Saturday, 20 July 2013

GLOUDINA SUSANNA STRYDOM (néé VAN LILL) - 19 Julie 2013


Dis met groot hartseer maar ook dankbaarheid wat ek vandag in ‘n paar woorde hulde aan ‘n besondere mens probeer bring. Ek moet ‘n leeftyd se herinneringe en wysheid op twee blaaie probeer neersit. ‘n Leeftyd se Indrukke wat sy op ons gelaat het in woorde probeer omsit. Wel dis onmoontlik, maar ek gaan steeds probeer. Waar en wanneer het alles begin? 

28 Maart 1922 op ‘n warm laat somersdag word daar nog ‘n dogtertjie vir die Van Lill gesin van Betta in die Namib, gebore. Gloudina Susanna Van Lill. Nog ‘n blondekop dogtertjie vir die trotse ouerpaar  en nog ‘n sussie vir die ouer broers en susters. En later jare sal haar rol uitbrei na die van ‘n geliefde vrou, ma, ouma en selfs grootouma.  

Hierna volg haar grootwordjare op die familieplaas. Soos enige plaaskind, was die lewe op daardie stadium idilies. Al wat jy geken het was jou familie en jy het die vryheid van die wye vlaktes gehad: gesonde kos, swem, son en diere. Wat meer kan ‘n kind vra? Soos die jare aanstap, verander dinge en elke dag was nie noodwendig sorgeloos en kommervry nie. Hul verloor hul pa op ‘n jong ouderdom. Daar is baie kinders en dis ‘n droë boerdery gebied. Later jare gaan van haar broers oorlog toe in Noord-Afrika. Iets wat ek glo moeilik was vir hul as gesin. Die materiele middele was dalk nie altyd mildelik nie en tog het ouma altyd met liefde en deernis na haar grootword- en jongjare verwys.  Oor die jare heen het sy menige staaltjies daaroor vertel en ek glo dat daardie vormingsjare ‘n baie belangrike rol gespeel het in haar karaktervorming. 

Later jare ontmoet sy haar lewensmaat, wyle Coen Strydom en ‘n paar jaar na die troue verlaat hul die Namib en gaan woon op die plaas Adams Rust. Hier het hul saam soveel beleef. Goeie en swaar tye. Hierdie huwelik was dan ook geseën met 3 kinders. Hul bly tot en met aftree ouderdom op Adams Rust. Teen daardie tyd was daar ook al ‘n paar kleinkinders. Daarna verlaat hul die Suide vir ‘n wyle en gaan woon ‘n paar jaar in Grootfontein. In die middel tagtigs trek hul terug na Mariental waar hul vir die volgende 16 jaar sou bly. Daarna verruil hul die Suide vir Okahandja. En ja soos die meeste van ons weet, was ouma se laaste paar jare, nadat oupa oorlede is, so tussen Mariental, Windhoek en Okahandja. 

 As ek vandag aan ouma terugdink, kom daar twee ‘soorte’ herinneringe by my op. Eerstens onthou ek die materiele. Ek onthou die ouma wat die lekkerste wildvleis en koringpap kon kook. Wat elke Sondag poeding gemaak het en wie se koekblikke altyd vol was. Ja die ouma, wat altyd reggestaan het vir familie en gaste. Die ouma wat altyd ‘n lappie gehad het vir ‘n stukkie klere, wat sokkies kon stop en truie kon brei. Die ouma wat die interessantste boks speelgoed agter die spensdeur gehad het, wat altyd ‘n lekkertjie in die kas gehad het. Die ouma, wie se hande vir niks verkeerd gestaan het nie: van wintertye se vleiswerk op die plaas tot basaarpoedings en –koekies by die dosyne. Die ouma wat ons geleer het dat jy nie met kos mors nie. Die ouma, by wie jy in die middae moes rus en saans het sy altyd vir ons uit ‘Saam na Jesus ‘ gelees. So het elkeen van ons, ons spesiale herinneringe aan haar. Wonderlike herinneringe, goeie tye. 

Tweedens onthou ek die mens wat sy was. ‘n Nederige, standvastige mens met ‘n stil maar sterk karakter. Hoewel sy nie nooit veel gepraat het nie, het haar dade vanself gespreek en was sy in alle gevalle ‘n voorbeeld vir die generasies wat sou volg. Volgens vandag se standaarde was sy glad nie ‘n geleerde vrou nie. Tog het sy oneindig baie lewenswysheid gehad. Sy was nie vreeslik belese of berese nie, maar haar prioriteite reg. Haar Skepper was eerste en weereens het haar lewe daagliks daarvan getuig. Tweedens was sy ‘n getroue lewensmaat vir haar man en haar gesin en hul versorging was haar lewenstaak.  Sy het met die grootste geduld en sorg haar mense versorg. Van kosmaak, skoonmaak, klere herstel tot by hul emosionlele versorging. Vir haar was dit nie ‘n werk nie, maar eerder ‘n lewenstaak wat sy getrou vervul het. 

Dit was Ouma, dis soos sy was. En as ek vandag iets moet uitsonder sal dit nie die koekblik-herinneringe wees nie. Dis was ook wonderlik, dis mos waarvoor ouma’s daar is. Nee, wat ek sal uitsonder, was haar lewensvoorbeeld was sy vir ons was.. Dis kosbaar. As ons vandag haar voorbeeld in ons lewens kan toepas, sal ons baie wen en sy baie gelukkig wees.  

Ouma Dina, jy het jou lewenstaak op aarde vervul. Nou kan jy rus, maar weet dat jy altyd in ons herinneringe sal voortleef. Weet ook dat jou voorbeeld vir my kosbaar was en dat ek as persoon baie daaruit geleer het. Al kan ek nie vandag jou begrafnis bywoon nie, maak dit nie saak nie, want ons het baie goeie jare saam gehad. Jare waarin ek soveel by jou geleer het. En as daar vandag een versugting in my hart is, is dit dat ek jou voorbeeld sal nastreef. In my geloof, my lewe, my huwelik en daaglikse menseverhoudings. In my dagtaak, sal onthou hoe jy dit gedoen het.










1 comment:

  1. O wow, Marlize. Pik ek ook 'n traan oor ouma se heengaan. Maar dit is 'n pragtige stuk.

    ReplyDelete

MEER AS NET ‘N KWILT Vandat ek kon onthou was kwilts, of soos dit in die volksmond bekend staan, lappieskomberse deel van my lewe. Me...