Almal vra hoe dit voel om jou goedjies te pak en Annerland toe te gaan. Om dertig plus jaar net so te los.Net. So. Te. Los. Punt. Alles waaraan jy sentimele waarde het. Wel, ek kon dit nog nie antwoord nie om verskeie redes maar die belangrikste is, dat tyd nog nie daaroor is nie. Maar vanoggend terwyl ek Annerland se huisie skoonmaak kom dié gedagte skielik by my op: dis baie soos koshuis toe gaan. Baie.
Die gemiddelde Suidwes plaaskind weet presies wat 'koshuis toe gaan' beteken. Ons is almal iewers in ons lewe daardeur. Sommige van jou eerste skooljaar, ander eers later in hul lewe. Sommige het baie daarvan gehou, ander het elke oomblik gehaat. Maar dit daar gelaat, Annerland-trek en koshuis toe gaan het baie mekaar in gemeen. Dis eintlik maar 'n déjà vu in die kleine. Dis nie net 'n handeling nie, dis 'n lewensveranderende ervaring en die 3 basiese stukke bagasie is maar dieselfde. Jou koffer met klere, jou skoolsak en jou kostrommel.
Van ons vroegste jare af het ons koshuis toe gegaan. Daar was geen keuse en jy het dit so aanvaar. Na 'n heerlike lang vakansie het ma net een goeie dag al ons klere begin merk. Naambandjies met jou naam, van en wasgoednommer, aan elke liewe kledingstuk gewerk. Sy het ons klere se some, knope en nate verstel en reggemaak. (Ma, onthou jy hoe jy my ons skoolsokkies gemerk het, sodat die pare altyd bymekaar bly? Jy het, met verskillende kleure gare, 'n klein bollinkie op elke naambandjie gewerk. So moes die rooies altyd 'n paar wees, die bloues, die geles ens.) Terug by die voorbereidings. So stelselmatig is die klere reggemaak en die netjiese stapeltjies op die spaarbed in jou kamer uitgepak.As jy klein is, kon jy aan die klere agterkom hoe lank dit nog is voordat jy weer hok toe gegaan het, want hier teen die einde moes jy net jou 'huis klere' gedra het en dan het jy geweet dis nie meer lank nie, dan word die koffer van die kas afgehaal. Die koffer is die mees basies deel van jou koshuisbagasie en is gewoonlik met sorg gepak. Jou skoolklere, jou namiddagklere, jou sportklere, skoene, toiletsak ens. Daarin was alles wat jy kon nodig kry, vir liggaam.
Dan word jy een oggend wakker met die wonderlikste geure wat in die huis hang. Koekies en beskuit vir die kostrommels. Want sien, 'n kostrommel is 'n belangrike deel van enige koshuiskind se bagasie. Ons kostrommels was soos 'n 'lucky packet'. Eers as jy dit by die koshuis oopmaak het regtig gesien wat daarin was. Heerlike koekies en beskuit (hier het die twee oumas ook 'n mildelike bydrae gelewer), biltong wat pa papierdun gekerf het, droë vrugte en vele meer. In die lig van die bg kan die leser seker sien, dat 'n kostrommel een van die laaste goed was, wat enige koshuiskind by die huis vergeet het. Dit het net nie gebeur nie, want jou kostrommel was die belangrikste. Die inhoud daarvan het jou deur alle dae gekry. Die moeilikes, die slegtes die goeie en ook die gewones.
Sonder jou skooltas het jy NOOIT koshuis toe gegaan nie. En as jy een of ander laai uitgehaal en die tas by die huis 'vergeet' het, het pa bloot omgedraai en dit gaan haal. Hierdie tassie is ook met sorg gepak. Die eerste jare het ma dit gedoen en gesorg dat alle skyfbehoeftes daarin was. Potlode, uitveër, kryte en 'n skêr. Later jare het jy self met sorg hierdie tas gepak. Hierdie tas was nie vir jou so belangrik as wat dit vir die onderwyser was nie. Jy sou baie maklik 'n week of vyf sonder hierdie tas kon aanpak...
So is jy dan na alle sorgvuldige voorbereidings saam (in my geval) met die boetas in die bakkie gebondel en by die skool afgelaai. En of dit nou lekker of sleg was, jy het geweet daar sal 'n Vrydag wees wat jy weer kom haal word. Dan nie eerskomende een nie, dan die volgende...
