nou enige stad en dié hier in Annerland is nie ‘n uitsondering nie. Dit is in ‘n stad ook, maar die verkeer, mense en gejaag maak dit weemoedig. Die yslike toringgeboue verdruk dit en die gebrek aan vars lug versmoor dit. Dis verseker een van die redes waarom ‘n stad nooit my eerste keuse van ‘n blyplek sal wees nie. Hoe verder jy die platteland in beweeg, hoe meer is daar. Dis oral, jy moet net jou oë en ore oophou. Die Wes-Australiese platteland is nie ‘n uitsondering nie. Daar waar die sogenaamde beskawing plek maak vir boendoes, daar is baie hiervan. Die platteland léwe van stories.  

Dit maak ‘n Namibië en ‘n Wes Australië een. Die een het ‘n Kolmanskop, die ander ‘n Paynes Find.  Die een ‘n Adams Rust, die ander ‘n Kali of ‘n Muggon. Die een ‘n Maltahöhe, die ander ‘n Yalgoo en so meer. Vergete se myndorpies, toe onder jare se sand. Vir die oog wat nie mooi kyk nie, of die oor wat nie mooi hoor nie is dit bloot vaal stowwerige dorpies en verveling ou plase. Vir ons storiemense is dit egter anders. Stap jy deur Oakabella se homestead, kry jy dieselfde gevoel as wat jy in Kolmanskop se toegewaaide hospitaal kry. Jy kan die stories sien. Jy kan dit hóór. Jy kan dit vóél. Stap jy deur die ou huise of oor die plaaswerwe, wonder jy wie die eerste mense hier was. Hoe het hul hier beland? Wat was hul lief en leed? Hul ideale. Hoe het hul ‘n lewe gemaak? Hoeveel kinders het hul gehad? Waar het hul water gekry? Wie het op hierdie spesifieke plek gestaan en ‘n groot dam in sy geestesoog gesien? Wie het dit gebou? Hierdie vrae bly jou by en jy gaan lees daaroor. Dan raak die vrae net meer. Jy lees, jy soek en jy kom op die kosbaarste stories af. 

Waar daar stories is, kan ek leef. Hul praat met my en ek verstaan hul. As ek nie verstaan nie, soek ek tot ek verstaan. Hul maak my lewe vol.  

So, kom ons laat die stories loop!

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

MEER AS NET ‘N KWILT Vandat ek kon onthou was kwilts, of soos dit in die volksmond bekend staan, lappieskomberse deel van my lewe. Me...