Thursday 20 November 2014


SHARK BAY

Saterdag 27 September 2014 pak ons die Wit Wa en vat die northwest coastal highway (NWCH) noorde toe. Boot en bord op die dak, padkos in die Engel en Slim Dusty, om ons in die regte bui te kry. Hierdie is ons laaste langnaweek in die jaar en ons is van plan om dit goed te benut, deur Shark Bay te besoek. Georg was al daar vir een of ander werksverwante kurses, maar ek was nog nie daar nie.
Net buite Geraldton kry jy die eerste lande. Land op land staan die koring goud in die aar. Oor ‘n paar weke gaan die boere verseker begin stroop. Later ry oor ons die Murchinson rivier. Daar is sommer nog baie water in die rivier en ou reier staan en wag rustig vir ‘n vissie om verby te kom. Daarna begin die plantegroei droeër raak. Dis die tipies vaalgroen plantegroei in die rooi-rooi sand, wat ons kilometer na kilometer sien.
Laatoggend stop ons by die Overlander Roadhouse om bene te rek. Die wind waai verwoed en die bloekoms langs die Roadhouse staan skeef in dié wind. Rooi stofbollings, hardloop padlangs en ‘n Road Train probeer sy groot lyf langs die petrolpomp inkry. Kom jy binne, is jy egter aangenaam verras. Jy kan enigiets van die spreekwoordelike dooie poliesman tot ‘n posseël daar kry. Aan die agterkant is daar ‘n mooi skoon eetplekkie, onderdak, met ‘n kontant papegaai in ‘n hok in die hoek. Nadat ons bietjie bene gerek het, draai ons van die NWCH af en vat die pad kus toe.
Oor die volgende paar dae sou ek wel deeglik besef, waarom dié deel, in 1991, as ‘n Wêrelderfenisgebied gelys en verklaar is. Dis inderdaad ‘n uiters unieke plek en beslaan sowat 2,200,902 hektaar, waarvan omtrent 70% seewater is. Volgens die 2011 sensus is daar ‘n bevolking van so om en by 1000, in die gebied. (So, liewe leser, as jy hou van flieks, stadsliggies, winkelsentrums en verkeersknope, moet jy eerder nie Shark Bay besoek nie.) Die Shark Bay Wêrelderfenisgebied sluit plekke soos Dirk Hartog eiland, Monkey Mia, Hamelin Pool Marine Reserve, Shark Bay Marine Park en Peron National Park in. Die baai self is 1,300,000 hektaar en het ‘n gemiddelde diepte van ongeveer 9m. Dit sluit die grootste seegras bed ter wêreld in (103 000 hektaar), wat op sy beurt ‘n natuurlike habitat vir soveel seediere is.
Middagtyd stop ons by Hamelin Pool om die stromatolites te kyk. Ek gaan probeer om dit in eenvoudige taal te probeer verduidelik en dan die res aan die foto oorlaat. Dis blykbaar blou-groen alge wat oor eeue heen opgebou het en dan hierdie strukture gevorm het. Die alge groei daar omdat die soutinhoud van die baai twee maal hoër as normale seewater is. Die soutgehalte is so hoog as gevolg van die feit dat daar nie veel beweging in die water is nie, die verdamping baie hoog is en die baai baie vlak is. ‘n Mondvol. Maar al hierdie goed bymekaar is die ideal habitat vir die vorming van stromatolites, wat nie fossiele is nie, maar wel lewende organismes. Ek hoop julle verstaan dit, vir my lyk dit maar soos klippe, maar darem mooi klippe.
Sowat 45km suidoos van Denham is Shell Beach. Hierdie is een van slegs twee strande ter wêreld wat van skulpe is. Jip, julle het reg gelees. Daar is geen sand nie, net skulpe. Vir 60 kilometer lê die klein mantelskulpies van die Fragum Erugatum spesie. Jy kan kan maar grawe, daar is net skulpies. Dié skulpdiertjies het so vermenigvuldig omdat die hoë soutgehalte in die water, dit vir hul natuurlike vyande onmoontlik maak om daar te oorleef. Dus kan hul na hartelus vermeerder.
Laatmiddag stop ons by ons blyplekkie. Dis teen die see en terwyl ons afpak kom loer oom Emu in. Laataand sit ons op die stoepie met ‘n koppie boeretroos en kyk na die klein glofies op die baai. In die weste trek die son water en bootjies wieg lui-lui in die baai. En ek wonder waar in die seegras, die ou dugongs wei...
Hamelin Pool - stromatolites


Shell Beach en die skulpies van naderby

Shark Bay
 

No comments:

Post a Comment

MEER AS NET ‘N KWILT Vandat ek kon onthou was kwilts, of soos dit in die volksmond bekend staan, lappieskomberse deel van my lewe. Me...