Sunday, 25 October 2015

ODE AAN ANNERLAND

Stippeltjie-op-die-aardbol-land.
Met jou turkoois see en bloed sand.
Doer, vér ver ver onder…
Oor jou, het ek altyd gewonder.

Gewonder oor jou vreemdsoortige diere:
Naglewend, hopend, kruipend en tonnelgrawend.
Jou plantegroei, vaalgroen van blaar en blommend met swier,
wanneer hul die eerste reëns vier.

Gewonder oor jou wêreldberoemde riwwe.
Party van kosbare koraal.
Ander word gemyn en met industriële siwwe,
word onskatbare rykdomme uit die rooi grond gehaal.

Gewonder oor jou tongknoper plekname,
Soos Joondalap, Mullewa en Ballingup,
met jou saamgeflanste taal tesame,
“Ye ‘snotbad Mate, whats up!”    (is not bad)

Nou na ‘n paar maande in die vreemde,
het jy amper my hart verower.
Tog is daar steeds ‘n verlange-leemte,
na Suidwesvalktes wat my so kan betower.

En tog, Annerland,
Stap ek en jy hand aan hand.
Dag vir dag, tree vir tree, leer mekaar versigtig ken
Miskien sal jy in die verre toekoms ‘n deeltjie van my hart wen.

Net miskien...

No comments:

Post a Comment

MEER AS NET ‘N KWILT Vandat ek kon onthou was kwilts, of soos dit in die volksmond bekend staan, lappieskomberse deel van my lewe. Me...