Friday, 8 August 2014


DAARDIE ‘IETS’ 

As mens die dag immigreer verander alles. Jou land, jou taal, jou vriende, jou meubels, jou voertuig, jou klere, tot die kos wat jy eet. Seisoene is anders. Reuke, kleure en geluide is anders. Huise, strate en dorpe is anders. Tot die son kom op ‘n ander plek op. Links en regs van die huis, nie meer oos en wes nie. Eensklaps verander alles. Die eerste tyd is jy verdwaas en jou brein vol muwwe kolle. Later skop ‘n oorlewingsdrang in en jy durf eenvoudig die vreemde aan. Soos ‘n sesjarige die eerste dag van sy skoolloopbaan, so pak jy alles aan. Met blink blink oë en vol verwagtinge. En jy leer. Elke dag. 

Nie net leer jy ‘n nuwe land, omgewing en mense ken nie, maar jy leer jouself ken. Jy ontdek ‘n oorlewingsdrang in jouself wat jy nie eers geweet het bestaan nie. Jy leer anders dink. Jy dink soos wat jy in die nuwe land moet dink om te kan regkom met daaglikse goed. En dis nie noodwendig logies nie. Jy leer dat dit nie noodwendig logies is dat ingemaakte beet, by die ingemaakte slaai op die rak sal staan, soos jy gewoond is nie. Jy leer dat die bakpoeierhouertjie ‘n wit en blou kartonnerige afêre is, al soek jou oë die eerste paar maande vir die rooierige bakpoeier blikkie. Jy leer dat Palmolive nie badseep is nie, maar skottelgoedseep. Dat witbroodmeel en koekmeel een en dieselfde is. Dat jy allerhande eksotiese kruie en speserye in die kruidenierswinkel kan kry, maar doodgewone anyssaad by die gesondheidswinkel moet gaan koop. Dat hul vlapoeier sout is en jy liefs nie jou gebruiklike knippie sout moet byvoeg nie. Dat gravox die nuwe bisto is. Dat bruinuiesop skaars is. Dat die plaaslike bier en wyn die kleurrykste name het. Pure Blond, Little Creatures, Counting Sheep, Third Verse (weet nie wat van die eerste twee geword het nie), Pink Passion Pop en vele meer, wag jou by die bottelstoor in. Jy leer...

Iets wat jy ook vinnig agterkom, is dat die poskantoor, nie vreeslik lang ure vir die publiek oop is nie, maar wel die plaaslike “One Stop Shop” is. Pakkies stuur, pos ontvang, belastingregistrasie, paspoortaansoeke en die verkoop van skryfbehoeftes, lekkergoed en tuinkabouters is maar enkele van hul vele dienste. Jy leer dat ‘n “Proof of age” kaart die nuwe identiteits dokument is. Maar, jy doen daarvoor aansoek by die kantore van die Departement van Transport en nie die poskantoor nie. Lekker uitgevangJ Jy sal ook agterkom, dat ‘n Bali vakansie meer bekostigbaar as dagsorg en tandarste is en dat jy ‘n groter kans het om met Tony Abbot ‘n afspraak te kry as by die plaaslike dokter.  

Iets wat jy nie so vinnig agterkom nie, is dat hul ‘spietkops’ in siviele klere EN voertuie werk.  

Jy leer dat die winter die mooi seisoen is. Dit reën, is meeste van die tyd windstil en die veld is mooi groen. Teen die einde van die winter is daar oral veldblommetjies en dit verander die rooi sand in ‘n kleuryke tuin. Die sypaadjies en landerye is ‘n sagtegroen. Kom die somer, is die storie egter heeltemal anders. Die wind waai jou uit jou geloof uit en die veld is droog en stowwerig. Boonop is dit vrekwarm met wolke vliee. So teen November begin jy oor die voordele van antidepressante nalees. Net jou jaarlikse verlof en die see wat om die draai is, laat jou darem nog huiwer om dit te gebruik. Teen Januarie lees jy daagliks daaroor na. 

Jy leer dat die veld leeg is. Daar is nie wild nie. Kangeroo’s tel nie, want maak nie saak hoe lank na hul kyk nie, hul sal nooit die prag en grasie van ‘n gemsbok hê nie. Koala’s tel ook nie. Mens slaap saam met sagte wollerige beertjies. Koedoe’s, springbokke en blesbokke sou tel. 

Tog is daar een lekker iets wat dieselfde bly. Maak nie saak in watter kontinent, land of streek jy is nie. Vir my is dit ‘n baie baie lekker ‘iets’. Dit laat dink my aan die ou oom wat gesê het, dat die lekkerste drie dinge in die lewe, treinry, konsertina speel en kondensmelk drink is. (Seker nie noodwendig in die volgorde nie.) Wel, hierdie lekker ‘iets’ is nie een van daardie drie dinge nie. Hier word plattelandse treine meerendeels vir mynbou en landbou aktiwiteite gebruik en hul weet nie eers wat ‘n konsertina is nie. Kondensmelk, wel dié kry jy hier en dis steeds lekker. Maar terug na die punt. Hierdie ‘iets’ is in ‘n mate nog lekkerder in ‘n vreemde land as in jou eie land. In Suidwes kon ek nie genoeg daarvan kry nie en hier kan ek glad nie genoeg daarvan kry nie. 

