Friday 26 September 2014


AKWARIUM VAN WES-AUSTRALIE
AQWA
My gedagtes, my onthou en my lewe is in kleure. Sommige mense het weer met reuke ‘n assosiasie. Of klanke. Soms ek ook, maar meeste van die tyd leef ek in kleure.
As ek aan Suidwes dink, sien ek ‘n mengsel van aardse kleure. Die Suide se harde, rooibruin kliprante oortrek met goue wintersgras, die Namib se oranje duine en die vaalbruin klipkoppe van die Kaokoveld. Die bruin modderwaters van ons riviere en donker stofbruin stamme van kameeldorings omsoom met blouselblou lug, is vir my die kleure van Suidwes. Dink ek aan die Kaap, is my prentjie in alle skakerings van groen en blou met helder water. Dink ek aan die Kalahari is my prentjie rooi en ougoudgeel met ‘n tikkie donkergroen. Parys is alle skakerings van grys, met swart en blinknat strate. Amsterdam is bruin met hier en daar ‘n uitbundige mengelmoes van helder vrolike kleure. England is soos die bekende liedjie sê: Forty shades of green, met statige grougrys geboue. Ek kan met die lysie aangaan en aangaan. So beland ek vir die eerste maal in my lewe in Australie en my brein begin dadelik met kleurassosiasie. My Wes-Australiese prentjie is tans ‘n mengsel van bloedrooi sand en vaalgroen plantegroei na die binneland se kant toe. En hier teen die seekant is dit turkoois met wit. Hier draai byna alles om die see, veral in die somer, maar vir die ernstige surfers sommer in die winter ook. 

So kom dié Suidwester na ‘n land waar alles om die see draai. Nou kyk, my kennis van die see en sy inwoners is beperk tot ‘n paar maal se Henties vakansies. Boonop is die Suidwes seewater so koud, dat dit heelwat beter is om op die strand rond te sit as om jou toon in die water te sit, wat nog te sê van jou lyf nat te maak. My kennis oor die see se inwoners is ook uiters beperk, tot ‘n visvangkompetisie wat ek eenmaal bygewoon het. Ek het blinklywe gesien, maar weet nie wie is wie nie. As jy egter so naby aan die see bly, soos ons die afgelope 18 maande, begin jy onwillekeurig wonder wat alles in daardie pragtige turkoois waters woon. So kry ons nou die dag die geleentheid om die Wes-Australiese Akwarium in Perth te besoek. Dit het my oë bietjie oopgemaak vir die wonderwêreld in die see. Ek gaan probeer om hierdie ervaring met die leser te deel.

Dertien April 1988 open Underwater World Perth, sy deure vir die publiek. Dis ‘n akwarium met, op daardie stadium, slegs twee uitstallings. Een van die uitstallings is, vrylik vertaal, die Voel Poel. (Nee, nee nie ‘n jacuzzi nieJ Die Voel Poel is ‘n vlakkerige poeletjie, met verskeie seediere waaraan die besoekers mag raak. Soos rotspoeletjies langs die see.) In 1991 verander die akwarium van eienaar en die nuwe eienaars verander toe die naam na WA Aquarium, soos dit vandag nog bekend staan.

Vandag kan jy meer as 400 spesies van die seelewe, wat jy teen die 12 000km lange kuslyn van Australie kry, daar te siene kry. Daar is 40 verskillende uitstallings met oor die 4 000 visse in altesaam 4 miljoen liter water. Die omvang van die akwarium is dus heel indrukwekkend en dek ‘n wye verskeidenheid van die seelewe. Dis basies in 5 afdelings ingedeel, wat elkeen sy eie deel van die kuslyn verteenwoordig. In elke afdeling is nie net die seediere van daardie streek te sien nie, maar ook hul hele habitat. Dis ingedeel in die volgende 5 afdelings: Great Southern, Shipwreck Coast, Perth Coast, Far North and Marmion Marine Park.

