My bestaan, van vroeg af, is nou
verweef met die weste en tot nou toe het dit nog nie verander nie. Die Weste en
meer spesifiek, die dorre weste (van enige land) blyk nou maar eenmaal ‘n
belangrike rol in my lewe, te speel. Dié
fyn goue draad is alom teenwoordig. Dié gedagte het nou die dag by my opgekom
terwyl ek staan en skottelgoed was hier in my Annerland huisie. My
kombuisvenster uitsig is maar beperk. ‘n
Staalmuur (die Aussie glo in staalmure), agterstoepie en afdak vorm die
grootste gedeelte van die uitsig. Regs is ‘n klein bedding, waarin twee palms
en ‘n slakgevrete kruisement moedig probeer groei. ‘n Strepie blou lug en
bietjie van die buurman se wasgoed op sy wasgoeddraad, rond die verbeeldinglose
prentjie af. Dié dat my gedagtes hul eie loop neem. Ek sit eers die weste-gedagte
uit my kop, maar dit spring net weer op. Dan tussen die seepborrels in die
wasbak en nou-net weer tussen die kruisementblare. Ek druk dit weer weg, maar
hul systap my en spring tussen die pietersielie op die vensterbank uit. Ek gee
op en soos dit maar in my lewe gaan, skryf ek 'n storie daaroor...
Waar jy grootword is ‘n gegewe en nie
iets waaroor jy beheer het nie. Tog is dit jou vormingsjare en ek glo dat dit
‘n rol speel in wie jy is en hoe jy die lewe sien. Ek het in die suidwestelik
deel van Suidwes op ‘n plaas grootgeword.’n Pragtige, maar ook barre,
grootwordplek. Ek onthou die mooi groen
reëntye, die goue wintersgras en die helderste herinnering is die van die westewinde.
Ja, hoewel jy op daardie stadium van jou lewe nog nie veel van rigtings of weer
verstaan nie, was hierdie een van my eerste bewuswordinge van die dorre weste.
Daardie Augustus-winde wat soms dae aanmekaar sulke rooi stofbollings waai wat
oral indring. Dit waai drade toe en windpompe flenters. Dit loei om die huis se
hoeke en binne is als met ‘n fyn lagie stof bedek (al is dit net die oggend
skoongemaak) en buite buig die dennebome laag in die wind. Soggens beur die
karakoelooie moedig teen die wind, rant uit om te gaan wei. Saans as hul streep-streep
teen die rant afkom, waai die wind steeds en is die poeiergetrapte kraalwerf net
een groot rooi stofwolk. Dit waai en waai en waai. Sonder ophou en selfs
op ‘n jong ouderdom, onthou ek hoe weemoedig dit my altyd gestem het. Na so ‘n
winderige dag, was die son gewoonlik ‘n rooi vuurbal teen die tyd wat dit in
die weste gesak het.
Vir die grootste deel van my
skooljare, word die suidelike deel van Suidwes deur ‘n ernstige droogte
geteister. Die oostelike dele lê in ‘n effe hoër reënval gebied en het sagter
veld, dus is die droogte nie so fel nie. By ons is dit wat die woord sê:
droogte. In die volle sin van die woord. Die veld is rooi en die diere maer.
Later in die droogte begin die wild vrek en pa huur oral veld om ‘n kernkudde
te probeer deurdra tot die volgende reëntyd. Augustus-winde in die droogte is
selfs erger. Dan is daar nie veel grondbedekking nie en die stofvlae waai
daelank oor die velde. Mistroostig. Die droë warm wind tap die laaste bietjie lewe en vog
uit mens en dier. Ons moed is laag, die plaas lelik en rooi. Die water, op
sommige plekke, min. Ek begin die weste verpes. Vir my is dit sinoniem met
swaarkry , droogte, dooie diere en rooi stofwolke. Dis sinoniem met wanhoop en
moedeloosheid. ‘n Groter mag, waarteen elke mens volkome weerloos staan.
