Thursday 5 December 2013

OUPA COEN SE SêGOED


Hierdie is ‘n stukkie wat ek lankal wou skryf, maar dit het nog altyd agtergebly. Dit sluit bietjie aan by my laaste skryfseltjie, waarin ek ons taal besing het en tog het hierdie een het so ‘n bietjie meer van ‘n persoonlike kleur.

Ek het nou maar eenmaal ‘n sagte plekkie vir Afrikaans en dit sal seker maar altyd so wees. Daar is baie fasette waarin Afrikaans vir my uitstaan, waarop ek nie nou gaan ingaan nie. Maar een van die besondere dinge is verseker die spreekwoorde. Daar is erkende spreekwoorde en dan dié wat in ‘n streek of familie gebruik word. Dis gewoonlik laasgenoemde wat kosbaar is, maar ongelukkig deur generasies heen verlore raak. Spreekwoorde, vergelykings of sommer maar net sêgoed, maak enige gesprek kleurryk. Boonop is dit soveel makliker om jouself uit te druk as jy hierdie taaljuweeltjies kan gebruik.

In hierdie stukkie wil ek graag ‘n paar sêgoed van oupa Coen met julle deel. Sommige is nie vir sensitiewe lesers of taal puriste nie, maar is nou maar eenmaal beskrywende en leef steeds voort in ons huis. So, lees, geniet en knyp maar die oë toe as jy dit nie wil sien nie.

Wanneer Geitjie en Koggelmander by ‘n plek byeen is, is daar min of meer iets van alles wat soortvan dieselfde lyk, maar eintlik baie verskil, daar bymekaar.  Dis baie beskrywende en jy kan baie sê, sonder om te veel te sê of enigsins aanstoot te gee.

Wanneer mense of kinders soos dors bees is, is ‘n situasie wat die leser hom- of haarself kan indink. Wanneer beeste afkom water toe en dors genoeg is, moet jy nie tussen hul en die water kom nie. Hul ontsien niks of niemand, storm water toe en trap als wat voorkom. Hul maal om daardie krip, dat jy die stofwolk van ver af kan sien. So as iemand soos ‘n dors bees is, is hy op sy missie en ontsien niks of niemand.

Wanneer jy nie betyds vir ‘n geleentheid of afspraak opgedaag het nie, het jy gewoonlik weggelê soos ‘n bieslammetjie in die bossies. Dié van julle wat al ‘n pasgebore lammetjie met ‘n pensie vol bies gesien het, sal presies verstaan. As daardie lammetjie dik gedrink is, soek hy net ‘n lêplekkie onder die naaste bos. Dan kan hoor en sien vergaan, sy ma kan blêr, boer kan soek en selfs oom Jakkals en ant Bobbejaan kan ‘n draai maak, maar lam se kind sal slaap. Daar is net een ding wat hom sal wakker kry en dis as sy magie weer begin dun raak. So as jy weggelê het soos ‘n bieslammetjie in die bossies, beteken dit jy het weggebly sonder enige verskoning of verduideliking.

Wanneer iemand soos ‘n blaar in die wind is, is hy vandag hier en more daar. Hy gaan bloot waar die lewe hom vat en bekommer hom nie veel oor die dag van more nie. Net soos ‘n droë blaartjie in die wind.

Hier is my gunsteling sêding en persoonlik dink ek dis baie beskrywend. Wanneer iets op genade sit, het oupa altyd gesê daardie ding hang aan sy ooghare. Nou ja, liewe leser, jy kan jou indink hoe seker jou hang is as jy aan jou ooghare hang. Dis maar ‘n erg onseker hang daai en tog hang dit so op ‘n manier.

Wanneer iemand so ongewild is soos die kat wat in die spens gepis het, is hy BAIE ongewild.  Kom ek verduidelik vir die gelukkiges wat nog nooit met ‘n ongeskikte kat te doene gehad het nie. In die eerste plek, kom ons noem dit nou maar by die naam, ken ons almal katpiepie. Jy ruik dit gewoonlik lank voordat jy dit sien. So dan loop jy ruik-ruik deur die huis om DIE KOL te prober opspoor. Indien jy gelukkig genoeg is om dit op te spoor, kry jy dit vir niks en met niks skoon nie. Of dalk kry jy dit skoon, maar daardie reuk bly! Geen skoonmaakmiddel of boereraat help nie. En selfs al is die reuk meer leefbaar moet jy liefs nie te vinnig bly raak nie., want wanneer die eerste onweer in die lug is, is DIE REUK terug. So, die reuk deel is uiters onsmaaklik en ongewild en, dink jou nou net in, dan is dit nog in die spens ook…

Wanneer iemand hoed vasdruk, beteken dit dat hy rieme neerlê. In gewone Akrikaans: hy hardloop. Nou, jy kan hoed vasdruk oor verskeie redes. Oupa het immers ook altyd gesê dat ‘n mens baie vinnig kan wees, hang net af wie sy drywer is. As kinders moes ons hoed vasdruk as ons kwaadgedoen het en oupa dit agter gekom het. Daardie kosbare minute tussen agterkom en plak gaan haal, het ons gewoonlik hoed vasgedruk.  Ek gaan dus afsluit met ‘n hoed vasdruk staaltjie. (Ek dink die grootmense het in idiome gepraat, nie noodwendig om ons te leer nie, maar eerder omdat hulle nie so vinnig soos ons kon hardloop nie.)

Een goeie dag sit ek en Coenie doodonskuldig onder die prosopisboom en speel. Ek dink amper ons albei was nog voorskool, ek definitief. Dis somer en baie warm op ons Suidwesplaas. Al wat hoorbaar is, is die gezoem van die heuningbye wat stuifmeel in die prosopisbome versamel. Pa kom van die groot tuin se kant af huis toe, haal sy hoed af en so in die verbygaan sê hy: “Ek het ‘n appeltjie met julle twee te skil.” Ek is dadelik vreeslik opgewonde, pa gaan vir ons appels skil! Inderdaad nie iets wat elke dag gebeur nie. (Eintlik sê hulle ons moet die skille eet, dis waarin die voedingswaarde is ens.)  Coenie wat ouer en meer geletterd was, het dadelik die impak hiervan besef en voorgestel dat ons moet hoed vasdruk. Wat ons toe ook gedoen het. Op daardie stadium het ek hom net gevolg, want hoewel ek nie geweet het wat pa nou regtig gesê het nie, het daardie baie betroubare sesde sintuig van ‘n kind ingeskop. Om ‘n lang storie kort te maak, vat ons die pad, veld in. (In daardie kosbare minute wat pa in die huis ingaan om die Rooi Riem te gaan haal.) Teen die tyd wat ons weer huis toe gekom het, was pa nie meer kwaad nie en ons het toe nooit pak gekry nie.

Waaroor? Baie jare later vra ek eendag vir pa, waaroor hy ons daardie dag wou pakgee en of hy dit nog onthou, want met die weghardloop het ons nooit by die oortreding uitgekom nie. Daar was nie tyd nie en na die tyd praat jy ook nie onnodig daaroor nie, want nou net onthou pa weer. Ja, sê hy hy onthou dit baie goed. Hy het blykbaar die dag van die tuin af huis toe gestap. Die groot groentetuin was so 800m van die huis af. Daar is ‘n dam en windpomp, maar daar is ook ‘n pypleiding van die huis se dam af. Dis so ‘n swart plastiekpyp en wanneer daar te min water in die onderste dam is, pomp ons uit die boonste dam water.  Ek, met die beste bedoelings op aarde, het ‘n pendoring gevat en klomp gaatjies in die pyp gesteek. Sodat Maja die By kan water hê! So toe pa die middag huis toe kom, sien hy net die boeë water staan. Later jare, toe die gaatjies al ouds toegekalk is en ek verstaan het wat ‘appeltjie skil’ beteken, het ek hom toe van Maja vertel. En so kry ons nou nog snaaks daaroor. 

So-by-so is dit blykbaar net Suidwesters wat snaaks kry oor iets.  Ek sal nie weet nie, maar wat ek wel weet. Sodra jy so-by-so sê, weet die mense presies waarvandaan jy kom.  Blykbaar is dit ook net Suidwesters wat die woord onsmaaklik as beskrywing vir alles behalwe kos bebruik. Vir Suidwesters is die weer, die buurman, die hond se middernagtelike geblaf, die liedjie oor die radio ens, onsmaaklik.

