DALGARANGA
Padpredikant |
Vat jy die pad uit
Geraldton na die noord-ooste, ry jy deur die ‘n kleine deeltjie van die hartland
van die sogenaamde ‘Outback’. Geen 100km van Geraldton begroet die eerste rooi
sand en droeë plantegroei jou. Nog ‘n paar kilo’s verder en dis net rooi en
droog sover soos die oog kan sien. Stil wye uitgestrekte paaie, is plek-plek
net uitkenbaar aan die padbordjies wat weerskant van die pad geplant is, sodat
‘n eensame reisiger nie die pad byster raak nie. Was dit nie vir die bordjies
nie, was dit maar net nog ‘n vlakte gewees. Die landskap is oor die algemeen
platterige, met hier en daar ‘n kop of reeks rante, wat die Aussies ‘break aways’
noem. Soms kruis die pad ‘n seisoenale rivier waarin moeë bloekoms hangblaar
staan. Kol-kol word die sanderige dele afgewissel met dorre kliprante en oral
sal jy die staal geraamtes van vroeër jare se boerdery- en myngereedskap te
siene kry. Stille getuies van voorspoed wat eens was.
Dis ‘n harde
ongenaakbare wêreld dié. Tog hou hierdie deel vir my ‘n groot bekoring in en
wanneer die geleentheid hom voordoen vat ons die rooi stofpad. Ons het eenmaal
regtig vir twee dae lank gery sonder om ‘n ander mens of voertuig te sien. Al
hoekom ons wel teen die derde dag iemand anders gesien het, was omdat ons na
die beskawing teruggekeer het. Mens kan kwalik deur hierdie klein plattelandse
dorpies en tussen die stations ry, sonder om oor die geskiedenis te
wonder. Sien jy die harde droeë land waar die kwik somertye gereeld in die
middel veertigs kuier, wonder jy watter oppurtinis die eerste maal hier ‘n lewe
begin maak het? Wat het hom juis hiernatoe laat kom en hoe het hy reggekom?
Waarvan het hulle geleef? Wat was hul lief en leed? Ja, die vrae maal deur jou
kop en kort voor lank loop die stories. Vandag wil ek ‘n station storie
met julle deel.
Dalgaranga is ‘n
medium grootte eiendom en is sowat 250km noord-oos vanaf Geraldton, in die
Yalgoo Shire geleë. Hierdie eiendom is ‘n skrale 102 000 hektaar groot en
behoort die laaste paar jaar aan die Department of Park and Wildlife. Voor dit, was dit egter ‘n aktiewe plaas, met
‘n groot skaapboerdery en alles wat daarmee gepaard gaan. In 1878 neem A.G Lacy
die pastoral lease vir die eerste vier blokke op. Die eerste jare is
moeilik sonder enige infrakstruktuur. So ‘n paar jaar later raak dit weer
Kroongrond. In 1908 neem twee boere van die Morowa distrik weer die lease
op. Die pastoral lease, wat in die name van JJ Keefe en FJ McGuiness
geregistreer was, is 10 blokke en die grootte van die eiendom soos ons dit
vandag ken.
In 1910
verwissel die lease weer hande. Hierdie keer koop A.R Richardson dit en
registeer dit in die naam Dalgaranga Pty. In 1911 begin ene Wellard, sy
susterskind, by hom werk en teen 1915 is hy die bestuurder. Dis dan ook onder
sy bestuur, wat die grootste infrastruktuur tot stand gekom het. Toe hy
aanvanklik op die station gekom het, het hy in ‘n hut by White Water
Well gewoon. Laasgenoemde was ‘n bekende oorstaan punt vir transportryers
of die ou Cue pad. In hierdie tyd bou hy die station op. Hy bou ‘n homestead,
skeerskuur, span drade en grawe putte.
