OAKABELLA STATION
Op die oog af is Oakabella ‘n ‘station’
soos alle ander ‘stations’ in Wes-Australie
. Tog is hierdie een uniek as jy na sy geskiedenis gaan kyk. Wat van die hedendaagse beweringe waar, is en wat nie, sal ek my nie oor uitlaat nie, maar ek sal wel graag die leser op ‘n kort feitlike toer deur Oakabella wil neem. Ek sal probeer beskryf wat ek gesien het en hoe ek dit beleef het. Hierna kan die leser self besluit wat hy of sy hiervan dink.
. Tog is hierdie een uniek as jy na sy geskiedenis gaan kyk. Wat van die hedendaagse beweringe waar, is en wat nie, sal ek my nie oor uitlaat nie, maar ek sal wel graag die leser op ‘n kort feitlike toer deur Oakabella wil neem. Ek sal probeer beskryf wat ek gesien het en hoe ek dit beleef het. Hierna kan die leser self besluit wat hy of sy hiervan dink.
Wintertyd is die ryk rooi sand van
Wes-Australië toegegooi met ‘n sagtegroen opslagkombersie. Pers, geel en wit
blommetjies gee nog meer kleur aan die kombersie. ‘n Paar kilo’s noord van
Geraldton tussen golwende rante, knus teen ‘n rivier en ‘n klipgooi of drie van
die see af, sal jy Oakbella ‘station’ kry. Hierdie station is ongeveer 150 jaar
reeds in Europese besit en het ‘n groot vriendelik plaaswerf. Noord van die
huis, staan ‘n enorme wildevy waarin ‘n swerm papegaaie baljaar. Die klipopstal (homestead) self is op ‘n
rantjie geleë en kyk uit oor die loop van die rivier. ‘n Entjie verder na die
suidekant, is daar ‘n groepie buitegeboue met onder andere ‘n groot skeerskuur.
Tussen die opstal en die buitgeboue is die buite kombuis, soos wat dit die
gebruik van daardie tyd was. Daar is ook ‘n kerk / skuur met ‘n solder. Oor dit
alles, hang ‘n loom plaaswerf-vrede.
Sodra jy egter deur die geboue begin stap,
kan jy aanvoel dat hierdie ‘n besige werf was en steeds is. Hier het dinge
gebeur en mense geleef. Hier het mense
gewerk en daar is duisende skape deur daardie skeerskuur. Die skeerders moes
kos hê na ‘n dag se harde arbeid en jy kan jouself probeer indink hoeveel potte
kos daar in die nederige klipkombuis gemaak is. Ek kan my indink hoe die klomp
skeerders saans met hul borde kos gesit het , terwyl hul die dag se gebeure bespreek
het en hoe die kok gespook het om almal se mae vol te hou. Tussendeur was daar
nog ‘n span wat die lande moes bewerk. Die gereedskap in die skuur vertel ‘n
storie van hul eie. Van swaarkry met gesukkel klaarkry. Van planne maak in ‘n
harde vreemde land met nog vreemder peste. Daar is onder andere ‘n kontrêpsie
waarmee hul hase uit die gate gerook of gejaag het. Dit is silinder vormige en
jy stook dit met groen bloekomtakke vir die maksimum rook. Die slinger word
gedraai en die rook word dan met behulp van en ‘n rubberpyp in die konyne se
gate gepomp. Ek weet nou nog nie of die
rook, of die onaardse geluid wat die ding maak, veronderstel is om die hase uit
hul gate te jaag nie.
Dis egter in die 13 vertrek huis wat mens
regtig begin wonder oor die mense wat die afgelope byna eeu en ‘n half hier
gebly het. Wat jy begin wonder oor hul wel en weë, oor hul voor en teenspoed.
Met reg ook, want kyk jy dieper sal jy sien dat daar baie was. Dis dan ook van
hier af wat ek my bloot by die feite gaan bepaal en waar elke leser sy eie
gevolgtrekking kan maak. Hierdie opstal is soos meeste van die ou plaasopstalle
(van Suidwes tot in Wes-Australië) enorm, maar uiters onprakties. Dit het 13
vertrekke maar is soos ‘n swaeltjie se nes gebou. Die een vertrek loop uit die
ander en daar is geen gang.
Toe ons saam met ons gids Loretta by die
kombuis se kant instap, kry ek dadelik ‘n plaashuis gevoel. Die meubels is
dieselfde ou kombuiskas met die glasdeure en horlosie bo in die middel, wat ek
nog in my ouma se kombuis leer ken het. Dieselfde liggeel kleur met ‘n groen
blad. Die breekgoed wat in die kombuis uitgestal is, is van praktiese
skottelgoed tot dié wat goed genoeg is vir ‘n ‘high tea’. Soos soveel male tevore,
staan ek verstom oor die vlak van beskwawing wat die mense hier in die gopse
gehandhaaf het. Ek kan my net probeer indink, prakties gesproke, hoe moeilik
dit was. Soos wat ons verder deur die huis loop val die ou soliede hout meubels
uit die 1800’s my dadelik op. In meeste van die vertrekke is kaggels ingebou.
Die eerste ry vertrekke kyk dan ook almal uit op ‘n stoep wat die lengte van
die huis is.
Dan vertel Loretta jou van bietjie meer van
die inwoners van die huis, wat volgens haar en die meer sensitiewe siele in die
lewe, nog steeds inwoners is.
In 1885 tref ‘n vreemde tragedie Oakabella.
‘n Driejarige seuntjie staan voor die venster van een van die leefvertekke, wat
uitkyk op die rantjies oorkant die rivier. Op ‘n onverklaarbare manier, val die
venster op hom in en hy breek sy nek. In 1901 het ene Elliot, wat op daardie
stadium die eienaar van die station was, ‘n tragiese ongeluk gehad. Hy het,
soos dit die gebruik daardie jare was, gaan visvang met dinamiet. Wat presies
gebeur het, weet niemand, maar die dinamiet het in sy hand afgegaan. Hy het wel
die huis gehaal en ‘n dokter het sy arm en been geamputeer. Elliot het bly leef
om sy storie te vertel, maar het nooit vrede gemaak met sy ongeluk nie. In 1918
tref Spaanse griep die station en nog ‘n sewejarige seun beswyk. Hierdie keer
aan griep. In 1973 maak ene George
Jackson sy geweer skoon, soos wat hy nog al die jare gedoen het, maar die
geweer gaan op ‘n manier af en so sterf hy.
Dis omtrent ‘n string tragiese en hartseer
gebeurtenisse vir een plek Vir my was dit
bloot ‘n mooi plaaswerf met ‘n ou huis met die allermooiste houtmeubels.
Ook vra ek myself, hoeveel plase en plaashuise het sulke tragiese stories om te
‘vertel’? Ek dink heelwat meer as wat ons dink, veral dié wat ver afgeleë is.
Ongelukke gebeur en hulp, primitief soos dit ook maar was, was dagreise ver.
Vir my is Oakabella se storie, net nog ‘n
storie. Een wat vertel moet word.
Die buitekombuis
Die uitsig vanaf die voorstoep
Dankie
ReplyDeleteDankie
ReplyDelete