Friday 27 September 2013

OP WIEKE VAN WESTEWINDE (Opgedra aan my ouers en skoonouers)

Nou die dag vra my skoonma my of ons emosioneel net oorleef en of ons darem lééf hier in Annerland? Goeie vraag en dit sit my toe aan die dink.

My bestaan, van vroeg af, is nou verweef met die weste en tot nou toe het dit nog nie verander nie. Die Weste en meer spesifiek, die dorre weste (van enige land) blyk nou maar eenmaal ‘n belangrike rol in my lewe, te speel.  Dié fyn goue draad is alom teenwoordig. Dié gedagte het nou die dag by my opgekom terwyl ek staan en skottelgoed was hier in my Annerland huisie. My kombuisvenster uitsig is maar beperk.  ‘n Staalmuur (die Aussie glo in staalmure), agterstoepie en afdak vorm die grootste gedeelte van die uitsig. Regs is ‘n klein bedding, waarin twee palms en ‘n slakgevrete kruisement moedig probeer groei. ‘n Strepie blou lug en bietjie van die buurman se wasgoed op sy wasgoeddraad, rond die verbeeldinglose prentjie af. Dié dat my gedagtes hul eie loop neem. Ek sit eers die weste-gedagte uit my kop, maar dit spring net weer op. Dan tussen die seepborrels in die wasbak en nou-net weer tussen die kruisementblare. Ek druk dit weer weg, maar hul systap my en spring tussen die pietersielie op die vensterbank uit. Ek gee op en soos dit maar in my lewe gaan, skryf ek 'n storie daaroor...
Waar jy grootword is ‘n gegewe en nie iets waaroor jy beheer het nie. Tog is dit jou vormingsjare en ek glo dat dit ‘n rol speel in wie jy is en hoe jy die lewe sien. Ek het in die suidwestelik deel van Suidwes op ‘n plaas grootgeword.’n Pragtige, maar ook barre, grootwordplek.  Ek onthou die mooi groen reëntye, die goue wintersgras en die helderste herinnering is die van die westewinde. Ja, hoewel jy op daardie stadium van jou lewe nog nie veel van rigtings of weer verstaan nie, was hierdie een van my eerste bewuswordinge van die dorre weste. Daardie Augustus-winde wat soms dae aanmekaar sulke rooi stofbollings waai wat oral indring. Dit waai drade toe en windpompe flenters. Dit loei om die huis se hoeke en binne is als met ‘n fyn lagie stof bedek (al is dit net die oggend skoongemaak) en buite buig die dennebome laag in die wind. Soggens beur die karakoelooie moedig teen die wind, rant uit om te gaan wei. Saans as hul streep-streep teen die rant afkom, waai die wind steeds en is die poeiergetrapte kraalwerf net een groot  rooi stofwolk.  Dit waai en waai en waai. Sonder ophou en selfs op ‘n jong ouderdom, onthou ek hoe weemoedig dit my altyd gestem het. Na so ‘n winderige dag, was die son gewoonlik ‘n rooi vuurbal teen die tyd wat dit in die weste gesak het. 
Vir die grootste deel van my skooljare, word die suidelike deel van Suidwes deur ‘n ernstige droogte geteister. Die oostelike dele lê in ‘n effe hoër reënval gebied en het sagter veld, dus is die droogte nie so fel nie. By ons is dit wat die woord sê: droogte. In die volle sin van die woord. Die veld is rooi en die diere maer. Later in die droogte begin die wild vrek en pa huur oral veld om ‘n kernkudde te probeer deurdra tot die volgende reëntyd. Augustus-winde in die droogte is selfs erger. Dan is daar nie veel grondbedekking nie en die stofvlae waai daelank oor die velde. Mistroostig. Die droë warm wind tap die laaste bietjie lewe en vog uit mens en dier. Ons moed is laag, die plaas lelik en rooi. Die water, op sommige plekke, min. Ek begin die weste verpes. Vir my is dit sinoniem met swaarkry , droogte, dooie diere en rooi stofwolke. Dis sinoniem met wanhoop en moedeloosheid. ‘n Groter mag, waarteen elke mens  volkome weerloos staan. 