Vanaf 1917 – 1919 pak hy die enorme taak aan
om ‘n dam te bou. Hierdie was ‘n baie groot taak en sou selfs met vandag se
masjiene ‘n groot projek gewees het. Hy besluit om die dam op die
granietrantjie agter die huis te bou. Die sement word met Tom Seaman se wa en
donkies van Yalgoo af aangery en die granietklippe waarmee die wal gebou word,
word uit die rantjie gekap. Die boumateriaal word met ‘n slee wat deur donkies
getrek word, teen die rantjie uitgekarwei. Die dam se wal is 1.5m dik en 3.6m
hoog. Wanneer dit vol was, het dit 2 250 kiloliter water gevat. In die dorre
Outback was die dam net twee maal in sy leeftyd van 44 jaar vol gewees. Die
laaste keer was in Julie 1963. Onverwagse buie oor die groot opvangsgebiede het
verskeie riviere in vloed gehad. Daar was dus oral in die Yalgoo distrik vloede
en Dalgaranga se dam het vinnig volgeloop. Boonop het ‘n sterk wind gewaai en
die golwe van die water het teen die wal ‘gedruk’. In die middel van die nag breek die damwal.
Die water sleur meer as 25m van die wal saam. Bome, heinings en diere wat in
die pad van die water was word saamgesleur. Die water kom tot by die homestead.
Terug na die
boerdery aktiwiteite. In 1917 boer hul met 14 000 skaap op Dalgaranga. Uit die
rekords blyk dat dit goeie reënjare was en teen die middel twintigs is daar tot
22 000 skaap op dié station. Net hierna breek die depressiejare aan. Net
soos wat in Suid-Afrika die geval was, was dit ook maar hier. Heelwat mense is
daardie tyd uit hul grond uit. Richardson en Wellard byt vas tot en met 1943
wat hulle die station aan Cyril Ross verkoop. Ross se een seun Russell
en sy vrou Roma gaan woon op die station totdat Parks and Wildlife
dit koop. Russell en Roma was baie aktief in die gemeenskap. Hy het op verskeie
rade gedien nl: Nursing Post, Shire of Yalgoo, Yalgoo Hockey Club ens. Roma was
‘n tuisteskepper, wat ook hul kinders tuisonderrig gegee het. Sy was ook baie
aktief by die Childrens and Parents Home Schooling Association betrokke. Boonop het Roma ‘n lushof van ‘n
tuin in die woestyn gehad. Vandag is daar nie meer veel van die beroemde tuin
te siene nie.
Daar is twee
ander bekende kenmerke wat ook vermelding verdien as ons van Dalgaranga praat.
Die eerste is Dalgaranga Hill, ‘n lostaande koppie 650m bo seevlak, wat
letterlik bo die kaal vlaktes uittroon. Hierdie was van die vroegste tye af ‘n
baie bekende landmark en was dan ook deur die eerste landmeters as trigpunt
gebruik. Die tweede kenmerk is die Dalgaranga krater. Hierdie is ‘n kleinerige
krater, ongeveer 21m in deursnee en 3m diep. In 1967 is hier ‘n buitelug
museum opgerig.
Laaste maar nie
die minste, wat vermelding verdien, is die Dalgaranga myn. Twee Abbo broers Dan
en Don Todd ontdek in die rantjies om die homestead beryl terwyl hul een dag
bokke bymekaar maak om aan die plaaslike winkelier te verkoop. Gou-gou neem een
of ander myn maatskappy die regte oor en myn aktief vir die volgende 20 jaar.
Vandag is ‘n groot gat in die grond die
enigste getuie van wat eens myn was. Gebarste
sementakkertjies op die werf is die enigste getuies van wat jare gelede
Roma se spogtuin was. ‘n Ent verder skree die geraamte van die groot skeerskuur
stil sy storie van die goeie woljare uit. Ja, op die oog af is dit net nog ‘n
werf. Kyk jy egter fyn, sien jy die stories van voortuigang en ook swaarkry.
Van drome teenoor realiteit. Van oorblyfsels waaroor die westewinde rooi
bollings stof waai. In die verte swyg
Dalgaranga hill…
Die oorblyfsels van die damwal |
'n Myn gat daar êrens op die vlak |
No comments:
Post a Comment