Wel, ons het ‘n unieke land. Dan is dit seker niks minder as reg om unieke taaljuweeltjies ook te hê nie?

 

Thursday 28 November 2013

AFRIKAANS


Dis die ontasbare dinge in die lewe, wat vir ons as mense onaantasbaar is. Anders gestel, dit waaraan mens nie kan vat nie, is ook die goed waaraan ander nie moet karring nie. Goed soos godsdiens, taal, kultuur en sentimentele dinge. Dis die dinge waaroor mense driftig raak, waaroor daar kwaaivriendskappe en ons-praat-nooit-weer-met-mekaar-gevoelens kom. Hierdie goed was ook al sovele male, direk of indirek, die oorsaak van oorlog.

Hoekom? Is dit omdat hierdie sake ons regtig na aan die hart lê? Omdat dit regtig uitdrukking gee aan wie ons werklik is? Waar ons vandaan kom en waarheen ons oppad is? Anders as materiele dinge wat ‘n statussimbool is, is hierdie sake die boustene van ons menswees. Dit is wie ons is. Die grense van bloed is myns insiens baie sterker as wat enige geografiese grens ooit sal wees.
Oor die eeue heen het die mens die oseane bevaar en kontinente bewandel. Hoewel dit deesdae baie makliker en vinniger is as toe, het niks verander nie. Soos ‘n malende trop damara ooie, was hul altyd oppad. Party het bloot die voorste ooi gevolg, oppad na êrens. Ander die veewagter wat hul water toe gelei het. Dan was daar altyd die een wat afgedwaal het. Maar beweeg het die klomp beweeg.  Vandag is dit soveel makliker en geografiese grense beteken nie meer veel nie. Dit is bloot geografiese grense, want tegnologie maak alles een. Dus is die migrasie van een land na ‘n ander bloot ‘n paspoort en soms ‘n visa ver. Soos ‘n swerm swaeltjies, kruis ons gereeld die oseane. Altyd oppad.
Behalwe jou menswees, dit kan tegnologie nie verander nie. Sake wat vir oupa en ouma na aan die hart gelê het, lê maar steeds na aan ons harte ook. Die maanlanding, IPhone’s, Kindle’s, kerntegnologie of boeings het niks verander nie. Toenterjare was daar, tydens politieke- kerk- en skoolvergaderings, vurige debatte oor godsdiens, taal en kultuur. Vir daardie mense, was die wêreld moontlik so groot soos sy plaas of land, maar hy het geweet wat vir hom belangrik is. In my skoolgaanjare, was taal een van die grootste besprekingspunte op die skoolvergaderings. Vir menige boere was engelse bloot die taal van die Anti-Chris. En sovele vergaderings was dié ongenotuleerde punt driftig bespreek. Hoekom? Omdat hierdie dinge in ons siele gewortel is. Die oomblik as dit bedreig word of ons voel dit word bedreig, het ons die onwillekeurige aanvalsreaksie. Vandag klink die betrokke vergaderings nie veel anders nie. Hierdie dinge is steeds vir ons belangrik. Baklei-belangrik en hartseer-sentimenteel.
Ekself is deesdae deel van die swaeltjie-brigade, wat huis en haard verlaat het om vir eers nes te skrop in ‘n vreemde land. Dit bring noodwendig veranderinge mee. Die taal was een van die verandering wat maar vir my swaar was. Nie omdat ek ewe skielik ‘n ander taal moet praat nie. Nee, eerder omdat ek so lief is vir my grootwordtaal. Dit bly nou maar eenmaal die taal waarin ek my gevoelens wil uitdruk. Die taal wat so lekker op die tong lê en die die taal wat ek wil besig, as ek my vinger in die deur vasgeslaan het. Die taal waarin ek wil lag, wil huil, wil lief hê en kwaad word. Dis so deel van my, dat ek nie regtig weet waar die ophou en ek begin nie. Dis wie ek is.
Nou’s ek in ‘n vreemde land en moet noodwendig ‘n ander taal praat. Ek moet, want as vreemdeling in Jerusalem, is dit nou maar eenmaal die manier om te kommunikeer. En kommunikeer moet jy kommunikeer. As jy in Rome is maak jy soos die Romeine.
Maar dit, lede van die swaeltjie-brigade, moet jou nooit verhoed om jou eie taal te troetel soos ‘n kosbare kleinood. Om dit gereeld af te stof, blink en vryf en te laat hoor nie. Om dit uit te stal. Om dit op papier neer te sit en jou te baai in die bekendheid van die woorde. Om jou toe te draai in beskrywende idiome en ‘n pinakoteek van beelde met woorde op te vorm. Jou taal is ‘n groter deel van jou as wat jy besef of (wil) erken.
En dit, liewe leser, sê vir my dat ‘n taal ‘n manier van kommunikasie is. (So, maak maar soos die Romeine as jy in Rome is.) Dat my taal, Afrikaans is. Dit sal so bly want dis ‘n lewende taal. Hierdie gedagte laat ‘n warm behaaglike kolletjie op my maag, amper soos wanneer jy ‘n stukkie van die son gesluk het. Of soos herinnering aan winter in Suidwes , boertroos of oorgens-Kalahari-kuiers....

'N NAAM

Al ooit mooi oor jou naam gedink? Nou nie die feit dat jy vernoem is na ouma die of tante daai nie. Of die feit dat jy nou die soveelste generasie is wat Maria, Wilhelmina, Petronella, Susanna is nie. Nee, eerder analities en die ou paadjie wat jul noodgedwonge saam moet stap. Wel, ek het nou die dag.  So broei daar toe, op ‘n gewone Dinsdagnamiddag tussen ‘n klomp syfers in ‘n vaal rekenmeesterskantoor, ‘n storie in my kop uit. Ja iets het aanleiding daartoe gegee en daarby kom ek later. Nou ja, onthou my goue reël in die lewe: stories moet geskryf word.

Nou ja ek is Marlize. Net dit. Gedoop, geregistreer en getjap. Geen afkortings, verkleinwoordjies, troetelnaampies nie. Geen Sprinkaanvlerkie of Springbokpensie nie. (Nou gaan ek myself in die rede val. Afrikaanse is nou maar net ‘n lekker taal. Hoe op dees aarde sê jy nou vir iemand in engels. Jy is my ou Erdvarksnoetjie? Onmoontlik.) Terug by die onderwerp so ek is net, Marlize.  Kort, bondig. Finish en klaar. Al die jare tot en met nou, was my naam maar net my naam. Ek het nie eers altyd ag geslaan daarop nie. Tog was daar hier en daar kere wat ek wel, daarop ag geslaan het, om verskeie uiteenlopende redes.
In my Sub-A jaar was ek natuurlik baie dankbaar dat my naam so kort was en boonop feitlik geen pensie-letters gehad het nie.  As ek verby die rondings van die a en die e gekyk het, was die res net stokkies-letters. Maklik en reguit. (Ja, ek was in die Sub-tyd in die skool. Genadiglik is vandag se kinders in die grade-tyd in die skool, anders sou hul defnitief nie hul fênsie saamgestelde name so vinnig geleer skryf het nie!) Toe die ander kinders in die klas nog swoeg met die lange ingewikkelde Sussarra’s, Wilhelmiena’s, Petronella’s ensovoorts het ek al my naam onder die knie gehad. As bonus het die z my naam baie belangrik laat lyk. Vir my in elk geval. Niemand anders se name het daardie letter gehad nie, want liewe leser, jy moet in ag neem dat dit voor die tye was, waarin ouers hul kinder se name agter uit Die Huisgenoot, gekies het. In vandag se Uit-Die-Huisgenoot-en-Van-Die-Internet-name, kry jy die vreemdste letters en konkoksie-samestellings. Met, as die spreekwoordelike kersie op die koek, deeltekens kolletjies en kappies net om dit af te rond of dalk meer belangrik te laat lyk. Geen mens weet regtig hoe om dit uit te spreek of wat dit beteken nie, net die ma. En seker ook net die dag wat sy dit uitgedink het. “Sussie, jou naam is die eerste letterr van Pappa se derde naam, die agste letter van ta’Breggie se naam, want dalk onthou sy jou hieroor in haar testament, die laaste lettergreep het ons uit die Huisgenoot gekry en die agtervoegsel is Tom Cruise en Demi, wat al intussen geskei is, se tweede kind se middelste deel van haar naam.” ’n Mondvol Sussie. Ek hoop jy onthou dit.  Sterkte Sussie, die tussenin tyd van jou lewe is dit gangbaar, maar onthou jy moet dit iewers leer skryf en dan moet jy dit ook onthou  - al is jy tagtig!

