Friday, 26 September 2014


AKWARIUM VAN WES-AUSTRALIE
AQWA
My gedagtes, my onthou en my lewe is in kleure. Sommige mense het weer met reuke ‘n assosiasie. Of klanke. Soms ek ook, maar meeste van die tyd leef ek in kleure.
As ek aan Suidwes dink, sien ek ‘n mengsel van aardse kleure. Die Suide se harde, rooibruin kliprante oortrek met goue wintersgras, die Namib se oranje duine en die vaalbruin klipkoppe van die Kaokoveld. Die bruin modderwaters van ons riviere en donker stofbruin stamme van kameeldorings omsoom met blouselblou lug, is vir my die kleure van Suidwes. Dink ek aan die Kaap, is my prentjie in alle skakerings van groen en blou met helder water. Dink ek aan die Kalahari is my prentjie rooi en ougoudgeel met ‘n tikkie donkergroen. Parys is alle skakerings van grys, met swart en blinknat strate. Amsterdam is bruin met hier en daar ‘n uitbundige mengelmoes van helder vrolike kleure. England is soos die bekende liedjie sê: Forty shades of green, met statige grougrys geboue. Ek kan met die lysie aangaan en aangaan. So beland ek vir die eerste maal in my lewe in Australie en my brein begin dadelik met kleurassosiasie. My Wes-Australiese prentjie is tans ‘n mengsel van bloedrooi sand en vaalgroen plantegroei na die binneland se kant toe. En hier teen die seekant is dit turkoois met wit. Hier draai byna alles om die see, veral in die somer, maar vir die ernstige surfers sommer in die winter ook. 

So kom dié Suidwester na ‘n land waar alles om die see draai. Nou kyk, my kennis van die see en sy inwoners is beperk tot ‘n paar maal se Henties vakansies. Boonop is die Suidwes seewater so koud, dat dit heelwat beter is om op die strand rond te sit as om jou toon in die water te sit, wat nog te sê van jou lyf nat te maak. My kennis oor die see se inwoners is ook uiters beperk, tot ‘n visvangkompetisie wat ek eenmaal bygewoon het. Ek het blinklywe gesien, maar weet nie wie is wie nie. As jy egter so naby aan die see bly, soos ons die afgelope 18 maande, begin jy onwillekeurig wonder wat alles in daardie pragtige turkoois waters woon. So kry ons nou die dag die geleentheid om die Wes-Australiese Akwarium in Perth te besoek. Dit het my oë bietjie oopgemaak vir die wonderwêreld in die see. Ek gaan probeer om hierdie ervaring met die leser te deel.

Dertien April 1988 open Underwater World Perth, sy deure vir die publiek. Dis ‘n akwarium met, op daardie stadium, slegs twee uitstallings. Een van die uitstallings is, vrylik vertaal, die Voel Poel. (Nee, nee nie ‘n jacuzzi nieJ Die Voel Poel is ‘n vlakkerige poeletjie, met verskeie seediere waaraan die besoekers mag raak. Soos rotspoeletjies langs die see.) In 1991 verander die akwarium van eienaar en die nuwe eienaars verander toe die naam na WA Aquarium, soos dit vandag nog bekend staan.

Vandag kan jy meer as 400 spesies van die seelewe, wat jy teen die 12 000km lange kuslyn van Australie kry, daar te siene kry. Daar is 40 verskillende uitstallings met oor die 4 000 visse in altesaam 4 miljoen liter water. Die omvang van die akwarium is dus heel indrukwekkend en dek ‘n wye verskeidenheid van die seelewe. Dis basies in 5 afdelings ingedeel, wat elkeen sy eie deel van die kuslyn verteenwoordig. In elke afdeling is nie net die seediere van daardie streek te sien nie, maar ook hul hele habitat. Dis ingedeel in die volgende 5 afdelings: Great Southern, Shipwreck Coast, Perth Coast, Far North and Marmion Marine Park.

