Monday, 21 March 2016


MEER AS NET ‘N KWILT

Vandat ek kon onthou was kwilts, of soos dit in die volksmond bekend staan, lappieskomberse deel van my lewe. Met die twee ouma’s wat die lewe my toegedeel het, was dit bloot ‘n gegewe. Hulle twee het behoorlik enige lappies tot kombersvorm verwerk. Vir my was daardie skeppings meer as net ‘n kombers. Méér as iets wat jou op ‘n koue wintersnag moet warm hou. Dit was gemaak van blokkies onthou wat steek vir steek aanmekaar gewerk is om ‘n leeftyd se storie te vertel. Daar is niks lekkerder as om jouself in warm herinneringe van omgee toe te draai. Jou te koester in die liefde en toewyding waarmee daardie skeppings aanmekaar gesit is nie.

Een so ‘n kombersie was ‘n lappieskombers in skakerings van bloue, gryse, swart en bruin. Sommige met fyn strepies.  Ouma het dit gemaak van die afvallappies wat sy by die plaaslike kleremaker gekry het. Daardie jare het meeste klein dorpies nog ‘n professionele kleremaker gehad en Touwsrivier in die laat 50’s begin 60’s was dus geen uitsondering nie. Meneer Botha het veral pakke vir mans gemaak. Die materiaal wat hy gebruik het was ‘n harderige materiaal en gewoonlik in somber kleure. Met dit in gedagte kan die leser haarself indink dat dit nie ‘n besondere mooi lappieskombers was nie, maar vir ons, as kinders, was dit die wonderlikste kombersie. Ons kon die kombers oral saamsleep, buite op die gras as ons piekniek gehou het. Of agter in die Ford se kappie as ons die langpad Kaap toe aangepak vir vakansie. Of as ‘n ekstra kombersie as ons somernagte buite onder die groot prosopiese geslaap het.

Dan is daar die bont lappieskombers wat my grootouma aan vaderskant, gemaak het. Ek het haar nooit geken nie, maar wel haar kombers. Dié is steeds in ons huis en ek is die vierde generasie wat daardie kombers het. Dan is daar die talle oorgetrekte komberse wat met presiese rygstekies met die hand gewerk is. Dit was my ouma aan moederskant wat so vlytig was. Dan is daar my ma se meesterskeppings, maar sy kan self haar stories met julle deel.

Maar die belangrikste van alles is dat al die lappieskomberse iets in my wakker gemaak het. ‘n skeppende iets. Van altyd af wou ek so graag ook ‘n lappieskombers maak of soos ons deesdae sê kwilt. Ek wou ‘skilder’ met bont stukkies lap en myself daarin verloor.  En ek het.

My eerste skepping, was om die minste daarvan te sê: uniek. Ek was seker ses of sewe jaar oud en het ‘n uitgewaste Swart-en-Wit-tabaksakkie gevat en bont lappies daarop vasgewerk. Die lappies was afvallappies van my ma se naaldwerkprojekte op daardie stadium. So ja, my takbaksakkwilt sê baie: daar is ‘n flentertjie badkamergordyn in, ‘n ietsie van Lukas se babalaken en stukkies van my en ma se rokke. Dit was my eerste versigtige treetjie op die kwiltpad.

Sedertdien het ek al ‘n paar kwilte gemaak en in elkeen is meer as net lappies vasgewerk. Daar was die rooi, swart en wit ene waarvan ek stukke tydens  lang Europese vlugte met die hand gesit en werk het. Ook terwyl ons deur die pragtige Franse platteland getoer het, oor Venisie se waterweë gekyk het en op ‘n vaal reënerige dag in Amsterdam in die woonstel moes bly. Ek’t daaraan gewerk terwyl ons na oupa Coen se begrafnis gery het en terwyl ek Sondagmiddae vir ouma Dina in die Hospice besoek het. Ek’t daaraan gewerk terwyl ek deur ‘n verbreekte verhouding gegaan het. Die kleure ‘n weerspieëling van my gemoed op daardie stadium. 
  
Net daarna het ek my Gelukkige Kwilt begin. ‘n Handwerkprojek wat bestaan uit honderde klein vrolike ‘grand mothers flowers’ wat met die hand gewerk word. Ek het met daardie een begin, die eerste naweek wat ek vir Georg gaan kuier het in die Kalahari. Sedertdien het ons verhouding soos die kwilt gegroei of die kwilt soos ons verhouding. Hoe ook al jy daarna wil kyk. Ek het aan die kwilt gewerk as ons Desembers die lang pad Trompsburg toe aangepak het of as ek vir my gereelde kuiers Kalahari toe gegaan het. Of Saterdagnamiddae in die flou wintersonnetjie op die plaas se agterstoep. Vir my word hierdie kwilt ‘n reis deur die lewe wat ek steek vir steek aanpak.

