BLINKHAAR GRASSAAD IN DIE WIND
Hierdie storie handel oor 'n graspol. Ja, 'n graspol, wat in die veld staan en waaraan skape lustig kou. Uit 'n boerdery oogpunt gesien, is dit gras wat 'n goeie bron van voeding is. Dis ook gras wat volop voorkom in die droeë suidwestelike dele van Suidwes waar ek groot geword het. Iets wat eie is aan my en my land. Maar die graspol-storie het 'n draai...
In hierdie deel van die land is reën skaars en die plantegroei soms skaarser en die wat wel daar is, meestal net so gehard soos die res van die veld. Hier kry jy onder andere 'n droeë graspol wat sommer nuwe lewe kry, enkele dae nadat die eerste reën geval het. Die gevestigde polle se wortels drink die vog op en die pol raak van onder af groen, terwyl die nuwe polletjies baldadig groei en braaf, teen die warm Suidwes-son, hul sagte groen blaarjies deur die aardkors druk.
Gedurende die reënseisoen bly die gras groen en is die veld oortrek met 'n heldergroen lewegewende skynsel. Later in die seisoen vorm die sade, maar skaam-skaam bly hul eers toe tot die draai van die seisoen. Teen April, Mei staan die blinkhaarpolle gewoonlik vol in die saad.Swaar en blink hang die ritse ryp grassade aan die dun stingeltjies.
Wintertyd is blinkhaartyd. Dan is die gras op sy mooiste, die groen weg en dan bly net die strooikleur gras met hul blink sade oor in die veld. Die rante van ons ou wêreld is dan oortrek van dié gras, wat liggies in die wind waai. Sover soos die oog kan sien, staan die massa wuiwende gras en as jy teen die weste son daarna kyk, maak dit jou oë seer so mooi en blink is dit. Die diere raak 'weg' in die pragtige gras.
Dan kom Augustus en teen daardie tyd is die grassade ryp en val dit af. Saam met Augustus kom die westewinde wat dae lank bollings stof oor die velde waai. Die wind wikkel dan die blink saadjies los en dra dit oor grense heen. Bedags sien jy die grassade op die wind dryf en laat namiddag as die wind bietjie gaan lê het en jy in die klipperige tweespoorpaadjie gaan stap, sien jy die blink grassaadjies waar hul in die harde grond vasgesteek het. Reg, om die kringloop van vooraf te begin sodra die eerste reën in Oktober, November val.
Ons mense is ook maar net soos blinkhaargras. Ons gaan deur dieselfde kringloop. Inteenstelling met die geordende en vasgestelde manier en kringloop van die natuur, is s'n soms maar soms 'n deurmekaarspul en volg dit nie so mooi opeen nie. Maar op die ou end, is al die stadiums steeds daar en het ons aardse lewe ook maar 'n siklus.
Party van ons is in jou groen reëntyd-stadium, terwyl ander in hul wintertyd-stadium van die lewe is. (En dan het dit nou niks met ouderdom te doen nie.) Andere is weer in hul westewind-staduim. Ek is.
Ek is tans 'n blinkhaarsaadjie op die westewinde van die lewe. Hy gaan my waai, hy gaan my oor grense, geografies en andersins, heen vat. Soms vinnig en in warrelende sirkels, soms rustiger, soms so vee-vee oor die grond. Maar iewers moet die wind gaan lê en dan gaan hierdie saadjie haar lê kry. Daar sal sy eers versigtig in die grond vassteek en wag op die eerste reënseisoen. Na die reën sal daar 'n polletjie vorm, wat stadig maar seker wortels sal vorm...
Stories was en is steeds 'n wonderlike deel van my lewe. Dit is dus gepas dat die 'stories' blog my storie vertel.
Monday, 11 February 2013
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
MEER AS NET ‘N KWILT Vandat ek kon onthou was kwilts, of soos dit in die volksmond bekend staan, lappieskomberse deel van my lewe. Me...
-
MEER AS NET ‘N KWILT Vandat ek kon onthou was kwilts, of soos dit in die volksmond bekend staan, lappieskomberse deel van my lewe. Me...
-
DALGARANGA Padpredikant Vat jy die pad uit Geraldton na die noord-ooste, ry jy deur die ‘n kleine deeltjie van die hartland van die ...
-
AKWARIUM VAN WES-AUSTRALIE AQWA My gedagtes, my onthou en my lewe is in kleure. Sommige mense het weer met reuke ‘n assosiasie. Of k...
Ja my ou maatjie, ek is beslis 'n saaitjie wat deur die wind rongeslinger word en nog nie 'n rusplekkie gevind het nie.
ReplyDelete