 

Toe ek 16 word, was ek net so bly dat ek ‘n redelike kort en eenvoudige naam het.  Wanneer jy 16 word, doen jy aansoek vir ‘n Identiteits dokument en dit in ‘n land wat pas onafhanklik geword het. ‘n Land met ‘n spik-splintenuwe regering in die kussings wat nuwe wette na willekeur uitdink sonder om aan die uitvoerbaarheid aandag te gee. Nou ja, dit alleen spreek van ‘n moontlike ramp, wat dit ook in baie gevalle was. Dit was eintlik choas, want daar kon ‘n halwe honderd goed op daardie I.D. kaart verkeerd gegaan het. Die feit dat ek net een, maklike en boonop duidelik vroulike naam gehad het, het die deure vir heelwat verwarring toegeklap.  Dankie tog! My I.D was met die eerste aansoek reg en tot vandag toe waak ek ooe daardie kaartjie soos die duiwel oor ‘n vroom siel! Weereens dankie aan my ouers wat my nie 4 saamgestelde name, besaai en getooi met kolletjies en koppeltekens, gegee het nie, Dis sou eenmaal te veel gewees het vir die Namibiese regering en later jare, vir my Aussie kollegas…

 

So loop ek toe soos almal, verder op die lewenspaadjie wat op hierdie stadium in Aus draai. Dis dan ook net hier wat dinge interessant raak. Nou ja, net soos die Engelse, sê die Aussies nie graag ‘n ‘r’nie. Hul vermy dit soos pes. So ek was skaars ‘n week hier, toe het Marlize van vorm en klank verander. (Darem nog herkenbaar). Dié torie broei toe uit na aanleiding van my kollega se Aus-Maleisies uitspraak van my naam.Nou ek werk tans in ‘n kantoor met verskeie nasionaliteit, aksente en uitsprake. En dis waar dinge interessant raakJ

 

So om ‘n lang storie kort te maak. My naam,uitgespreek met ‘n Aus-Maleisiese aksent is: Maaali (Jip amper soos die staat in Afrika maar met ‘n langer aa klank.) In Aus-Iers is dit is soos Marly. ‘n Vinnige klank met klem op die a en ‘n vae ‘r’is wel te hore. In Aussie is dit Marley. Soos die fliek van daardie verskriklike stout hond, onthou jul? Die ‘r’word nie regtig uitgespreek nie, maar is darem daar. In Kanadees, met ‘n sterk Vancouver aksent is die mARlize. Met die a heeltemal oorrond en die R word gerol en baie DUIDELIK uitgesprrrrrreek. Maar alles steeds herkenbaar. In Engels is die Maly, deur die neus uitgespreek. Sag en waardig soos net die Engelse dit kan doen. In een of ander Noord-Afrika aksent is dit iets soos:  Ma (dan raak alle klanke verlore) i. Daar is ten minste nie ‘n klik of ‘n klak in nie. Dit kon //Mariesa gewees of Steenboktongetjie…

Baie groete uit Annerland.

M

            A

                        r

                                    L

                                                I

                                    Z

                        E…….

Friday 27 September 2013

OP WIEKE VAN WESTEWINDE (Opgedra aan my ouers en skoonouers)

Nou die dag vra my skoonma my of ons emosioneel net oorleef en of ons darem lééf hier in Annerland? Goeie vraag en dit sit my toe aan die dink.

My bestaan, van vroeg af, is nou verweef met die weste en tot nou toe het dit nog nie verander nie. Die Weste en meer spesifiek, die dorre weste (van enige land) blyk nou maar eenmaal ‘n belangrike rol in my lewe, te speel.  Dié fyn goue draad is alom teenwoordig. Dié gedagte het nou die dag by my opgekom terwyl ek staan en skottelgoed was hier in my Annerland huisie. My kombuisvenster uitsig is maar beperk.  ‘n Staalmuur (die Aussie glo in staalmure), agterstoepie en afdak vorm die grootste gedeelte van die uitsig. Regs is ‘n klein bedding, waarin twee palms en ‘n slakgevrete kruisement moedig probeer groei. ‘n Strepie blou lug en bietjie van die buurman se wasgoed op sy wasgoeddraad, rond die verbeeldinglose prentjie af. Dié dat my gedagtes hul eie loop neem. Ek sit eers die weste-gedagte uit my kop, maar dit spring net weer op. Dan tussen die seepborrels in die wasbak en nou-net weer tussen die kruisementblare. Ek druk dit weer weg, maar hul systap my en spring tussen die pietersielie op die vensterbank uit. Ek gee op en soos dit maar in my lewe gaan, skryf ek 'n storie daaroor...
Waar jy grootword is ‘n gegewe en nie iets waaroor jy beheer het nie. Tog is dit jou vormingsjare en ek glo dat dit ‘n rol speel in wie jy is en hoe jy die lewe sien. Ek het in die suidwestelik deel van Suidwes op ‘n plaas grootgeword.’n Pragtige, maar ook barre, grootwordplek.  Ek onthou die mooi groen reëntye, die goue wintersgras en die helderste herinnering is die van die westewinde. Ja, hoewel jy op daardie stadium van jou lewe nog nie veel van rigtings of weer verstaan nie, was hierdie een van my eerste bewuswordinge van die dorre weste. Daardie Augustus-winde wat soms dae aanmekaar sulke rooi stofbollings waai wat oral indring. Dit waai drade toe en windpompe flenters. Dit loei om die huis se hoeke en binne is als met ‘n fyn lagie stof bedek (al is dit net die oggend skoongemaak) en buite buig die dennebome laag in die wind. Soggens beur die karakoelooie moedig teen die wind, rant uit om te gaan wei. Saans as hul streep-streep teen die rant afkom, waai die wind steeds en is die poeiergetrapte kraalwerf net een groot  rooi stofwolk.  Dit waai en waai en waai. Sonder ophou en selfs op ‘n jong ouderdom, onthou ek hoe weemoedig dit my altyd gestem het. Na so ‘n winderige dag, was die son gewoonlik ‘n rooi vuurbal teen die tyd wat dit in die weste gesak het. 
Vir die grootste deel van my skooljare, word die suidelike deel van Suidwes deur ‘n ernstige droogte geteister. Die oostelike dele lê in ‘n effe hoër reënval gebied en het sagter veld, dus is die droogte nie so fel nie. By ons is dit wat die woord sê: droogte. In die volle sin van die woord. Die veld is rooi en die diere maer. Later in die droogte begin die wild vrek en pa huur oral veld om ‘n kernkudde te probeer deurdra tot die volgende reëntyd. Augustus-winde in die droogte is selfs erger. Dan is daar nie veel grondbedekking nie en die stofvlae waai daelank oor die velde. Mistroostig. Die droë warm wind tap die laaste bietjie lewe en vog uit mens en dier. Ons moed is laag, die plaas lelik en rooi. Die water, op sommige plekke, min. Ek begin die weste verpes. Vir my is dit sinoniem met swaarkry , droogte, dooie diere en rooi stofwolke. Dis sinoniem met wanhoop en moedeloosheid. ‘n Groter mag, waarteen elke mens  volkome weerloos staan. 
Die jare stap aan. Onbepland en vinnig koop my pa teen die einde van my skoolloopbaan die bakkery op die dorp. Ek begin glo dat dinge nou beter sal loop, want die dorp is ten minste oos van die plaas. Tog is die bakkery in die westelik deel van die dorp geleë. Die westelike deel van Mariental is dan ook die deel wat, in uitsonderlike reënjare vloed. Gelukkig is die klem op uitsonderlik en dis iets wat nog net eenkeer in die dorpie se bestaan gebeur het. So dit pla ons nie te veel nie. Met moed en ywer spring ons in om hierdie besigheid op te tel. Ons werk en werk en ongesiens glip ‘n paar jaar verby.  Wel…  ‘n Paar uitsonderlike reënjare breek die jarelange droogte en drie vloede later, is ons weer moedeloos.  Hierdie keer, modder-moedeloos. Die water is deur die bakkery en met die laaste vloed is al die masjiene en oonde daarmee heen.  Die weste bly maar sy rugkant na ons draai. Die weste brei jou, dit tap jou, maar die lewe gaan aan en Mariental staan op uit die modder. Ons ook.
Vir die volgende paar jaar bly ek steeds in die (ge)weste en leer lief raak vir die deel van die land. Die mense in vriendelik, die natuur hard maar mooi. Ek begin die mooi in ons deel van die land raaksien en waardeer. Ek waardeer elke oomblik daarvan en ag myself baie gelukkig om juis hier groot te geword het. Hier waar jy van jongs af, alle fasette van die lewe gesien het. Hier waar jy geleer het om na die stilte te luister en dit te waardeer, waar reën altyd ‘n hoogtepunt is en groen altyd mooi sal bly. Hier waar die son die lewe uit die aarde kan bak, waar die boomwortels diep in die dorre aarde indring op soek na ‘n bietjie vog en waar sonbesies jou moedeloos kan skree. Hier word mens weer een met jou Skepper.
Nog ‘n paar jaar later, gebeur dit dat die lewe se westewinde my, soos ‘n blikhaarsaadjie,  tot in die ewe droeë, Wes-Australie waai. Dit het so vinnig gebeur, dat ek eers na die tyd besef het: Dis sowaar al weer wes! En hoewel ek myself vir die ergste aanpassing ooit voorberei, voel ek byna dadelik tuis. Ja, daar is dinge wat anders is, daar is selfs dinge wat baie anders is, maar wat die land en natuur betref voel ek dadelik tuis. Dis hard, ongenaakbaar, rooi maar mooi en die ooreenkomste is daar.
Vandag bly ons in die westelikste deel van Wes-Australie en ek is elke dag dankbaar dat my grootwordplek my so goed voorberei het hierop. Dat dit my voorberei het op die kringloop van die lewe: lewe en dood, mooi en lelik, goed en sleg. Dat mens nie die onmoontlike moet verwag nie en eerder realisties moet bly.  Dit het my voorberei op swaarkry en dit het my geleer om die vermoë  te behou om die mooi rondom jou te sien. Of dit nou die see op ‘n onweersoggend is, of die Golden Crownbeard (onkruid) wat goudgeel in die blom staan, maak nie saak nie.Dit het my geleer om te waardeer wat jy het. Dit het my geleer om aan te pas, van die een uiterste na die volgende. Belangrikste van alles het dit my geleer dat jou geloof oor kontinente heen saam met jou gaan, dat jou Skepper oral is. Ja die droë grootwordjare het my geleer om vandag met my voete vas op die aarde te staan. Dit het my geleer dat die westewinde my nie moedeloos moet maak nie. Nee, dat ek dit eerder moet gebruik om soos 'n arend op hul te sweef, met my gesig na die son en te lééf!

