Hierdie
is ‘n stukkie wat ek lankal wou skryf, maar dit het nog altyd agtergebly. Dit
sluit bietjie aan by my laaste skryfseltjie, waarin ek ons taal besing het en
tog het hierdie een het so ‘n bietjie meer van ‘n persoonlike kleur.
Ek
het nou maar eenmaal ‘n sagte plekkie vir Afrikaans en dit sal seker maar altyd
so wees. Daar is baie fasette waarin Afrikaans vir my uitstaan, waarop ek nie
nou gaan ingaan nie. Maar een van die besondere dinge is verseker die
spreekwoorde. Daar is erkende spreekwoorde en dan dié wat in ‘n streek of
familie gebruik word. Dis gewoonlik laasgenoemde wat kosbaar is, maar
ongelukkig deur generasies heen verlore raak. Spreekwoorde, vergelykings of
sommer maar net sêgoed, maak enige gesprek kleurryk. Boonop is dit soveel
makliker om jouself uit te druk as jy hierdie taaljuweeltjies kan gebruik.
In
hierdie stukkie wil ek graag ‘n paar sêgoed van oupa Coen met julle deel.
Sommige is nie vir sensitiewe lesers of taal puriste nie, maar is nou maar
eenmaal beskrywende en leef steeds voort in ons huis. So, lees, geniet en knyp
maar die oë toe as jy dit nie wil sien nie.
Wanneer
Geitjie en Koggelmander by ‘n plek byeen is, is daar min of meer iets
van alles wat soortvan dieselfde lyk, maar eintlik baie verskil, daar bymekaar. Dis baie beskrywende en jy kan baie sê,
sonder om te veel te sê of enigsins aanstoot te gee.
Wanneer
mense of kinders soos dors bees is, is ‘n situasie wat die leser
hom- of haarself kan indink. Wanneer beeste afkom water toe en dors genoeg is,
moet jy nie tussen hul en die water kom nie. Hul ontsien niks of niemand, storm
water toe en trap als wat voorkom. Hul maal om daardie krip, dat jy die
stofwolk van ver af kan sien. So as iemand soos ‘n dors bees is, is hy op sy
missie en ontsien niks of niemand.
Wanneer
jy nie betyds vir ‘n geleentheid of afspraak opgedaag het nie, het jy gewoonlik
weggelê soos ‘n bieslammetjie in die bossies. Dié van julle wat al ‘n
pasgebore lammetjie met ‘n pensie vol bies gesien het, sal presies verstaan. As
daardie lammetjie dik gedrink is, soek hy net ‘n lêplekkie onder die naaste
bos. Dan kan hoor en sien vergaan, sy ma kan blêr, boer kan soek en selfs oom
Jakkals en ant Bobbejaan kan ‘n draai maak, maar lam se kind sal slaap. Daar is
net een ding wat hom sal wakker kry en dis as sy magie weer begin dun raak. So
as jy weggelê het soos ‘n bieslammetjie in die bossies, beteken dit jy het
weggebly sonder enige verskoning of verduideliking.
Wanneer
iemand soos ‘n blaar in die wind is, is hy vandag hier en more daar. Hy
gaan bloot waar die lewe hom vat en bekommer hom nie veel oor die dag van more
nie. Net soos ‘n droë blaartjie in die wind.
Hier
is my gunsteling sêding en persoonlik dink ek dis baie beskrywend. Wanneer iets
op genade sit, het oupa altyd gesê daardie ding hang aan sy ooghare. Nou
ja, liewe leser, jy kan jou indink hoe seker jou hang is as jy aan jou ooghare
hang. Dis maar ‘n erg onseker hang daai en tog hang dit so op ‘n manier.
Wanneer
iemand so ongewild is soos die kat wat in die spens gepis het, is hy BAIE
ongewild. Kom ek verduidelik vir die
gelukkiges wat nog nooit met ‘n ongeskikte kat te doene gehad het nie. In die
eerste plek, kom ons noem dit nou maar by die naam, ken ons almal katpiepie. Jy
ruik dit gewoonlik lank voordat jy dit sien. So dan loop jy ruik-ruik deur die
huis om DIE KOL te prober opspoor. Indien jy gelukkig genoeg is om dit op te
spoor, kry jy dit vir niks en met niks skoon nie. Of dalk kry jy dit skoon,
maar daardie reuk bly! Geen skoonmaakmiddel of boereraat help nie. En selfs al
is die reuk meer leefbaar moet jy liefs nie te vinnig bly raak nie., want
wanneer die eerste onweer in die lug is, is DIE REUK terug. So, die reuk deel is
uiters onsmaaklik en ongewild en, dink jou nou net in, dan is dit nog in die
spens ook…
Wanneer
iemand hoed vasdruk, beteken dit dat hy rieme neerlê. In gewone Akrikaans: hy hardloop. Nou, jy kan hoed vasdruk oor verskeie redes. Oupa het
immers ook altyd gesê dat ‘n mens baie vinnig kan wees, hang net af wie sy
drywer is. As kinders moes ons hoed vasdruk as ons kwaadgedoen het en
oupa dit agter gekom het. Daardie kosbare minute tussen agterkom en plak gaan
haal, het ons gewoonlik hoed vasgedruk.