Die jare stap aan. Onbepland en vinnig koop my pa teen die einde van my skoolloopbaan die bakkery op die dorp. Ek begin glo dat dinge nou beter sal loop, want die dorp is ten minste oos van die plaas. Tog is die bakkery in die westelik deel van die dorp geleë. Die westelike deel van Mariental is dan ook die deel wat, in uitsonderlike reënjare vloed. Gelukkig is die klem op uitsonderlik en dis iets wat nog net eenkeer in die dorpie se bestaan gebeur het. So dit pla ons nie te veel nie. Met moed en ywer spring ons in om hierdie besigheid op te tel. Ons werk en werk en ongesiens glip ‘n paar jaar verby.  Wel…  ‘n Paar uitsonderlike reënjare breek die jarelange droogte en drie vloede later, is ons weer moedeloos.  Hierdie keer, modder-moedeloos. Die water is deur die bakkery en met die laaste vloed is al die masjiene en oonde daarmee heen.  Die weste bly maar sy rugkant na ons draai. Die weste brei jou, dit tap jou, maar die lewe gaan aan en Mariental staan op uit die modder. Ons ook.
Vir die volgende paar jaar bly ek steeds in die (ge)weste en leer lief raak vir die deel van die land. Die mense in vriendelik, die natuur hard maar mooi. Ek begin die mooi in ons deel van die land raaksien en waardeer. Ek waardeer elke oomblik daarvan en ag myself baie gelukkig om juis hier groot te geword het. Hier waar jy van jongs af, alle fasette van die lewe gesien het. Hier waar jy geleer het om na die stilte te luister en dit te waardeer, waar reën altyd ‘n hoogtepunt is en groen altyd mooi sal bly. Hier waar die son die lewe uit die aarde kan bak, waar die boomwortels diep in die dorre aarde indring op soek na ‘n bietjie vog en waar sonbesies jou moedeloos kan skree. Hier word mens weer een met jou Skepper.
Nog ‘n paar jaar later, gebeur dit dat die lewe se westewinde my, soos ‘n blikhaarsaadjie,  tot in die ewe droeë, Wes-Australie waai. Dit het so vinnig gebeur, dat ek eers na die tyd besef het: Dis sowaar al weer wes! En hoewel ek myself vir die ergste aanpassing ooit voorberei, voel ek byna dadelik tuis. Ja, daar is dinge wat anders is, daar is selfs dinge wat baie anders is, maar wat die land en natuur betref voel ek dadelik tuis. Dis hard, ongenaakbaar, rooi maar mooi en die ooreenkomste is daar.
Vandag bly ons in die westelikste deel van Wes-Australie en ek is elke dag dankbaar dat my grootwordplek my so goed voorberei het hierop. Dat dit my voorberei het op die kringloop van die lewe: lewe en dood, mooi en lelik, goed en sleg. Dat mens nie die onmoontlike moet verwag nie en eerder realisties moet bly.  Dit het my voorberei op swaarkry en dit het my geleer om die vermoë  te behou om die mooi rondom jou te sien. Of dit nou die see op ‘n onweersoggend is, of die Golden Crownbeard (onkruid) wat goudgeel in die blom staan, maak nie saak nie.Dit het my geleer om te waardeer wat jy het. Dit het my geleer om aan te pas, van die een uiterste na die volgende. Belangrikste van alles het dit my geleer dat jou geloof oor kontinente heen saam met jou gaan, dat jou Skepper oral is. Ja die droë grootwordjare het my geleer om vandag met my voete vas op die aarde te staan. Dit het my geleer dat die westewinde my nie moedeloos moet maak nie. Nee, dat ek dit eerder moet gebruik om soos 'n arend op hul te sweef, met my gesig na die son en te lééf!

 

 

 

 

MEER AS NET ‘N KWILT Vandat ek kon onthou was kwilts, of soos dit in die volksmond bekend staan, lappieskomberse deel van my lewe. Me...