 

 

 

 

Saturday 20 July 2013

GLOUDINA SUSANNA STRYDOM (néé VAN LILL) - 19 Julie 2013


Dis met groot hartseer maar ook dankbaarheid wat ek vandag in ‘n paar woorde hulde aan ‘n besondere mens probeer bring. Ek moet ‘n leeftyd se herinneringe en wysheid op twee blaaie probeer neersit. ‘n Leeftyd se Indrukke wat sy op ons gelaat het in woorde probeer omsit. Wel dis onmoontlik, maar ek gaan steeds probeer. Waar en wanneer het alles begin? 

28 Maart 1922 op ‘n warm laat somersdag word daar nog ‘n dogtertjie vir die Van Lill gesin van Betta in die Namib, gebore. Gloudina Susanna Van Lill. Nog ‘n blondekop dogtertjie vir die trotse ouerpaar  en nog ‘n sussie vir die ouer broers en susters. En later jare sal haar rol uitbrei na die van ‘n geliefde vrou, ma, ouma en selfs grootouma.  

Hierna volg haar grootwordjare op die familieplaas. Soos enige plaaskind, was die lewe op daardie stadium idilies. Al wat jy geken het was jou familie en jy het die vryheid van die wye vlaktes gehad: gesonde kos, swem, son en diere. Wat meer kan ‘n kind vra? Soos die jare aanstap, verander dinge en elke dag was nie noodwendig sorgeloos en kommervry nie. Hul verloor hul pa op ‘n jong ouderdom. Daar is baie kinders en dis ‘n droë boerdery gebied. Later jare gaan van haar broers oorlog toe in Noord-Afrika. Iets wat ek glo moeilik was vir hul as gesin. Die materiele middele was dalk nie altyd mildelik nie en tog het ouma altyd met liefde en deernis na haar grootword- en jongjare verwys.  Oor die jare heen het sy menige staaltjies daaroor vertel en ek glo dat daardie vormingsjare ‘n baie belangrike rol gespeel het in haar karaktervorming. 

Later jare ontmoet sy haar lewensmaat, wyle Coen Strydom en ‘n paar jaar na die troue verlaat hul die Namib en gaan woon op die plaas Adams Rust. Hier het hul saam soveel beleef. Goeie en swaar tye. Hierdie huwelik was dan ook geseën met 3 kinders. Hul bly tot en met aftree ouderdom op Adams Rust. Teen daardie tyd was daar ook al ‘n paar kleinkinders. Daarna verlaat hul die Suide vir ‘n wyle en gaan woon ‘n paar jaar in Grootfontein. In die middel tagtigs trek hul terug na Mariental waar hul vir die volgende 16 jaar sou bly. Daarna verruil hul die Suide vir Okahandja. En ja soos die meeste van ons weet, was ouma se laaste paar jare, nadat oupa oorlede is, so tussen Mariental, Windhoek en Okahandja. 

 As ek vandag aan ouma terugdink, kom daar twee ‘soorte’ herinneringe by my op. Eerstens onthou ek die materiele. Ek onthou die ouma wat die lekkerste wildvleis en koringpap kon kook. Wat elke Sondag poeding gemaak het en wie se koekblikke altyd vol was. Ja die ouma, wat altyd reggestaan het vir familie en gaste. Die ouma wat altyd ‘n lappie gehad het vir ‘n stukkie klere, wat sokkies kon stop en truie kon brei. Die ouma wat die interessantste boks speelgoed agter die spensdeur gehad het, wat altyd ‘n lekkertjie in die kas gehad het. Die ouma, wie se hande vir niks verkeerd gestaan het nie: van wintertye se vleiswerk op die plaas tot basaarpoedings en –koekies by die dosyne. Die ouma wat ons geleer het dat jy nie met kos mors nie. Die ouma, by wie jy in die middae moes rus en saans het sy altyd vir ons uit ‘Saam na Jesus ‘ gelees. So het elkeen van ons, ons spesiale herinneringe aan haar. Wonderlike herinneringe, goeie tye. 

Tweedens onthou ek die mens wat sy was. ‘n Nederige, standvastige mens met ‘n stil maar sterk karakter. Hoewel sy nie nooit veel gepraat het nie, het haar dade vanself gespreek en was sy in alle gevalle ‘n voorbeeld vir die generasies wat sou volg. Volgens vandag se standaarde was sy glad nie ‘n geleerde vrou nie. Tog het sy oneindig baie lewenswysheid gehad. Sy was nie vreeslik belese of berese nie, maar haar prioriteite reg. Haar Skepper was eerste en weereens het haar lewe daagliks daarvan getuig. Tweedens was sy ‘n getroue lewensmaat vir haar man en haar gesin en hul versorging was haar lewenstaak.  Sy het met die grootste geduld en sorg haar mense versorg. Van kosmaak, skoonmaak, klere herstel tot by hul emosionlele versorging. Vir haar was dit nie ‘n werk nie, maar eerder ‘n lewenstaak wat sy getrou vervul het. 

