Monday 14 July 2014


‘N BAK?

Daar is die enkele dae wat my gedagtes sommer net die loop kan neem. As ek weer sien is hul op in volle vaart oppad, nes ‘n trop gemsbokke wat reën geruik het.  Dis net klippe wat spat, klappende hoewe, oopgesperde neusvleuels en wee, oo wee, dit wat in hul pad kom.  Nou, my gedagtes is ook so, daar’s weinig wat hul kan stuit as hul eers die loop geneem het. Dit het alles begin met ‘n enamelbak. Jip, ‘n doodgewone afgeërde enamelbak, op ‘n koue wintersaand in my Annerland-pophuiskombuisie.
Buite was dit reeds donker en die wind het boos aan die die palms voor die kombuisvenster geruk. Dit het by tye woedend vlae reën op die agterstoep se dak gesmyt.   Buite was dit koud en onplesierig. Binne was dit darem warmer.  Die geur van masala, borrie en warm asyn het swaar in die lug gehang en op die bank het Kattie haarself in ‘n slakbondeltjie opgekrul. Op soek na bietjie hitte. As teenvoeter teen die koue en mistroostige weer, het ek besluit om bobotie te maak. (Anders het ek myself dalk ook in ‘n slakbondeltjie opgekrul.)  Regte egte bobotie met vet rosyntjies. Nou ja om ‘n lang storie kort te maak, dié bobotie word toe in die wit en blou enamelbak gebak.  ‘n Bak wat ek byna elke dag gebruik, maar dié betrokke aand maak die bak iets in my gedagtes los...

... en daar gaat die ‘gemsbokke’!

Wat die presiese oorsprong van Die Bak is weet ek nie, maar ek kan my indink. Dis ‘n bak wat uit een of ander ouma of grootouma se kombuis gekom het. Vandat ek kon onthou was die bak tesame met allerhande ander kombuisware, in die witgeverfde kombuiskas op die plaas.   Dat dit ‘n berese stuk kombuisware is, is gewis en ek wens ek kon sy storie ken. Nou ja, ek is lief vir stories en waar daar nie een is nie, maak ek sommer een.
Het dit sy oorsprong by grootouma gehad is dit heel waarskynlik by een of ander smous gekoop of geruil, terwyl hul die land met kar en perde deurkruis het. Die eerste deel van grootouma en -oupa se lewe het hul ook maar in ‘n tent en wa gewoon. Soos dit met die meeste pioniers gegaan het, het hul ‘n lewe uit transportry en boerdery gemaak. Beide het heelwat reis vereis. Die staning is deurgaans versit na gelang van beskikbare suipings en vragte. In 1928 bou grootoupa Coen die kliphuis op Adams Rust. Grootouma se eerste regte egte huis.

Het die bak sy oorsprong by ouma Dina gehad, is dit waarskynlik by een of ander plattelandse handelaar gekoop. Vermoedelik ou Charney in Mariental of dalk Pupkewitz op Kalkrand? ‘n Handelaar wat enigiets van ‘n speld tot ‘n dooie poliesman verkoop het. Sy winkel sou effe donker gewees het aan die binnekant. Hyself sou agter dit toonbank staan en nougeset jou bestelling afmaak.  Saam met dié generasie sou die bak uit die Namib, Adams Rust toe skuif.

In die begin sewentigs neem my pa die familieplaas oor. Hy erf die plaas, die kliphuis, losgoed, waaronder die bak vermoedelik ook was.  Dis dan ‘n paar jaar later wat ek Die Bak leer ken het. En hiervandaan is Die Bak se storie nie meer ‘n opgemaakte storie nie, maar ‘n regte egte een. Ma het dit nie veel gebruik nie, vermoedelik omdat die maar ‘n kleinerig bak is. Net  genoeg vir vier miskien ses mense. Let wel: mense. Nie groeiende Strydoms seuns nie. Dit was ook heeltemal te klein vir somertyd se familiekuiers of wintertyd se jaggaste. In ons huis was daar nooit min mense nie.
Dis heel moontlik waarom Die Bak later by my geland het. In my eerste woonstel begin ek Die Bak gebruik. Vir alles. Dis net die regte grootte vir byna al my resepte. Van bobotie, pastei, groente, oondpatats tot by poeding, pannekoek en melksnysels. Boonop kan dit van die oond na die tafel na die yskas, sonder ‘n onnodige uitskep- en gewassery. Dis prakties en onbreekbaar. Dis mooi genoeg vir die tafel en prakties genoeg vir die kampvuur. Kyk, in my huis was enamel items ‘n ‘trendie’ item lank voordat  Sarie daaroor begin skryf het of Mastechef hopies grênd kos daarin bedien  en almal koorsagtig blou en wit enamelware ten duurste begin aanskaf het.
So, hierdie Bak het vele lief en leed aanskou. Dink net aan al die stories wat dit aan elke etenstafel en om elke braaivleisvuur aangehoor het. Dit het deur generasies se slegte en goeie tye geleef. Deur menige droogte, misoeste en goeie jare. Deur mislukte resepte en brousels. Deur wonderlike huis geregte. Dit was so tuis langs die kampvuur soos op die  Sondag etenstafel.
Nou ja , die laaste been van Die Bak se (huidige) reis begin 29 Maart 2013 toe dit amptelik aan boord, van een of ander vragskip, die Afrika vasteland verlaat vir ‘n nuwe Bak-generasie hier in Annderland. En ek ken die deeltjie van die storie, maar wie gaan dit oor ‘n paar jaar nog weet? Niemand, want dis bloot ‘n bak. Vir hulle...


MEER AS NET ‘N KWILT Vandat ek kon onthou was kwilts, of soos dit in die volksmond bekend staan, lappieskomberse deel van my lewe. Me...