Die grootste van die uitstallings is natuurlik die Shipwreck Coast. Daar stap jy deur ‘n indrukwekkende onderwater akrieltonnel, wat 40m lank en 20m wyd is. Eens in daardie tonnel is jy omring van 3 miljoen liter seewater, 13 haaie, waarvan die ‘grey nurse sharks’ tussen 3 en 4m lank is. Daar is ook groot loggerhead sea turtles wat lui-lui oor jou kop swem.  Daar is heelwat pylsterte, seekatte, nog heelwat ander soorte haaie en visse.

In die Marmion Marine Park afdeling is daar die mooiste korale waaraan mens kan dink. Kompleet met skole veelkleurige vissies wat deur hul vleg. Wat baie interessant was, is dat daar vergrootglase teen die tenk se ruite is. Met die blote oog lyk baie van die korale soos veelkleurige klippe of rotse, maar kyk jy deur die vergrootglas sien jy hoe hul beweeg en hul ‘spre’afskei. Dis ook dan wanneer mens verstaan waarom korale so bedreig word, veral deur besoedeling. 

Die Far North afdeling word ook die Danger Zone afdeling genoem. Met reg en rede ook. Hier kan jy van die giftigste seediere te wêreld te  siene kry. En glo my, vir my ongeoefde woestynoog lyk hul na heel onskadelik vredeliewende seediertjies. Niks monsteragtig nie. Geensins. Maar gaan lees maar oor hulle en jy sal hul volgende keer met ander oë na hul kyk. (Hopelik in ‘n akwarium…). Daar kan jy onder meer die Stonefish, Sea Snake (hul is wel baie lelik), Black Tip Sharks, Port Jackson Sharks, Lion Fish  en Cone Shells sien. Die Lion fish is ‘n kleinerige, rooi, wit, room, en swart gestreepte vis met lang ‘fin rays’. Hierdie ‘fin rays’ is baie giftig. Die Stonefish is een van die giftigste visse ter wêreld en kan dood by mense ook veroorsaak. Omdat hierdie vis tot 24 uur buite die water kan leef, gebeur dit baie dat slagoffers hul nie tussen die rotse of korale sien nie en op hul trap. Dus is daar baie gevalle van Stonefish steke wat buite die water plaasvind. En dan sal die Far North ook nie die Far North wees sonder ‘n paar krokodille nie. Hoewel dit kleintjies is, is daar 3 krokkedilletjies ook te sien. Die gids sê egter dat hul weer teruggevat word as hul groter word, want hul raak te aggressief.

Stap jy nou na die uitstallings aan die buitekant van die akwarium, sal jy onder meer die Sting Ray Bay kan sien. Pylsterte kan tot 4m in deursnee raak. Dié wat daar te siene was, was wel nie heeltemal so groot nie. Tog was daar ‘n paar grootes (in ag geneem dat hul in aanhouding is) te sien. Die interessant om hul dop te hou en te sien hoe hul na die oppervlak kom en half bo-op die water swem, net om hulself nou net in die sand te begrawe. Lelike goed dié.

So het ons ‘n blitstoer deur die mooi, maar ook gevaarlik turkoois waters van Australië gevat. Hoewel dit my nie regtig uit die see sal hou nie,  want teen 43 grade smelt my brein en kan ek nie meer onthou wat ‘n haai nou eintlik is nie, sal ek van nou af die see met die nodige respek aandurf. En ek sal ‘n besoek aan die koraalriwwe of my ‘bucket list’ byvoeg. Dis inderdaad ‘The Serengeti of the Seas’.
Korale kompleet met die veelkleurige visse wat daardeur swem