Intussen begin ek ‘n masjienkwilt met pragtige baldige bont blokke. So bont dat dit selfs iemand in die middel van 'n Engelse winter kan ophelder. Min het ek geweet hoe nodig ek daardie vrolike kwilt nog sal hê. Later jare het daardie kwilt wondere gedoen aan ons bleek Annerlandse kamer. 
         
Maar die lewe stap aan en later jare verruil ek my grootwordjare op ‘n droeë Suidwes plaas vir Australië. Hierdie sinnetjie sê meer as wat enige woorde ooit kan sê. Geen mens kan daardie immigrasiepad vir ‘n ander in woorde omsit nie. Maar meer daaroor in ‘n ander storie.  En tog het my lappies dieselfde gebly. Deur eensaam dae in ‘n nuwe vreemde land, het ek lappies gewerk. Deur lappies het ek lappiesvriende gemaak. As emosies vir my te veel raak hier in Annerland, doen ek een van twee goed. Ek skryf of ek werk lappies.

Die tweede jaar wat ons in Suidwes gaan kuier maak en vir my hartskind ‘n rooi, swart en wit kwilt. Ek werk my liefde en omgee in daardie kwilt vas, vat dit oor die water en los dit by haar. Sy’t nou altyd my liefde en omgee in iets tasbaar by haar. Daarna maak ek ‘n klein stemmige bruin kwiltjie om my vir altyd aan my wonderlike Geraldton lappiesvriendinne te  herinner.  Intussen werk ek steeds met aan my Gelukkige Kwilt veral wanneer ons die lang Annerlandse paaie aandurf. Tydens die Shark Bay rit asook ons vele ritte na Perth en selfs Albany toe. Ek werk ‘n besondere stukkie onthou daarin vas toe ons laasjaar paasnaweek Esperance toe gaan en ons een koue reënerige aand in ons blyplekkie sit. Elke jaar as ons Suidwes toe gaan vir 'n kuier vat ek ‘n stukkie saam en werk gelukkig huisherinneringe daarin vas om terug te bring Annerland toe.

Is dit net ek, sentimetele Marlize, wat dit so sien? Nee, ek twyfel. Hoekom gryp alle ma’s en ouma’s na die naald vanaf die oomblik dat hulle hoor die ooievaar is oppad tot hul kinders al yslik groot en uit die huis is? Hoekom spandeer mense soveel geld en tyd aan so iets en deel dit net met hul hartsmense? Daar is baie meer in ‘n kwilt as net materiaal, gare en tyd. Daar’s iets spesiaal daarin.

Van die vroegste tye af was dit die manier hoe vroue hul ‘storie’ vertel het. Deur hul handwerk of meer spesifiek hul naaldwerk. Die Amerikaanse pioniersvroue wat bekend is vir hul pragtige kwilts. Vanaf die vroegste tye, het eers hul materiaal self geweef en dan gekwilt. Materiaal was nie net skaars nie, dit was byna onverkrygbaar en tog het hul gekwilt. Baie van hulle het dit as ontspanning gedoen na ‘n lang dag se harde werk of as tydverdryf terwyl die mans oorlog toe was.  Maar wat ook al die rede was, elkeen se kwilt het ‘n storie gehad. Net soos ons s’n vandag. Sommige het die moeite gedoen om hul stories te dokumenteer en dis vandag ‘n skatkis van interessanthede en onthou. Miskien moet ons ook ons s’n begin dokumenteer en of die storie belangrik is of nie. Kom ons los dit vir die volgende generasies om daaroor te besluit.

Mev M.E.J. Sawyer van Oshkosh, Madison, Amerika maak in 1883 ‘n kwilt vir haar tienjarige seun met die volgende handgeskrewe nota:

I know not what to others seem
These patches gay and somber,
To me they bring of life a dream,
Wherein my darlings wander
Too soon, alas! They leave behind,
Their childish toys and graces;
Then let me gaze on these dear scraps,
While memory shows their faces.

Grootouma BettaVan Lill se lappieskombers


Rooi Ouma se kleremakers lappieskombers





Die veel besproke rooi, swart en wit kwilt.
 
My vrolike bont lappieskombers.





1 comment:

  1. Baie baie waar, Marlize. Vreugde en onthou en hartseer word so vasgewerk...

    ReplyDelete

MEER AS NET ‘N KWILT Vandat ek kon onthou was kwilts, of soos dit in die volksmond bekend staan, lappieskomberse deel van my lewe. Me...