Dit was Ouma, dis soos sy was. En as ek vandag iets moet uitsonder sal dit nie die koekblik-herinneringe wees nie. Dis was ook wonderlik, dis mos waarvoor ouma’s daar is. Nee, wat ek sal uitsonder, was haar lewensvoorbeeld was sy vir ons was.. Dis kosbaar. As ons vandag haar voorbeeld in ons lewens kan toepas, sal ons baie wen en sy baie gelukkig wees.  

Ouma Dina, jy het jou lewenstaak op aarde vervul. Nou kan jy rus, maar weet dat jy altyd in ons herinneringe sal voortleef. Weet ook dat jou voorbeeld vir my kosbaar was en dat ek as persoon baie daaruit geleer het. Al kan ek nie vandag jou begrafnis bywoon nie, maak dit nie saak nie, want ons het baie goeie jare saam gehad. Jare waarin ek soveel by jou geleer het. En as daar vandag een versugting in my hart is, is dit dat ek jou voorbeeld sal nastreef. In my geloof, my lewe, my huwelik en daaglikse menseverhoudings. In my dagtaak, sal onthou hoe jy dit gedoen het.










Friday 31 May 2013

DIE TREK


Almal vra hoe dit voel om jou goedjies te pak en Annerland toe te gaan. Om dertig plus jaar net so te los.Net. So. Te. Los. Punt. Alles waaraan jy sentimele waarde het. Wel, ek kon dit nog nie antwoord nie om verskeie redes maar die belangrikste is, dat tyd nog nie daaroor is nie. Maar vanoggend terwyl ek Annerland se huisie skoonmaak kom dié gedagte skielik by my op: dis baie soos koshuis toe gaan. Baie.

Die gemiddelde Suidwes plaaskind weet presies wat 'koshuis toe gaan' beteken.  Ons is almal iewers in ons lewe daardeur. Sommige van jou eerste skooljaar, ander eers later in hul lewe. Sommige het baie daarvan gehou, ander het elke oomblik gehaat. Maar dit daar gelaat, Annerland-trek en koshuis toe gaan het baie mekaar in gemeen. Dis eintlik maar 'n déjà vu in die kleine. Dis nie net 'n handeling nie, dis 'n lewensveranderende ervaring en die 3 basiese stukke bagasie is maar dieselfde. Jou koffer met klere, jou skoolsak en jou kostrommel.

Van ons vroegste jare af het ons koshuis toe gegaan. Daar was geen keuse en jy het dit so aanvaar. Na 'n heerlike lang vakansie het ma net een goeie dag al ons klere begin merk. Naambandjies met jou naam, van en wasgoednommer, aan elke liewe kledingstuk gewerk. Sy het ons klere se some, knope en nate verstel en reggemaak. (Ma, onthou jy hoe jy my ons skoolsokkies gemerk het, sodat die pare altyd bymekaar bly? Jy het, met verskillende kleure gare, 'n klein bollinkie op elke naambandjie gewerk. So moes die rooies altyd 'n paar wees, die bloues, die geles ens.) Terug by die voorbereidings. So stelselmatig is die klere reggemaak en die netjiese stapeltjies op die spaarbed in jou kamer uitgepak.As jy klein is, kon jy aan die klere agterkom hoe lank dit nog is voordat jy weer hok toe gegaan het, want hier teen die einde moes jy net jou 'huis klere' gedra het en dan het jy geweet dis nie meer lank nie, dan word die koffer van die kas afgehaal. Die koffer is die mees basies deel van jou koshuisbagasie en is gewoonlik met sorg gepak. Jou skoolklere, jou namiddagklere, jou sportklere, skoene, toiletsak ens. Daarin was alles wat jy kon nodig kry, vir liggaam.

Dan word jy een oggend wakker met die wonderlikste geure wat in die huis hang. Koekies en beskuit vir die kostrommels. Want sien, 'n kostrommel is 'n belangrike deel van enige koshuiskind se bagasie. Ons kostrommels was soos 'n 'lucky packet'. Eers as jy dit by die koshuis oopmaak het regtig gesien wat daarin was. Heerlike koekies en beskuit (hier het die twee oumas ook 'n mildelike bydrae gelewer), biltong wat pa papierdun gekerf het, droë vrugte en vele meer. In die lig van die bg kan die leser seker sien, dat 'n kostrommel een van die laaste goed was, wat enige koshuiskind by die huis vergeet het. Dit het net nie gebeur nie, want jou kostrommel was die belangrikste. Die inhoud daarvan het jou deur alle dae gekry. Die moeilikes, die slegtes die goeie en ook die gewones.

Sonder jou skooltas het jy NOOIT koshuis toe gegaan nie. En as jy een of ander laai uitgehaal en die tas by die huis 'vergeet' het, het pa bloot omgedraai en dit gaan haal. Hierdie tassie is ook met sorg gepak. Die eerste jare het ma dit gedoen en gesorg dat alle skyfbehoeftes daarin was. Potlode, uitveër, kryte en 'n skêr. Later jare het jy self met sorg hierdie tas gepak. Hierdie tas was nie vir jou so belangrik as wat dit vir die onderwyser was nie. Jy sou baie maklik 'n week of vyf sonder hierdie tas kon aanpak...

So is jy dan na alle sorgvuldige voorbereidings saam (in my geval) met die boetas in die bakkie gebondel en by die skool afgelaai. En of dit nou lekker of sleg was, jy het geweet daar sal 'n Vrydag wees wat jy weer kom haal word. Dan nie eerskomende een nie, dan die volgende...

Nou as jy Annerland toe gaan is die bagasie presies dieselfde. Jy pak jou koffer met klere. Gewone klere, sport klere en netjiese klere. Ook jou skoene, nie alles nie, want daar is nie plek vir almal nie. Jy pak alles wat jy nodig kan kry, of wat jy in jou voorbereidings dink jy nodig mag kry. Jy pak net die basiese, net die minimum, want jy kan net soveel saamvat. 

Jou skooltas is net soos in die koshuisdae, vir ander mense belangriker as vir jou. Daarin pak jy jou paspoort, jou vliegtuigkaartjie en al jou belangrike papiere. Terwyl ek nou daaraan dink - alle papiere is belangrik. Hierdie 'tas' se inhoud is baie belangrik vir almal wat jou pad en wie se pad jy die volgende paar jaar gaan kruis.

Wat jou 'kostrommel' aanbetref, daarin kan jy pak net soveel jy wil. Al verskil is net, hierdie keer is dit nie lekkernye nie. Nee, dit sal die doenepersoneel (en jy!) nie oorleef nie. Hierin pak jy jou hartsgoed en net soos in jou koshuisjare is dit die belangrikste stuk bagasie. Dis die stuk bagasie wat jou deur moeilike, slegte, lekker en gewone dae gaan kry. Want hierin pak jy wie jy is. Jy pak jou grootword, jou opvoeding en jou herinneringe in jou 'kostrommel'. Jy verpak jou geloof so mooi soos jou ma destyds daardie botterkoekies verpak het, sodat dit nie verkrummel nie. Jy koester dit, dat dit heel ander kant uitkom.

Net so vreemd soos wat 'n koshuis- en skoolopset vir 'n Sub-A'tjie is, net so vreemd is Annerland vir 'n grootmens. Alles is anders, die mense, die roetine, die kos en die reëls. En net soos jy as klein koshuiskindjie gevoel het, in die vreemde warboel van nuwighede, net so voel jy die eerste tyd. Niks maak sin, maar jy gaan saam met die stroom. Dan een dag begin goed sinmaak en die son weer in die ooste opkom en die weste sak. Daardie dag maak jy weer jou kostrommeltjie oop en knibbel hier en daar aan jou hartsgoed.

Daardie dag weet jy ook, dat dit nie regtig dieselfde is as koshuis toe gaan nie. Nee, dis anders. Jy het 'n keuse gehad en kan dit beter hanteer en die belangrikste van alles is, hierdie keer het hy hoop en geloof. Iets waarsonder jy eerder nie die vreemde moet aandruf nie.

