DAARDIE ‘IETS’
As mens die
dag immigreer verander alles. Jou land, jou taal, jou vriende, jou meubels, jou
voertuig, jou klere, tot die kos wat jy eet. Seisoene is anders. Reuke, kleure
en geluide is anders. Huise, strate en dorpe is anders. Tot die son kom op ‘n
ander plek op. Links en regs van die huis, nie meer oos en wes nie. Eensklaps
verander alles. Die eerste tyd is jy verdwaas en jou brein vol muwwe kolle.
Later skop ‘n oorlewingsdrang in en jy durf eenvoudig die vreemde aan. Soos ‘n
sesjarige die eerste dag van sy skoolloopbaan, so pak jy alles aan. Met blink blink
oë en vol verwagtinge. En jy leer. Elke dag.
Nie net leer
jy ‘n nuwe land, omgewing en mense ken nie, maar jy leer jouself ken. Jy ontdek
‘n oorlewingsdrang in jouself wat jy nie eers geweet het bestaan nie. Jy leer
anders dink. Jy dink soos wat jy in die nuwe land moet dink om te kan regkom
met daaglikse goed. En dis nie noodwendig logies nie. Jy leer dat dit nie
noodwendig logies is dat ingemaakte beet, by die ingemaakte slaai op die rak
sal staan, soos jy gewoond is nie. Jy leer dat die bakpoeierhouertjie ‘n wit en
blou kartonnerige afêre is, al soek jou oë die eerste paar maande vir die
rooierige bakpoeier blikkie. Jy leer dat Palmolive nie badseep is nie, maar
skottelgoedseep. Dat witbroodmeel en koekmeel een en dieselfde is. Dat jy
allerhande eksotiese kruie en speserye in die kruidenierswinkel kan kry, maar
doodgewone anyssaad by die gesondheidswinkel moet gaan koop. Dat hul vlapoeier
sout is en jy liefs nie jou gebruiklike knippie sout moet byvoeg nie. Dat
gravox die nuwe bisto is. Dat bruinuiesop skaars is. Dat die plaaslike bier en
wyn die kleurrykste name het. Pure Blond, Little Creatures, Counting Sheep,
Third Verse (weet nie wat van die eerste twee geword het nie), Pink Passion Pop
en vele meer, wag jou by die bottelstoor in. Jy leer...
Iets wat jy
ook vinnig agterkom, is dat die poskantoor, nie vreeslik lang ure vir die
publiek oop is nie, maar wel die plaaslike “One Stop Shop” is. Pakkies stuur,
pos ontvang, belastingregistrasie, paspoortaansoeke en die verkoop van
skryfbehoeftes, lekkergoed en tuinkabouters is maar enkele van hul vele
dienste. Jy leer dat ‘n “Proof of age” kaart die nuwe identiteits dokument is.
Maar, jy doen daarvoor aansoek by die kantore van die Departement van Transport
en nie die poskantoor nie. Lekker uitgevangJ Jy sal ook agterkom, dat ‘n Bali vakansie meer bekostigbaar as
dagsorg en tandarste is en dat jy ‘n groter kans het om met Tony Abbot ‘n
afspraak te kry as by die plaaslike dokter.
Iets wat jy
nie so vinnig agterkom nie, is dat hul ‘spietkops’ in siviele klere EN voertuie
werk.
Jy leer dat
die winter die mooi seisoen is. Dit reën, is meeste van die tyd windstil en die
veld is mooi groen. Teen die einde van die winter is daar oral veldblommetjies
en dit verander die rooi sand in ‘n kleuryke tuin. Die sypaadjies en landerye
is ‘n sagtegroen. Kom die somer, is die storie egter heeltemal anders. Die wind
waai jou uit jou geloof uit en die veld is droog en stowwerig. Boonop is dit
vrekwarm met wolke vliee. So teen November begin jy oor die voordele van
antidepressante nalees. Net jou jaarlikse verlof en die see wat om die draai
is, laat jou darem nog huiwer om dit te gebruik. Teen Januarie lees jy daagliks
daaroor na.