Die onderwatertonnel


DALGARANGA
Padpredikant
Vat jy die pad uit Geraldton na die noord-ooste, ry jy deur die ‘n kleine deeltjie van die hartland van die sogenaamde ‘Outback’. Geen 100km van Geraldton begroet die eerste rooi sand en droeë plantegroei jou. Nog ‘n paar kilo’s verder en dis net rooi en droog sover soos die oog kan sien. Stil wye uitgestrekte paaie, is plek-plek net uitkenbaar aan die padbordjies wat weerskant van die pad geplant is, sodat ‘n eensame reisiger nie die pad byster raak nie. Was dit nie vir die bordjies nie, was dit maar net nog ‘n vlakte gewees. Die landskap is oor die algemeen platterige, met hier en daar ‘n kop of reeks rante, wat die Aussies ‘break aways’ noem. Soms kruis die pad ‘n seisoenale rivier waarin moeë bloekoms hangblaar staan. Kol-kol word die sanderige dele afgewissel met dorre kliprante en oral sal jy die staal geraamtes van vroeër jare se boerdery- en myngereedskap te siene kry. Stille getuies van voorspoed wat eens was.
Dis ‘n harde ongenaakbare wêreld dié. Tog hou hierdie deel vir my ‘n groot bekoring in en wanneer die geleentheid hom voordoen vat ons die rooi stofpad. Ons het eenmaal regtig vir twee dae lank gery sonder om ‘n ander mens of voertuig te sien. Al hoekom ons wel teen die derde dag iemand anders gesien het, was omdat ons na die beskawing teruggekeer het. Mens kan kwalik deur hierdie klein plattelandse dorpies en tussen die stations ry, sonder om oor die geskiedenis te wonder. Sien jy die harde droeë land waar die kwik somertye gereeld in die middel veertigs kuier, wonder jy watter oppurtinis die eerste maal hier ‘n lewe begin maak het? Wat het hom juis hiernatoe laat kom en hoe het hy reggekom? Waarvan het hulle geleef? Wat was hul lief en leed? Ja, die vrae maal deur jou kop en kort voor lank loop die stories. Vandag wil ek ‘n station storie met julle deel.
Dalgaranga is ‘n medium grootte eiendom en is sowat 250km noord-oos vanaf Geraldton, in die Yalgoo Shire geleë. Hierdie eiendom is ‘n skrale 102 000 hektaar groot en behoort die laaste paar jaar aan die Department of Park and Wildlife.  Voor dit, was dit egter ‘n aktiewe plaas, met ‘n groot skaapboerdery en alles wat daarmee gepaard gaan. In 1878 neem A.G Lacy die  pastoral lease vir die eerste vier blokke op. Die eerste jare is moeilik sonder enige infrakstruktuur. So ‘n paar jaar later raak dit weer Kroongrond. In 1908 neem twee boere van die Morowa distrik weer die lease op. Die pastoral lease, wat in die name van JJ Keefe en FJ McGuiness geregistreer was, is 10 blokke en die grootte van die eiendom soos ons dit vandag ken.
In 1910 verwissel die lease weer hande. Hierdie keer koop A.R Richardson dit en registeer dit in die naam Dalgaranga Pty. In 1911 begin ene Wellard, sy susterskind, by hom werk en teen 1915 is hy die bestuurder. Dis dan ook onder sy bestuur, wat die grootste infrastruktuur tot stand gekom het. Toe hy aanvanklik op die station gekom het, het hy in ‘n hut by White Water Well gewoon. Laasgenoemde was ‘n bekende oorstaan punt vir transportryers of die ou Cue pad. In hierdie tyd bou hy die station op. Hy bou ‘n homestead, skeerskuur,  span drade en grawe putte.