Ek gaan dus afsluit met ‘n hoed vasdruk staaltjie. (Ek dink die
grootmense het in idiome gepraat, nie noodwendig om ons te leer nie, maar
eerder omdat hulle nie so vinnig soos ons kon hardloop nie.)
Een
goeie dag sit ek en Coenie doodonskuldig onder die prosopisboom en speel. Ek
dink amper ons albei was nog voorskool, ek definitief. Dis somer en baie warm
op ons Suidwesplaas. Al wat hoorbaar is, is die gezoem van die heuningbye wat
stuifmeel in die prosopisbome versamel. Pa kom van die groot tuin se kant af
huis toe, haal sy hoed af en so in die verbygaan sê hy: “Ek het ‘n appeltjie
met julle twee te skil.” Ek is dadelik vreeslik opgewonde, pa gaan vir ons
appels skil! Inderdaad nie iets wat elke dag gebeur nie. (Eintlik sê hulle ons
moet die skille eet, dis waarin die voedingswaarde is ens.) Coenie wat ouer en meer geletterd was, het
dadelik die impak hiervan besef en voorgestel dat ons moet hoed vasdruk.
Wat ons toe ook gedoen het. Op daardie stadium het ek hom net gevolg, want
hoewel ek nie geweet het wat pa nou regtig gesê het nie, het daardie baie
betroubare sesde sintuig van ‘n kind ingeskop. Om ‘n lang storie kort te maak,
vat ons die pad, veld in. (In daardie kosbare minute wat pa in die huis ingaan
om die Rooi Riem te gaan haal.) Teen die tyd wat ons weer huis toe gekom het,
was pa nie meer kwaad nie en ons het toe nooit pak gekry nie.
Waaroor?
Baie jare later vra ek eendag vir pa, waaroor hy ons daardie dag wou pakgee en
of hy dit nog onthou, want met die weghardloop het ons nooit by die oortreding
uitgekom nie. Daar was nie tyd nie en na die tyd praat jy ook nie onnodig
daaroor nie, want nou net onthou pa weer. Ja, sê hy hy onthou dit baie goed. Hy
het blykbaar die dag van die tuin af huis toe gestap. Die groot groentetuin was
so 800m van die huis af. Daar is ‘n dam en windpomp, maar daar is ook ‘n
pypleiding van die huis se dam af. Dis so ‘n swart plastiekpyp en wanneer daar
te min water in die onderste dam is, pomp ons uit die boonste dam water. Ek, met die beste bedoelings op aarde, het ‘n
pendoring gevat en klomp gaatjies in die pyp gesteek. Sodat Maja die By kan
water hê! So toe pa die middag huis toe kom, sien hy net die boeë water staan.
Later jare, toe die gaatjies al ouds toegekalk is en ek verstaan het wat
‘appeltjie skil’ beteken, het ek hom toe van Maja vertel. En so kry ons
nou nog snaaks daaroor.
So-by-so
is dit blykbaar net Suidwesters wat snaaks kry oor iets. Ek sal nie weet nie, maar wat ek wel weet.
Sodra jy so-by-so sê, weet die mense presies waarvandaan jy kom. Blykbaar is dit ook net Suidwesters wat die
woord onsmaaklik as beskrywing vir alles behalwe kos bebruik. Vir Suidwesters
is die weer, die buurman, die hond se middernagtelike geblaf, die liedjie oor
die radio ens, onsmaaklik.
Wel,
ons het ‘n unieke land. Dan is dit seker niks minder as reg om unieke
taaljuweeltjies ook te hê nie?
Dankie. Is al in Suid Afrika baie snaaks aangekyk oor "So-by-so". Gevra wat dit beteken en dan kan ekself nie verduidelik nie. Ander een wat ek dink eie aan Suidwes is, is "Koffer". Het die stukkie geniet.
ReplyDeleteToe oupa hier by ons gebly het, het hy altyd vir ons gesê "kom hier ou neef ek het ñ appeltjie met jou teskil" of as jy met hom oor iets verskil het, het hy vir jou gesê "maar ek sê" hy het dit altyd so uit gedruk. Het nou tog so lekker gekry toe ek die lees, dankie nig dis goeie ou dae gewees.
ReplyDelete