So om almal se vraag te probeer antwoord, van hoe dit voel om jou Vaderland te verlaat. Wel ek gaan eerder een van ons groot digters, nl Uys Krige se slotsin van sy pragtige gedig 'Die Plaashek' aanhaal. Dit sê so baie. (As agtergrond, die gedig handel oor hoe hy na jare weer by die plaashek kom en alles daar sien. Die aalwyne, die bome en rivier en al sy herinneringe en liefde is vasgevang is daardie woorde. En sy mymeringe oor waar sy paaie in al die jare geloop het, net om weer by die plaashek te kom, 'van alle waan gestroop'.) Net om te eindig met: "En ek lig die knop...Ek maak 'n hek oop in my hart."

Dus kan jy besluit of jy 'n 'hek oopmaak in jou hart' en of jy dit toemaak, die dag as jy finaal jou deur van jou Vaderland agter jou toetrek. Jy kan kies, want jy het jou kostrommel....


Uys Krige


1. Plaashek



Plaashek
Bloedrooi die alwyn langs
die slingerpad.
Dis of daar vonke uit
elk vuurpyl spat.
Maar niks, niks roer nie...net
'n luggie wat
skrams aan die ritselende grassate vat.

Daarbo die blou, blou lug,
daaronder die rivier
wat deur die boorde kronkel met
'n groen swier.
Niks stoor die yle swewende
Bergstilte hier.

Na al die jare maak ek weer
'n plaashek oop.
Waar het my paaie
tog nie geloop
Om my hier by 'n hek te bring
van al my waan gestroop,
maar met my denke helder
en in my hart die hoop?

Die hek staan in die skad’wee van
'n kremetart.
Die stilte in my's volkome met
Niks troebels, niks verward.
Ek lig die knop...Ek maak
'n hek oop in my hart.












Wednesday 10 April 2013

DIE AFSKEID

Hy is reeds skemeroggend in die veld. Sy skoene knars oor die rooi klippertjies teen die skotige rantjie. Die dou hang nog swaar aan die grashalms onder in die rivier en hier en daar sien jy klein diertjies hierdie lewegewende vog drink. Hy hoor die oggendgeluide by die kraal, soos dit op die koeler oggendwindjie na hom aangesweef kom. Bokke wat blêr en as jy fyn luister die geklingel van die melkemmers en die werksmense se vrolike tongklap-geselsies. Bietjie later sal die skape veld toe streep.

Alles klink so normaal en tog is dit vandag die afskeid. Die. Afskeid. Later vandag, as die son se warmte oor die kaal rante strek, die gemsbokke lui na 'n koelte in die rivierlope soek,  gaan die afslaer se gong op die hoogste bod toegeslaan word.

Skuld is 'n harde rentmeester en 'n oordeelsfout kan soms nie ongedaan gemaak word nie.

Vier generasies lank is die grond in sy familie. Oud-Oupa het die plaas bekom. 'n Dorre stuk aarde en volgens die Duitse owerhede geklasifiseer as semi-woestyn en nie geskik vir kommersiele boerdery nie. Tog het hy moed gehou en rondgetrek met die vee terwyl hy stuk-stuk die plaas begin toekamp het. Met die tyd het Oud-Oupa boorgate gesink en dus hier en daar waterpunte op sy grond bekom. 'n Eenvoudig, dog statige kliphuis het teen die rantjie verrys, knus omarm deur die U-draai in die rivier.

Dit was vanselfsprekend dat Oupa op die grond sou aangaan. In daardie jare was daar immers nie 'n keuse nie. Erf en boer. Oupa het voortgebou op die plaasverbeterings en water was die heel belangrikste. Met die boormasjien agter sy ou Ford lorrie, het hy die rante plat gery en moedig aanhou soek vir water. Hoop beskaam nie. Vadertjie tyd het egter stadig maar seker aangestap en voor hul weet was  Pa aan stuur van sake.

Soos dit met boerdery gaan was daar goeie en slegte jare. Jare waarin die veld min was, waarin die grootste oorlewing was om die diere tot volgende seisoen deur te kry. Met 'sjokolade-mielies', lusern is allerhande planne beraam dat die ooie net nie hul lammers moet weggooi nie. Die wild het swaargekry. Van swakte in die drade vasgespring en daar bly lê totdat hul dalk so gelukkig was om 'n genadeskoot te kry.

Tog was daar goeie jare ook. Rëenjare waarin die kuile net nooit opgedroog het nie. Waarin die rante oortrek was met blinkhaargras en spekvet karakoele kol-kol  gewei het. Jare waarin die gemsbokke blinkvet in die veld staan en hul sterte luiweg geswaai het as die voertuie nader kom. As jy te naby kom, het hul met 'n geklap van die hoewe, statig tog doelgerig oor die rant gehardloop. Hul bewegende blink velle losserig oor hul lywe.

Daar is soveel mooi herinneringe.Generasies opgebreek in leeftye. Leeftye opgebreek in jare. Jare weer opgebreek in seisoene en so het elkeen sy plek gehad. Winters en somers, swaarkry en klaarkry. Goeie tye en minder goeies...

Die dag breek in die ooste en daarmee saam kom hy terug uit sy mymeringe. Hy raak bewus van die geklap van die droeë peule van die ghabba-bosse in die oggendwindjie. Die geblaf van die werfhonde, want die eerste blink voertuie begin arriveer.

 Stadig staan hy op van die plat klip waarop hy gesit het en vat sy hoed was langs hom gelê het. Hy kyk oor die plaas en lê die prent vir oulaas in sy geheue vas. 'n Benoudheid styg op in sy bors en die opwelling van emosie vang hom amper onkant.

As die bod vandag toegeslaan word, sal hy eersdaags vir oulaas die lynhek met die skewe naamplaat agter hom toetrek en daarna gaan hy tussen vier mure moet sit...


Thursday 14 March 2013

FONTEINTJIES LANGS MY LEWENSPAD

Vandag het ek nie juis 'n storie nie. Nee, ek wil eerder oor iets skryf wat my regtig na aan die hart lê. Vriende. Die wat ver is, die wat naby is, die wat deur dik en dun by ons elkeen staan, die wat saam tee drink en die wat saam lag. Dan is daar ook die wat saam met jou skryf, lees, filosofeer, ondersoek, draf, kwilt, plak en bak. Daar is dié wat van jou vat en daar is dié by wie jy iets kry. Sommige breek jou, ander tel die stukke op. Vriende slyp jou en jy slyp hulle.

Ek en my draf-vriendin gesels nou die aand oor hierdie onderwerp. (Dit was tydens die vierde kilometer, so ons het nie te veel asem gehad nie. Ons het dit dus net bespreek en nie te veel gefilosofeer nie:-)) Een van die goed wat ons vir mekaar gevra het: Wat verwag ons elkeen van 'n vriend of vriendin? My antwoord: Onvoorwaardelike, wedersydse, vertroue. Laasgenoemde klink so eenvoudig, maar kom ons kyk na die twee kernwoorde nl: onvoorwaardelik en vertroue.

Onvoorwaardelik beteken letterlik sonder voorwaardes en of voorbehoude. Dis eintlik 'n eenvoudige woord, wat 'n geweldige omvattende begrip en leefwyse beskryf. Wat gestalte gee aan gevoelens, aan dade en in sommige gevalle, méér as sewe sakke sout. Dit het betrekking op goeie en slegte tye, finansieel, emosioneel, materieel en andersins. Onvoorwaardelik is presies wat die woord sê: ON-VOOR-WAARDE-LIK. Net soos jy is. Sonder voorgee, sonder pretensie.

Vertroue is ook net so 'n groot woord. 'n Woord wat eers wasdom in jou siel bereik, as jy dit bedink het. Daaroor gepeins het. Die engelse verklarende woordeboek verklaar die woord as volg: 'The reliance on the integrity, strenght, ability, surety ect. of a person.' Dis 'n mondvol, wat ook die aksie en reaksie, prestasie en teenprestasie, van die woord baie goed beskryf.  Eintlik moet mens na elkeen van daardie woorde se betekenis ook kyk. Dan eers sal ons die puntjie van hierdie betekenis-ysberg sien. En dan eers sal mens besef, waarom ons soveel waarde aan vertroue heg. Ek stel 'n baie, baie hoë prys op vertroue. Die oomblik as daar 'n vertrouensbreuk is, lê die skerwe die werf vol. Plak kan mens dit weer plak, maar dis nooit weer dieselfde nie.'n Gebreekte blompot hou immers nie weer ordentlik water nie.