Die grootste van die uitstallings is natuurlik die Shipwreck Coast. Daar stap jy deur ‘n indrukwekkende onderwater akrieltonnel, wat 40m lank en 20m wyd is. Eens in daardie tonnel is jy omring van 3 miljoen liter seewater, 13 haaie, waarvan die ‘grey nurse sharks’ tussen 3 en 4m lank is. Daar is ook groot loggerhead sea turtles wat lui-lui oor jou kop swem.  Daar is heelwat pylsterte, seekatte, nog heelwat ander soorte haaie en visse.

In die Marmion Marine Park afdeling is daar die mooiste korale waaraan mens kan dink. Kompleet met skole veelkleurige vissies wat deur hul vleg. Wat baie interessant was, is dat daar vergrootglase teen die tenk se ruite is. Met die blote oog lyk baie van die korale soos veelkleurige klippe of rotse, maar kyk jy deur die vergrootglas sien jy hoe hul beweeg en hul ‘spre’afskei. Dis ook dan wanneer mens verstaan waarom korale so bedreig word, veral deur besoedeling. 

Die Far North afdeling word ook die Danger Zone afdeling genoem. Met reg en rede ook. Hier kan jy van die giftigste seediere te wêreld te  siene kry. En glo my, vir my ongeoefde woestynoog lyk hul na heel onskadelik vredeliewende seediertjies. Niks monsteragtig nie. Geensins. Maar gaan lees maar oor hulle en jy sal hul volgende keer met ander oë na hul kyk. (Hopelik in ‘n akwarium…). Daar kan jy onder meer die Stonefish, Sea Snake (hul is wel baie lelik), Black Tip Sharks, Port Jackson Sharks, Lion Fish  en Cone Shells sien. Die Lion fish is ‘n kleinerige, rooi, wit, room, en swart gestreepte vis met lang ‘fin rays’. Hierdie ‘fin rays’ is baie giftig. Die Stonefish is een van die giftigste visse ter wêreld en kan dood by mense ook veroorsaak. Omdat hierdie vis tot 24 uur buite die water kan leef, gebeur dit baie dat slagoffers hul nie tussen die rotse of korale sien nie en op hul trap. Dus is daar baie gevalle van Stonefish steke wat buite die water plaasvind. En dan sal die Far North ook nie die Far North wees sonder ‘n paar krokodille nie. Hoewel dit kleintjies is, is daar 3 krokkedilletjies ook te sien. Die gids sê egter dat hul weer teruggevat word as hul groter word, want hul raak te aggressief.

Stap jy nou na die uitstallings aan die buitekant van die akwarium, sal jy onder meer die Sting Ray Bay kan sien. Pylsterte kan tot 4m in deursnee raak. Dié wat daar te siene was, was wel nie heeltemal so groot nie. Tog was daar ‘n paar grootes (in ag geneem dat hul in aanhouding is) te sien. Die interessant om hul dop te hou en te sien hoe hul na die oppervlak kom en half bo-op die water swem, net om hulself nou net in die sand te begrawe. Lelike goed dié.

So het ons ‘n blitstoer deur die mooi, maar ook gevaarlik turkoois waters van Australië gevat. Hoewel dit my nie regtig uit die see sal hou nie,  want teen 43 grade smelt my brein en kan ek nie meer onthou wat ‘n haai nou eintlik is nie, sal ek van nou af die see met die nodige respek aandurf. En ek sal ‘n besoek aan die koraalriwwe of my ‘bucket list’ byvoeg. Dis inderdaad ‘The Serengeti of the Seas’.
Korale kompleet met die veelkleurige visse wat daardeur swem

Die onderwatertonnel

No comments:

Post a Comment

MEER AS NET ‘N KWILT Vandat ek kon onthou was kwilts, of soos dit in die volksmond bekend staan, lappieskomberse deel van my lewe. Me...