Wednesday, 17 June 2015


WAARDE VAN EENVOUDIGE DINGE

Mens kry dromers en jy kry realiste. Almal van ons val in een van hierdie kategoriee. Sommige van ons, is dalk bietjie dromer, bietjie realis.  Deesdae noem die geleerde mense dit onder andere linker- en regterbrein dominant. Hul het baie slim toetse om te bepaal watter kant van die brein dominant is. Hul kan sê of dit oorerflik is en of dit deur omstandighede gevorm is. Of dit ‘n aanwendsel is en of een of ander iets of iemand op jou lewenspad jou beinvloed het. Of ietsie van jou grootouma of ietsie van jou Sub-A juffrou, iewers in jou vasgesteek het.

Ek beskou myself meer van ‘n dromer as ‘n realis. Hoekom? Wel ek lewe in kleure, in woorde en wanneer ek iets skeppend doen is ek op my gelukkigste. Ek lewe in stories, van stories en vir stories. Daar is te alle tye iets storie gewys aan die gang in my kop. Soos mens egter ‘n entjie op die lewenspaadjie loop, leer jy om soms ‘n realistiese, nugtere uitkyk te he. Jy leer dit, dit kom nie natuurlik nie. Jy leer om die bul by die horings te pak en die lewe terug te skouer. (Partymaal sommer dat hy hik.) Jy leer om elke dag vir agt ure agter ‘n lessenaar te sit en na twee skerms voor jou te staar. Kompleet soos een of ander laboratoriumrot, waarop daar vreemde futuristiese eksperimente gedoen word. Jy leer om die skreeuende stilte van ‘n rekenmeesterskantoor te verstaan. Dis nou uitgesluit die geluide van die lugverkoeling, drukkers, rekenaars en telefone wat jy naderhand, weereens, leer verdra. Jy leef saam met flourescent ligte, al skyn die son baldadig buite. Jy leer om die twyfelagtige ‘vars’ lug wat deur die verkoelingstelsel, op jou geblaas word, in te asem sonder om miljoene, mikroskopiese kieme te visualiseer. (Maar die stowwerige plastiekplant in die hoek van enige opregte rekenmeesterskantoor, is en bly nog steeds een te veel vir my.)

Jy probeer syfers in kleure en geure sien, want net miskien as jy dit so om doen, is dit so bietjie interessanter as ‘n toebroodjie, wat dae lank in ‘n songebakte kar vergeet gebly het. Ter oorlewing sit jy ‘n blommetjie vir Debiet op en trek vir Krediet ‘n das aan, dit maak ten minste die visualisering meer aanvaarbaar.  Jy dagdroom in ‘n onbewaakte oomblik van finansiele state op gekleurde papier met interessante randpatrone, wat in ‘n unieke handskrif uitgeskryf is. (Dink nou net, as een of ander groot maatskappy se swartpak direkteure so ‘n stel Finansiele State in hul “all glass and chrome boardroom” moet kry. Hulle verstik verseker almal aan hul gebottelde water en peperminte.) Die grootste kontradiksie wat jy seker kan kry, is wanneer ‘n kunssinnig persoon in die rekenmeestersberoep beland. Nou kyk, dit is ‘n resep vir lewenslange frustrasie of lewenslange innovasie. Jy is die enigste een wat kan kies hoe jy dit gaan hanteer. Wat jy daarvan gaan maak.

Ek gebruik die rekenmeensterskantoor, bloot as ‘n voorbeeld. Daar is vandag soveel mense in beroepe, wat net glad nie sy of haar belangstelling is nie, maar wat wel vir die brood op die tafel sorg. Hoe gemaak? Daardie vraag het ek myself ook al ‘n paar maal afgevra. Nie almal van ons kan doen wat ons wil nie en ons hoef ook nie. Ons kan wel innoverend raak met betrekking tot die werk wat sorg vir die brood op die tafel. Innoverend? (Ja, ek hoor nou al hoe die leser kla en mor.) Dit is dalk makliker gesê as gedaan, maar heeltemal moontlik. Daar is geen vinnige wenresep daarvoor nie, maar wat ek wel kan sê: begin by die eenvoudige dinge in die lewe en geniet dit. Geniet die goedjies wat jy elke dag as vanselfsprekend aanvaar. Laat toe dat hul, in hul eenvoud, aan jou siel raak. Ervaar dit sintuiglik. Laat toe dat die mooi in die lewe op jou groei. Geen beroep, ook nie die regte een, kan noodwendig daardie tevredenheid in mens se siel bring nie.

En ja, daar is niks daarmee fout om wel ‘n stel finansiele state op skokpienk papier te druk nie! Die syfers lyk sommer mooier en ek is seker die regte egte vaal rekenmeensters se reaksies sal ook heeltemal die moeite werd weesJ

No comments:

Post a Comment

MEER AS NET ‘N KWILT Vandat ek kon onthou was kwilts, of soos dit in die volksmond bekend staan, lappieskomberse deel van my lewe. Me...