Wedersyds, is natuurlik ook belangrik en spreek vanself. Daar kan nie 'n teenprestasie wees as daar nie 'n prestasie was nie.

Dis myns insiens, min of meer die vereenvoudigde konsep en eienskappe van vriendskap. Dit klink ingewikkeld, maar is veronderstel om 'n spontante gevoel te wees. En as elkeen van ons, onsself toelaat om te vertrou, kan dit ook so wees. Natuurlik is daar baie ander eienskappe ook, wat ons van vriende of 'n vriendskap verwag. Soos eerlikheid. Soos sy vir my sê: "Ek verwag van my vriende om vir my die waarheid rondom 'n situasie te sê. Om nie my gevoelens te spaar nie en oop kaarte met my te speel." Dit is ook belangrik ja.

My vriende, wat  in getalle nie hordes is nie, is waarlike fonteintjies langs my lewenspad. Soos ek deur die lewe gaan het ek elkeen van hulle nodig. Elkeen op sy tyd en plek wat nie noodwendig is soos die ander s'n nie. Elkeen is 'n lafenis en rusplek vir my. Met elkeen deel ek iets besonders en dit maak hul dus ons vriendskap ook uniek.

Rondom water is die plantegroei ook weliger en die kans op oorlewing vir plantegroei ook baie beter. Ons het almal water nodig, moet nooit jou fonteintjies vol klippe gooi nie. Aan die ander kant ook, as dit 'n 'opregte' fonteintjie is, sal sy lewegewende water deur die klippe borrel.

Tog moet  mens altyd daarop let om nie die delikate vriendskaps-blompot te laat val nie, dit beskadig gewoonlik onherstelbaar.















Friday 22 February 2013

VAN KARAKOEL TOT SWAKARA

Soos dit nou maar in my storielewe gaan het ek gister weer 'n storie raakgeloop. Ek het regtig nie daarvoor gesoek nie, dit het my gevind, op 'n afgeleë plaas in 'n klein boerverenigingsaal, tussen 'n klomp boere.

Soos julle nou al weet, is ek baie lief vir my droeë land en alles wat daarmee saamgaan. So gebeur dit toe gister dat ek by 'n veiling van een van die oudste Swakara-, beter bekend as karakoelstoeterye, in die land was. So tussendeur die verrigtinge probeer ek my gedagtes hokslaan, maar verniet. Toe ek weer sien, het my gedagtes hul eie loop geneem...

Hierdie is 'n besonder geharde skaapras wat volgens argeologiese bewyse reeds 1400 v.C. bestaan het en meestal in Sentraal Asie voorgekom het.  Die naam Karakoel is afgelei van die dorpie/nedersetting met die naam van Karakul wat in 'n vallei naby die Amu Darju rivier geleë is, in wat die vroeërer  Emirate van Buchara, Turkye was. Vandag bekend as Uzbekistan. Hierdie nedersetting is geleë op 'n redelike hoogte bo seespieël wat meegebring het dat die plantegroei en water beperk was.

Die ontstaan van die karakoelpels en -wol industrie was om en by teen die einde van die 19de eeu. Toe het Russiese en Amerikaanse koopmanne hierdie pelse en wol gekoop en op die markte in Londen (Britanje) en Leizig (Duitsland) verkoop. In Leipzig was 'n bekende pelshandel maatskappy met die naam Thorer wat reeds vanaf 1612 bestaan het. Mnr Thorer het die Duitse regering aangeraai om die karakoelskaap na die destydse Sudwest Afrika te bring. (In 1903 is 'n troppie karakoele Duitsland toe gevat vir navorsing.) Mnr Paul Thorer het gereken dat die semi-woestyn toestande in Suidwes-Afrika baie ooreenstem met dié van Sentraal Asie en die skape dus goed kan aanpas, vandaar sy aanbeveling.

Op 24 September 1907 arriveer die eerste 12 skape, 2 ramme en 10 ooie, per vragskip in die Swakmundse hawe. (Daardie stadium het Swakop nog 'n hawe gehad.) Daar word, te voet,  met die skape getrek na plaas Voigts Grund net wes van Mariental. Dit opsigself was nie 'n maklike taak nie,  as jy in ag neem dat hulle deur die woestyn moes trek.

Dit was die beskeie begin van die ras in Suidwes.. Dié ras met besondere kenmerke, bv dat hul 'n baie dominate swart geen het wat meebring dat die meeste lammers swart gebore is. Ook is dit 'n geharde skaap wat vet in sy stert berg en vir die 'maer jare'.

So het die boere en regering hierdie skaapras verfyn. Jare se navorsing, toewyding en sommer plein harde werk daarin gesit. Soveel so dat die Suidwes-Afrikaanse karakoelindustrie in die 1960-70's 'n bloei tydperk beleef het. Op daardie stadium was die 'swart diamante' op almal se lippe en het Suidwes ongeveer 5 miljoen pelse per jaar na die mark in Kopenhagen gestuur.

In 1980 beleef die karakoelpels industrie egter 'n terugslag, onder die druk van diereregte groepe in Amerika, Europa en Kanada. Hierdie groepe was gekant teen die slag van die karakoellammers binne 48 uur na geboorte. Ook die wolindustrie het 'n insinking beleef. Dit het meegebring dat die boere in 1990 nie pelse kon bemark nie. Boere het hul kuddes verklein en die skape vir vleisproduksie verkoop. Die jare wat daarop volg bly die industrie net-net aan die gang en in 1997 is stuur Agra slegs 56 667 pelse mark toe.  Gedurende die laaste paar jaar tel die bedryf weer kop op en Agra stuur jaarliks ongeveer 140 000 pelse Kopenhagen toe, wat deur die pelssorterings sentrum van Agra hanteer word. Die enigste sentrum van sy soort in Afrika. Teen 2007 is daar 40 karakoelstoeterye in Namibia en 16 in Suid-Afrika.

In 2011 of 2012 behaal die karakoelstoetery van Namibië een van hul grootste mylpale: naamlik om die ras te laat herregistreer en 'herdoop', na Swakara's. Dit is gedoen omdat die ras waarmee tans geboer word, wêrelde verskil van die ras wat meer as honderd jaar gelede die land ingebring is. En in Kopenhagen is Swakara's in aanvraag op die veilings.

Dis min of meer die verloop van die geskiedenis van Swakara. Die feite en tog weet jy nie hoeveel tyd, toewyding en belangstelling wel in so 'n stoet gesit word nie. Jare se werk, seleksie van gene en kyk hoe die haarkwaliteit in die volgende lamseisoen lyk. Aanhou, kophou en moedhou.

In laasjaar het 'n groot Seder in die Swakara bedryf geval en 'n twee-generasie-lange-stoet is gister verkoop. Tot aan kopers in Suid-Afrika. 'n Waardevolle bondel gene is die land ingestuur. En ek dra hierdie skryfseltjie aan hom en al die ander bittereinders op. Julle het voorwaar 'n produk om op trots te wees.

.

Monday 11 February 2013

BLINKHAAR GRASSAAD IN DIE WIND

Hierdie storie handel oor 'n  graspol. Ja, 'n graspol, wat in die veld staan en waaraan skape lustig kou. Uit 'n boerdery oogpunt gesien, is dit gras wat 'n goeie bron van voeding is. Dis ook gras wat volop voorkom in die droeë suidwestelike dele van Suidwes waar ek groot geword het. Iets wat eie is aan my en my land. Maar die graspol-storie het 'n draai...

In hierdie deel van die land is reën skaars en die plantegroei soms skaarser en die wat wel daar is, meestal net so gehard soos die res van die veld. Hier kry jy onder andere 'n  droeë graspol wat sommer nuwe lewe kry, enkele dae nadat die eerste reën geval het. Die gevestigde polle se wortels drink die vog op en die pol raak van onder af groen, terwyl die nuwe polletjies baldadig groei en braaf, teen die warm Suidwes-son, hul sagte groen blaarjies deur die aardkors druk.

Gedurende die reënseisoen bly die gras groen en is die veld oortrek met 'n heldergroen lewegewende skynsel. Later in die seisoen vorm die sade, maar skaam-skaam bly hul eers toe tot die draai van die seisoen. Teen April, Mei staan die blinkhaarpolle gewoonlik vol in die saad.Swaar en blink hang die ritse ryp grassade aan die dun stingeltjies.

