‘N BAK?
Daar is die enkele dae wat my gedagtes sommer
net die loop kan neem. As ek weer sien is hul op in volle vaart oppad, nes ‘n
trop gemsbokke wat reën geruik het. Dis
net klippe wat spat, klappende hoewe, oopgesperde neusvleuels en wee, oo wee,
dit wat in hul pad kom. Nou, my gedagtes
is ook so, daar’s weinig wat hul kan stuit as hul eers die loop geneem het. Dit
het alles begin met ‘n enamelbak. Jip, ‘n doodgewone afgeërde enamelbak, op ‘n
koue wintersaand in my Annerland-pophuiskombuisie.
Buite was dit
reeds donker en die wind het boos aan die die palms voor die kombuisvenster
geruk. Dit het by tye woedend vlae reën op die agterstoep se dak gesmyt. Buite was dit koud en onplesierig. Binne was
dit darem warmer. Die geur van masala,
borrie en warm asyn het swaar in die lug gehang en op die bank het Kattie
haarself in ‘n slakbondeltjie opgekrul. Op soek na bietjie hitte. As teenvoeter
teen die koue en mistroostige weer, het ek besluit om bobotie te maak. (Anders
het ek myself dalk ook in ‘n slakbondeltjie opgekrul.) Regte egte bobotie met vet rosyntjies. Nou ja
om ‘n lang storie kort te maak, dié bobotie word toe in die wit en blou
enamelbak gebak. ‘n Bak wat ek byna elke
dag gebruik, maar dié betrokke aand maak die bak iets in my gedagtes los...
... en daar gaat
die ‘gemsbokke’!
Wat die presiese
oorsprong van Die Bak is weet ek nie, maar ek kan my indink. Dis ‘n bak wat uit
een of ander ouma of grootouma se kombuis gekom het. Vandat ek kon onthou was
die bak tesame met allerhande ander kombuisware, in die witgeverfde kombuiskas
op die plaas. Dat dit ‘n berese stuk
kombuisware is, is gewis en ek wens ek kon sy storie ken. Nou ja, ek is lief
vir stories en waar daar nie een is nie, maak ek sommer een.
Het dit sy
oorsprong by grootouma gehad is dit heel waarskynlik by een of ander smous
gekoop of geruil, terwyl hul die land met kar en perde deurkruis het. Die
eerste deel van grootouma en -oupa se lewe het hul ook maar in ‘n tent en wa
gewoon. Soos dit met die meeste pioniers gegaan het, het hul ‘n lewe uit
transportry en boerdery gemaak. Beide het heelwat reis vereis. Die staning is
deurgaans versit na gelang van beskikbare suipings en vragte. In 1928 bou
grootoupa Coen die kliphuis op Adams Rust. Grootouma se eerste regte egte huis.
Het die bak sy
oorsprong by ouma Dina gehad, is dit waarskynlik by een of ander plattelandse
handelaar gekoop. Vermoedelik ou Charney in Mariental of dalk Pupkewitz op
Kalkrand? ‘n Handelaar wat enigiets van ‘n speld tot ‘n dooie poliesman verkoop het. Sy winkel sou effe donker gewees het aan die binnekant. Hyself sou
agter dit toonbank staan en nougeset jou bestelling afmaak. Saam met dié generasie sou die bak uit die
Namib, Adams Rust toe skuif.
In die begin
sewentigs neem my pa die familieplaas oor. Hy erf die plaas, die kliphuis,
losgoed, waaronder die bak vermoedelik ook was.
Dis dan ‘n paar jaar later wat ek Die Bak leer ken het. En hiervandaan
is Die Bak se storie nie meer ‘n opgemaakte storie nie, maar ‘n regte egte een.
Ma het dit nie veel gebruik nie, vermoedelik omdat die maar ‘n kleinerig bak
is. Net genoeg vir vier miskien ses
mense. Let wel: mense. Nie groeiende Strydoms seuns nie. Dit was ook heeltemal
te klein vir somertyd se familiekuiers of wintertyd se jaggaste. In ons huis
was daar nooit min mense nie.
Dis heel moontlik waarom Die Bak later by my
geland het. In my eerste woonstel begin ek Die Bak gebruik. Vir alles. Dis net
die regte grootte vir byna al my resepte. Van bobotie, pastei, groente,
oondpatats tot by poeding, pannekoek en melksnysels. Boonop kan dit van die
oond na die tafel na die yskas, sonder ‘n onnodige uitskep- en gewassery. Dis
prakties en onbreekbaar. Dis mooi genoeg vir die tafel en prakties genoeg vir
die kampvuur. Kyk, in my huis was enamel items ‘n ‘trendie’ item lank
voordat Sarie daaroor begin skryf het of
Mastechef hopies grênd kos daarin bedien en almal koorsagtig blou en wit enamelware ten
duurste begin aanskaf het.
So, hierdie Bak
het vele lief en leed aanskou. Dink net aan al die stories wat dit aan elke
etenstafel en om elke braaivleisvuur aangehoor het. Dit het deur generasies se
slegte en goeie tye geleef. Deur menige droogte, misoeste en goeie jare. Deur
mislukte resepte en brousels. Deur wonderlike huis geregte. Dit was so tuis
langs die kampvuur soos op die Sondag
etenstafel.
Nou ja , die
laaste been van Die Bak se (huidige) reis begin 29 Maart 2013 toe dit amptelik
aan boord, van een of ander vragskip, die Afrika vasteland verlaat vir ‘n nuwe
Bak-generasie hier in Annderland. En ek ken die deeltjie van die storie, maar
wie gaan dit oor ‘n paar jaar nog weet? Niemand, want dis bloot ‘n bak. Vir
hulle...
No comments:
Post a Comment