Jy leer dat
die veld leeg is. Daar is nie wild nie. Kangeroo’s tel nie, want maak nie saak
hoe lank na hul kyk nie, hul sal nooit die prag en grasie van ‘n gemsbok hê
nie. Koala’s tel ook nie. Mens slaap saam met sagte wollerige beertjies.
Koedoe’s, springbokke en blesbokke sou tel.
Tog is daar
een lekker iets wat dieselfde bly. Maak nie saak in watter kontinent, land of
streek jy is nie. Vir my is dit ‘n baie baie lekker ‘iets’. Dit laat dink my
aan die ou oom wat gesê het, dat die lekkerste drie dinge in die lewe, treinry,
konsertina speel en kondensmelk drink is. (Seker nie noodwendig in die volgorde
nie.) Wel, hierdie lekker ‘iets’ is nie een van daardie drie dinge nie. Hier
word plattelandse treine meerendeels vir mynbou en landbou aktiwiteite gebruik
en hul weet nie eers wat ‘n konsertina is nie. Kondensmelk, wel dié kry jy hier
en dis steeds lekker. Maar terug na die punt. Hierdie ‘iets’ is in ‘n mate nog
lekkerder in ‘n vreemde land as in jou eie land. In Suidwes kon ek nie genoeg
daarvan kry nie en hier kan ek glad nie genoeg daarvan kry nie.
Dis egter nie
so geredelik beskikbaar in die stad nie. Dis nou enige stad en dié hier in
Annerland is nie ‘n uitsondering nie. Dit is in ‘n stad ook, maar die verkeer,
mense en gejaag maak dit weemoedig. Die yslike toringgeboue verdruk dit en die
gebrek aan vars lug versmoor dit. Dis verseker een van die redes waarom ‘n stad
nooit my eerste keuse van ‘n blyplek sal wees nie. Hoe verder jy die platteland
in beweeg, hoe meer is daar. Dis oral, jy moet net jou oë en ore oophou. Die Wes-Australiese
platteland is nie ‘n uitsondering nie. Daar waar die sogenaamde beskawing plek
maak vir boendoes, daar is baie hiervan. Die platteland léwe van stories.
Dit maak ‘n
Namibië en ‘n Wes Australië een. Die een het ‘n Kolmanskop, die ander ‘n Paynes
Find. Die een ‘n Adams Rust, die ander
‘n Kali of ‘n Muggon. Die een ‘n Maltahöhe, die ander ‘n Yalgoo en so meer. Vergete
se myndorpies, toe onder jare se sand. Vir die oog wat nie mooi kyk nie, of die
oor wat nie mooi hoor nie is dit bloot vaal stowwerige dorpies en verveling ou
plase. Vir ons storiemense is dit egter anders. Stap jy deur Oakabella se
homestead, kry jy dieselfde gevoel as wat jy in Kolmanskop se toegewaaide
hospitaal kry. Jy kan die stories sien. Jy kan dit hóór. Jy kan dit vóél. Stap
jy deur die ou huise of oor die plaaswerwe, wonder jy wie die eerste mense hier
was. Hoe het hul hier beland? Wat was hul lief en leed? Hul ideale. Hoe het hul
‘n lewe gemaak? Hoeveel kinders het hul gehad? Waar het hul water gekry? Wie
het op hierdie spesifieke plek gestaan en ‘n groot dam in sy geestesoog gesien?
Wie het dit gebou? Hierdie vrae bly jou by en jy gaan lees daaroor. Dan raak
die vrae net meer. Jy lees, jy soek en jy kom op die kosbaarste stories af.
Waar daar
stories is, kan ek leef. Hul praat met my en ek verstaan hul. As ek nie
verstaan nie, soek ek tot ek verstaan. Hul maak my lewe vol.
So, kom ons
laat die stories loop!