Wintertyd is blinkhaartyd. Dan is die gras op sy mooiste, die groen weg en dan bly net die strooikleur gras met hul blink sade oor in die veld. Die rante van ons ou wêreld is dan oortrek van dié gras, wat liggies in die wind waai. Sover soos die oog kan sien, staan die massa wuiwende gras en as jy teen die weste son daarna kyk, maak dit jou oë seer so mooi en blink is dit. Die diere raak 'weg' in die pragtige gras.

Dan kom Augustus en teen daardie tyd is die grassade ryp en val dit af. Saam met Augustus kom die westewinde wat dae lank bollings stof  oor die velde waai.  Die wind wikkel dan die blink saadjies los en dra dit oor grense heen. Bedags sien jy die grassade op die wind dryf en laat namiddag as die wind bietjie gaan lê het en jy in die klipperige tweespoorpaadjie gaan stap, sien jy die blink grassaadjies waar hul in die harde grond vasgesteek het. Reg, om die kringloop van vooraf te begin sodra die eerste reën in Oktober, November val.

Ons mense is ook maar net soos blinkhaargras. Ons gaan deur dieselfde kringloop. Inteenstelling met die geordende en vasgestelde manier en kringloop van die natuur, is s'n soms maar soms 'n deurmekaarspul en volg dit nie so mooi opeen nie. Maar op die ou end, is al die stadiums steeds daar en het ons aardse lewe ook maar 'n siklus.

Party van ons is in jou groen reëntyd-stadium, terwyl ander in hul wintertyd-stadium van die lewe is. (En dan het dit nou niks met ouderdom te doen nie.) Andere is weer in hul westewind-staduim. Ek is.

Ek is tans 'n blinkhaarsaadjie op die westewinde van die lewe. Hy gaan my waai, hy gaan my oor grense, geografies en andersins, heen vat. Soms vinnig en in warrelende sirkels, soms rustiger, soms so vee-vee oor die grond. Maar iewers moet die wind gaan lê en dan gaan hierdie saadjie haar lê kry. Daar sal sy eers versigtig in die grond vassteek en wag op die eerste reënseisoen. Na die reën sal daar 'n polletjie vorm, wat stadig maar seker wortels sal vorm...





Tuesday 29 January 2013

DIE STORIE AGTER DIE STORIE(S)

Vandag wil ek vir julle die storie agter die storie(s), soos hierbo gelees, vertel. Eintlik is dit ook nie 'n vreeslike storie nie, maar steeds. Kom ek stel dit maar op skrif. Dalk wonder ek ook oor tien jaar van nou af hoekom ek dié spesifieke naam gekies het.

Toe ek aanvanklik as 'blogger' geregistreer het, het ek skaars die blad verstaan.  Met die opstel van my elektroniese blogprofiel vra hul toe allerhande vrae, sommiges vreemd ander heel gangbaar. Onder andere vra hul die naam van jou blog. Op daardie stadium kon ek nie vinnig genoeg aan iets oorspronklik of konkreet dink nie. Glad nie. Toe val my oog op die kalender en aangesien dit die jaar 2013 is, is dit toe sommer die naam. Ander mense het heel oorspronklike name vir hul blog gekies. Soos byvoorbeeld Steve se Spoegblog. Gelukkig is ek regtig nie erg oor spoegwoorde of enigeiets in daardie lyn nie. Terug by die naam. Myne? Nou ja, toe ek nou bietjie kans het om oor die naam te dink  (en agter te kom watter een verskyn waar) besluit ek op die volgende: Die storie agter die storie(s). Dit sê eintlik alles.

Vandat ek kon onthou, was daar stories. Kleintyd, stories wat my ma vir my gelees het, stories wat ons twee saam opgemaak het, stories wat ek en Ouboet uitgedink het. Ek en Ouboet was Captain Cook en het op 'n omgekeerde tafel die oseane van die grasperk deurkruis. En in ons verbeelding was die gras water, met woeste golwe! Van die Bottle Brush- tot by die Propsopisboom en ons gedugte makkers: Vriendjie, Haasdas Jorsie en Hendrik Schoeman was immer aan ons sy. (Die eerste drie was sagte speelgoed, maar van Hendrik Schoeman kan ek julle eintlik niks sê nie. Ek vermoed dit was 'n verbeeldingsvriend, seker maar by die grootmense gehoor van hom.)

Die plaaslewe was 'n skatkis van stories. Met of sonder verbeelding: daar was net altyd nog 'n storie en nog een en nog...

Ek kon ure dagdroom en stories opmaak. 'n Vinknes in 'n kameeldoringboom was vir my 'n storie. Ek meen. Die boom kom van iewers af. Die vink het tog 'n familie, bly in 'n huisie, wat oor 'n helder kuil in die klipperige rivier hang. 'n Vink het bure en vyande, eiers en kuikens, kan raas, vreet, sing en sosialiseer. So, tot 'n Vink het 'n storie.

Toe gaan die plaaskind skool en koshuis toe en amper laat die vier mure my stories doodgaan. Amper...

Gelukkig net voordat dit gebeur, leer ek lees. En siedaar, daar gaan 'n ander wêreld vir my oop. 'n Groter wêreld met 'n magdom stories. Nou is daar geen keer, ek lees enigiets waarop ek my hande kan lê. Uit radeloosheid (vermoed ek) laat sluit ouma my by die dorpsbiblioteek aan. Vrydae is die hoogtepunt in my week, want dan gaan ek biblioteek toe. Hand aan hand stap ek en oupa en ouma elke Vrydagmiddag bib toe. Die terugpad is lank. Ek wil my boek lees.

Later jare kry my stories dimensie. Ek skryf stories en gedigte sommer vir die lekkerte. Skryf sommer van die ander kinders opstelle ook, want dis lekker en daar is so baie stories in my kop wat moet uit. En tussendeur lees ek steeds. Kort by alles.

So besef ek een goeie dag dat my lewe eintlik 'n storie is. Een lang storie, wat in klomp klein storietjies opgebreek kan word. Party mooi en lekker, ander  minder lekker en party sommer net sleg. Maar stories is ook nie altyd lekker nie en om 'n lang storie kort te maak, bly 'n storie 'n storie of dit nou lekker of sleg is.

So op my blog gaan stories wees. Ander mense noem dit insidente, lewenservaringe ens. Vir my bly dit stories. Klomp stories, wat naderhand een groot storie vorm.

Maak jul reg vir 'n Ratanga-rit van stories: party hoog, ander laag, ander laat jou maag omdop, party is foto-oomblikke en ander glip ongesiens verbly...

Thursday 24 January 2013

ODE AAN WOORDE

Nou ja, daar waag ek sowaar my hand aan blog. Blog? Wat 'n vreemde woord maar ek doen dit wrintie waar. Miskien doen ek dit omdat die mistieke, wonderwêreld van woorde, sinne, boeke en biblioteke altyd 'n integrale deel van my lewe was, steeds is en selfs deur Kindle-tye so sal bly.

Woorde kan in my kop wees, woorde kan gesê word of dit kan deur my vingers na die papier vloei. Ek kan woorde proe, dit in my mond rol en versigtig uiter. Soms kan ek dit onverskillig na iemand slinger of dit ongesê laat bly. Met woorde kan ons skade doen en ons kan goed doen. Woorde bring reuke, kleure, gevoelens en klanke, helder na elkeen van ons. Dit gee lyf aan elke sintuig. Dit gee dimensie aan wie jy is.

Woorde beskryf  alles: onthou-tye en vergeet- tye, goeie-tye en swaar-tye. Woorde het baie jassies. Dit kan 'n kommunikasie-, ontspanning- of werksjas aanhê. Woorde kan jy inspan, klein en groot, lank en kort totdat dit sinmaak en 'n sin maak en naderhand 'n storie. 'n Storie word 'n boek en boeke is ons lewe.

Woorde is.

MEER AS NET ‘N KWILT Vandat ek kon onthou was kwilts, of soos dit in die volksmond bekend staan, lappieskomberse deel van my lewe. Me...