 Vanaf 1917 – 1919 pak hy die enorme taak aan om ‘n dam te bou. Hierdie was ‘n baie groot taak en sou selfs met vandag se masjiene ‘n groot projek gewees het. Hy besluit om die dam op die granietrantjie agter die huis te bou. Die sement word met Tom Seaman se wa en donkies van Yalgoo af aangery en die granietklippe waarmee die wal gebou word, word uit die rantjie gekap. Die boumateriaal word met ‘n slee wat deur donkies getrek word, teen die rantjie uitgekarwei. Die dam se wal is 1.5m dik en 3.6m hoog. Wanneer dit vol was, het dit 2 250 kiloliter water gevat. In die dorre Outback was die dam net twee maal in sy leeftyd van 44 jaar vol gewees. Die laaste keer was in Julie 1963. Onverwagse buie oor die groot opvangsgebiede het verskeie riviere in vloed gehad. Daar was dus oral in die Yalgoo distrik vloede en Dalgaranga se dam het vinnig volgeloop. Boonop het ‘n sterk wind gewaai en die golwe van die water het teen die wal ‘gedruk’.  In die middel van die nag breek die damwal. Die water sleur meer as 25m van die wal saam. Bome, heinings en diere wat in die pad van die water was word saamgesleur. Die water kom tot by die homestead.
Terug na die boerdery aktiwiteite. In 1917 boer hul met 14 000 skaap op Dalgaranga. Uit die rekords blyk dat dit goeie reënjare was en teen die middel twintigs is daar tot 22 000 skaap op dié station. Net hierna breek die depressiejare aan. Net soos wat in Suid-Afrika die geval was, was dit ook maar hier. Heelwat mense is daardie tyd uit hul grond uit. Richardson en Wellard byt vas tot en met 1943 wat hulle die station aan Cyril Ross verkoop. Ross se een seun Russell en sy vrou Roma gaan woon op die station totdat Parks and Wildlife dit koop. Russell en Roma was baie aktief in die gemeenskap. Hy het op verskeie rade gedien nl: Nursing Post, Shire of Yalgoo, Yalgoo Hockey Club ens. Roma was ‘n tuisteskepper, wat ook hul kinders tuisonderrig gegee het. Sy was ook baie aktief by die Childrens and Parents Home Schooling Association  betrokke. Boonop het Roma ‘n lushof van ‘n tuin in die woestyn gehad. Vandag is daar nie meer veel van die beroemde tuin te siene nie.
Daar is twee ander bekende kenmerke wat ook vermelding verdien as ons van Dalgaranga praat. Die eerste is Dalgaranga Hill, ‘n lostaande koppie 650m bo seevlak, wat letterlik bo die kaal vlaktes uittroon. Hierdie was van die vroegste tye af ‘n baie bekende landmark en was dan ook deur die eerste landmeters as trigpunt gebruik. Die tweede kenmerk is die Dalgaranga krater. Hierdie is ‘n kleinerige krater, ongeveer 21m in deursnee en 3m diep. In 1967 is hier ‘n buitelug museum opgerig.
Laaste maar nie die minste, wat vermelding verdien, is die Dalgaranga myn. Twee Abbo broers Dan en Don Todd ontdek in die rantjies  om die homestead beryl terwyl hul een dag bokke bymekaar maak om aan die plaaslike winkelier te verkoop. Gou-gou neem een of ander myn maatskappy die regte oor en myn aktief vir die volgende 20 jaar.
 Vandag is ‘n groot gat in die grond die enigste getuie van wat eens myn was. Gebarste  sementakkertjies op die werf is die enigste getuies van wat jare gelede Roma se spogtuin was. ‘n Ent verder skree die geraamte van die groot skeerskuur stil sy storie van die goeie woljare uit. Ja, op die oog af is dit net nog ‘n werf. Kyk jy egter fyn, sien jy die stories van voortuigang en ook swaarkry. Van drome teenoor realiteit. Van oorblyfsels waaroor die westewinde rooi bollings stof waai.  In die verte swyg Dalgaranga hill…
Die oorblyfsels van die damwal
 
'n Myn gat daar êrens op die vlak
 
 

 

 

 

 

 

 

 

MEER AS NET ‘N KWILT Vandat ek kon onthou was kwilts, of soos dit in die volksmond bekend staan, lappieskomberse deel van my lewe. Me...