Nou as jy Annerland toe gaan is die bagasie presies dieselfde. Jy pak jou koffer met klere. Gewone klere, sport klere en netjiese klere. Ook jou skoene, nie alles nie, want daar is nie plek vir almal nie. Jy pak alles wat jy nodig kan kry, of wat jy in jou voorbereidings dink jy nodig mag kry. Jy pak net die basiese, net die minimum, want jy kan net soveel saamvat.
Jou skooltas is net soos in die koshuisdae, vir ander mense belangriker as vir jou. Daarin pak jy jou paspoort, jou vliegtuigkaartjie en al jou belangrike papiere. Terwyl ek nou daaraan dink - alle papiere is belangrik. Hierdie 'tas' se inhoud is baie belangrik vir almal wat jou pad en wie se pad jy die volgende paar jaar gaan kruis.
Wat jou 'kostrommel' aanbetref, daarin kan jy pak net soveel jy wil. Al verskil is net, hierdie keer is dit nie lekkernye nie. Nee, dit sal die doenepersoneel (en jy!) nie oorleef nie. Hierin pak jy jou hartsgoed en net soos in jou koshuisjare is dit die belangrikste stuk bagasie. Dis die stuk bagasie wat jou deur moeilike, slegte, lekker en gewone dae gaan kry. Want hierin pak jy wie jy is. Jy pak jou grootword, jou opvoeding en jou herinneringe in jou 'kostrommel'. Jy verpak jou geloof so mooi soos jou ma destyds daardie botterkoekies verpak het, sodat dit nie verkrummel nie. Jy koester dit, dat dit heel ander kant uitkom.
Net so vreemd soos wat 'n koshuis- en skoolopset vir 'n Sub-A'tjie is, net so vreemd is Annerland vir 'n grootmens. Alles is anders, die mense, die roetine, die kos en die reëls. En net soos jy as klein koshuiskindjie gevoel het, in die vreemde warboel van nuwighede, net so voel jy die eerste tyd. Niks maak sin, maar jy gaan saam met die stroom. Dan een dag begin goed sinmaak en die son weer in die ooste opkom en die weste sak. Daardie dag maak jy weer jou kostrommeltjie oop en knibbel hier en daar aan jou hartsgoed.
Daardie dag weet jy ook, dat dit nie regtig dieselfde is as koshuis toe gaan nie. Nee, dis anders. Jy het 'n keuse gehad en kan dit beter hanteer en die belangrikste van alles is, hierdie keer het hy hoop en geloof. Iets waarsonder jy eerder nie die vreemde moet aandruf nie.
So om almal se vraag te probeer antwoord, van hoe dit voel om jou Vaderland te verlaat. Wel ek gaan eerder een van ons groot digters, nl Uys Krige se slotsin van sy pragtige gedig 'Die Plaashek' aanhaal. Dit sê so baie. (As agtergrond, die gedig handel oor hoe hy na jare weer by die plaashek kom en alles daar sien. Die aalwyne, die bome en rivier en al sy herinneringe en liefde is vasgevang is daardie woorde. En sy mymeringe oor waar sy paaie in al die jare geloop het, net om weer by die plaashek te kom, 'van alle waan gestroop'.) Net om te eindig met: "En ek lig die knop...Ek maak 'n hek oop in my hart."
Dus kan jy besluit of jy 'n 'hek oopmaak in jou hart' en of jy dit toemaak, die dag as jy finaal jou deur van jou Vaderland agter jou toetrek. Jy kan kies, want jy het jou kostrommel....
Uys Krige |
1. Plaashek |
Plaashek Bloedrooi die alwyn langs die slingerpad. Dis of daar vonke uit elk vuurpyl spat. Maar niks, niks roer nie...net 'n luggie wat skrams aan die ritselende grassate vat. Daarbo die blou, blou lug, daaronder die rivier wat deur die boorde kronkel met 'n groen swier. Niks stoor die yle swewende Bergstilte hier. Na al die jare maak ek weer 'n plaashek oop. Waar het my paaie tog nie geloop Om my hier by 'n hek te bring van al my waan gestroop, maar met my denke helder en in my hart die hoop? Die hek staan in die skad’wee van 'n kremetart. Die stilte in my's volkome met Niks troebels, niks verward. Ek lig die knop...Ek maak 'n hek oop in my hart. |