Thursday, 20 November 2014


GREENOUGH

Greenough is ‘n historiese nedersetting wat ongeveer 400 km noord van Perth en 24 km suid van Geraldton geleë is. Hierdie was dan ook die eerste dorpie in die geweste en vandag staan daar nog elf van die oorspronklike geboue wat deur die National Trust of Australia bestuur en beheer word. In 1839 is George Grey die eerste westerling wat hierdie area kom verken. Hy vernoem dan ook die area na Sir George Bellas Greenough, wat op daardie stadium die president van die Royal Geographical Society in Londen was.
In 1851 word ongeveer 30 000 (nagenoeg 120 vierkante kilometer) akker opgemeet en onderverdeel in 20 tot 30 akker groote plotte. Hierdie gedeelte staan dan bekend as die Greenough Flats. Die doel van die Flats was om meer Engelse setlaars, wat gewoond was aan kleiner as Australiese standaard plase, aan te moedig om hul in hierdie, tot toe nog byna onbewoonbare gebied, te kom vestig. Binne ‘n paar jaar is die Flats ‘n suksesvolle graan-produserende gebied met ongeveer 1 000 inwoners, waaruit ‘n klein dorpie ontwikkel.
Hierdie dorpie het ‘n polisiestasie en tronk, ‘n skool, ‘n Anglikaanse en Katolieke kerk, ‘n klooster, meule, ‘n paaiekantoor, ‘n gemeenskapsaal en ‘n algemene handelaar. ‘n Entjie verder van die dorpie is die Wesley Church, nog ‘n handelaar en ook die Convict Bridge.
 Stap jy vandag deur die dorpie se straat, kan jy jou byna indink hoe ‘n skemeraandtoneel in hierdie dorpie moes gelyk het. As die middag room word en goud op die omliggende koringlande kom lê het, sou die winkelier sy negosiegoedjies van die stoep af ingedra en sy winkel se houtdeur toegetrek het. Die mans sou streep-streep, met hul gereedskap in die hande, van die lande af teruggekom het. Moeg na ‘n dag se harde werk in die warm son. Teen vroeg skemer sou die koperklok suid van die Katolieke kerk lui om sodoende die nonne te herinner aan die aanddiens.
Wanneer strek skemer sag oor die dorpie kom vou, sou die dames, deftig uitgevat in hul Victoriaanse drag aan die sy van hul ewe deftige mans, na die gemeenskapsaal stap vir ‘n dansparty. Dit terwyl die polisieman aan diens moet bly, want soos dit in daardie jare gewerk het, is sy woonkwartiere, die polisiestasie, die hof en tronk als in een gebou. Hy sou laatnag, wanneer slegs die vae klanke van die bedrywigheid by die gemeen-skapsaal nog hoorbaar is, sy swaar bos sleutsels en parafienlamp vat en stoep-langs omstap tronk toe om kyk of als nog pluis is met die prisioniers. Die prisioniers wat in koue klipselle sit. Wittes elkeen in hul eie sel en die Abbo’s almal saam in een sel, vasgeketting aan die yster-reëling teen die muur, met die die ysige nagkoue en duisternis as enigste geselskap. (Liewe leser, moet asb nie meegevoer raak nie, hul was áfterall’net prisioniers!)
Vanaf 1872 tot in die 1900 tref ‘n paar natuurrampe Greenough, wat dan  saam met die ontdekking van goud in die binneland, daartoe lei dat die gebied teen die 1900 sou leeg loop. In 1872 tref ‘n sikloon die nedersetting. Kort op sy hakke in 1888, vloed die nedersetting. (Die vloedmerk is vandag nog in baie van die geboue te sien. Byna soos Mariental, verloor die inwoners byna, indien nie, alles.) Die ontdekking van goud in die vroeër 1900, was die laaste strooi en die gebied loop leeg. In 1980 word hierdie geboue deur die National Trust oorgeneem, gerestoureer en bewaar. Vandag is hierdie stukkie geskiedenis daar vir elkeen van ons en sodra jy deur daardie hekke stap, stap jy terug in tyd en jou verbeelding neem sy eie loop...

 

 

 

-

 

No comments:

Post a Comment

MEER AS NET ‘N KWILT Vandat ek kon onthou was kwilts, of soos dit in die volksmond bekend staan, lappieskomberse deel van my lewe. Me...