Die jare stap aan. Onbepland en
vinnig koop my pa teen die einde van my skoolloopbaan die bakkery op die dorp.
Ek begin glo dat dinge nou beter sal loop, want die dorp is ten minste oos van
die plaas. Tog is die bakkery in die westelik deel van die dorp geleë. Die
westelike deel van Mariental is dan ook die deel wat, in uitsonderlike reënjare
vloed. Gelukkig is die klem op uitsonderlik en dis iets wat nog net eenkeer in
die dorpie se bestaan gebeur het. So dit pla ons nie te veel nie. Met moed en ywer
spring ons in om hierdie besigheid op te tel. Ons werk en werk en ongesiens
glip ‘n paar jaar verby. Wel… ‘n Paar uitsonderlike reënjare breek die
jarelange droogte en drie vloede later, is ons weer moedeloos. Hierdie keer, modder-moedeloos. Die water is
deur die bakkery en met die laaste vloed is al die masjiene en oonde daarmee
heen. Die weste bly maar sy rugkant na
ons draai. Die weste brei jou, dit tap jou, maar die lewe gaan aan en Mariental
staan op uit die modder. Ons ook.
Vir die volgende paar jaar bly ek steeds
in die (ge)weste en leer lief raak vir die deel van die land. Die mense in
vriendelik, die natuur hard maar mooi. Ek begin die mooi in ons deel van die
land raaksien en waardeer. Ek waardeer elke oomblik daarvan en ag myself baie
gelukkig om juis hier groot te geword het. Hier waar jy van jongs af, alle
fasette van die lewe gesien het. Hier waar jy geleer het om na die stilte te
luister en dit te waardeer, waar reën altyd ‘n hoogtepunt is en groen altyd
mooi sal bly. Hier waar die son die lewe uit die aarde kan bak, waar die
boomwortels diep in die dorre aarde indring op soek na ‘n bietjie vog en waar
sonbesies jou moedeloos kan skree. Hier word mens weer een met jou Skepper.
Nog ‘n paar jaar later, gebeur dit
dat die lewe se westewinde my, soos ‘n blikhaarsaadjie, tot in die ewe droeë, Wes-Australie waai. Dit
het so vinnig gebeur, dat ek eers na die tyd besef het: Dis sowaar al weer wes!
En hoewel ek myself vir die ergste aanpassing ooit voorberei, voel ek byna
dadelik tuis. Ja, daar is dinge wat anders is, daar is selfs dinge wat baie
anders is, maar wat die land en natuur betref voel ek dadelik tuis. Dis hard,
ongenaakbaar, rooi maar mooi en die ooreenkomste is daar.
Vandag bly ons in die westelikste
deel van Wes-Australie en ek is elke dag dankbaar dat my grootwordplek my so
goed voorberei het hierop. Dat dit my voorberei het op die kringloop van die
lewe: lewe en dood, mooi en lelik, goed en sleg. Dat mens nie die onmoontlike
moet verwag nie en eerder realisties moet bly. Dit het my voorberei op swaarkry en dit het my
geleer om die vermoë te behou om die
mooi rondom jou te sien. Of dit nou die see op ‘n onweersoggend is, of die Golden
Crownbeard (onkruid) wat goudgeel in die blom staan, maak nie saak nie.Dit het
my geleer om te waardeer wat jy het. Dit het my geleer om aan te pas, van die een uiterste na die volgende. Belangrikste
van alles het dit my geleer dat jou geloof oor kontinente heen saam met jou
gaan, dat jou Skepper oral is. Ja die droë grootwordjare het my geleer om
vandag met my voete vas op die aarde te staan. Dit het my geleer dat die
westewinde my nie moedeloos moet maak nie. Nee, dat ek dit eerder moet gebruik om soos 'n arend op hul te sweef, met my gesig na die son en te
lééf!