Dis egter nie so geredelik beskikbaar in die stad nie. Dis nou enige stad en dié hier in Annerland is nie ‘n uitsondering nie. Dit is in ‘n stad ook, maar die verkeer, mense en gejaag maak dit weemoedig. Die yslike toringgeboue verdruk dit en die gebrek aan vars lug versmoor dit. Dis verseker een van die redes waarom ‘n stad nooit my eerste keuse van ‘n blyplek sal wees nie. Hoe verder jy die platteland in beweeg, hoe meer is daar. Dis oral, jy moet net jou oë en ore oophou. Die Wes-Australiese platteland is nie ‘n uitsondering nie. Daar waar die sogenaamde beskawing plek maak vir boendoes, daar is baie hiervan. Die platteland léwe van stories.  

Dit maak ‘n Namibië en ‘n Wes Australië een. Die een het ‘n Kolmanskop, die ander ‘n Paynes Find.  Die een ‘n Adams Rust, die ander ‘n Kali of ‘n Muggon. Die een ‘n Maltahöhe, die ander ‘n Yalgoo en so meer. Vergete se myndorpies, toe onder jare se sand. Vir die oog wat nie mooi kyk nie, of die oor wat nie mooi hoor nie is dit bloot vaal stowwerige dorpies en verveling ou plase. Vir ons storiemense is dit egter anders. Stap jy deur Oakabella se homestead, kry jy dieselfde gevoel as wat jy in Kolmanskop se toegewaaide hospitaal kry. Jy kan die stories sien. Jy kan dit hóór. Jy kan dit vóél. Stap jy deur die ou huise of oor die plaaswerwe, wonder jy wie die eerste mense hier was. Hoe het hul hier beland? Wat was hul lief en leed? Hul ideale. Hoe het hul ‘n lewe gemaak? Hoeveel kinders het hul gehad? Waar het hul water gekry? Wie het op hierdie spesifieke plek gestaan en ‘n groot dam in sy geestesoog gesien? Wie het dit gebou? Hierdie vrae bly jou by en jy gaan lees daaroor. Dan raak die vrae net meer. Jy lees, jy soek en jy kom op die kosbaarste stories af. 

Waar daar stories is, kan ek leef. Hul praat met my en ek verstaan hul. As ek nie verstaan nie, soek ek tot ek verstaan. Hul maak my lewe vol.  

So, kom ons laat die stories loop!

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Monday, 14 July 2014


‘N BAK?

Daar is die enkele dae wat my gedagtes sommer net die loop kan neem. As ek weer sien is hul op in volle vaart oppad, nes ‘n trop gemsbokke wat reën geruik het.  Dis net klippe wat spat, klappende hoewe, oopgesperde neusvleuels en wee, oo wee, dit wat in hul pad kom.  Nou, my gedagtes is ook so, daar’s weinig wat hul kan stuit as hul eers die loop geneem het. Dit het alles begin met ‘n enamelbak. Jip, ‘n doodgewone afgeërde enamelbak, op ‘n koue wintersaand in my Annerland-pophuiskombuisie.
Buite was dit reeds donker en die wind het boos aan die die palms voor die kombuisvenster geruk. Dit het by tye woedend vlae reën op die agterstoep se dak gesmyt.   Buite was dit koud en onplesierig. Binne was dit darem warmer.  Die geur van masala, borrie en warm asyn het swaar in die lug gehang en op die bank het Kattie haarself in ‘n slakbondeltjie opgekrul. Op soek na bietjie hitte. As teenvoeter teen die koue en mistroostige weer, het ek besluit om bobotie te maak. (Anders het ek myself dalk ook in ‘n slakbondeltjie opgekrul.)  Regte egte bobotie met vet rosyntjies. Nou ja om ‘n lang storie kort te maak, dié bobotie word toe in die wit en blou enamelbak gebak.  ‘n Bak wat ek byna elke dag gebruik, maar dié betrokke aand maak die bak iets in my gedagtes los...

... en daar gaat die ‘gemsbokke’!

Wat die presiese oorsprong van Die Bak is weet ek nie, maar ek kan my indink. Dis ‘n bak wat uit een of ander ouma of grootouma se kombuis gekom het. Vandat ek kon onthou was die bak tesame met allerhande ander kombuisware, in die witgeverfde kombuiskas op die plaas.   Dat dit ‘n berese stuk kombuisware is, is gewis en ek wens ek kon sy storie ken. Nou ja, ek is lief vir stories en waar daar nie een is nie, maak ek sommer een.
Het dit sy oorsprong by grootouma gehad is dit heel waarskynlik by een of ander smous gekoop of geruil, terwyl hul die land met kar en perde deurkruis het. Die eerste deel van grootouma en -oupa se lewe het hul ook maar in ‘n tent en wa gewoon. Soos dit met die meeste pioniers gegaan het, het hul ‘n lewe uit transportry en boerdery gemaak. Beide het heelwat reis vereis. Die staning is deurgaans versit na gelang van beskikbare suipings en vragte. In 1928 bou grootoupa Coen die kliphuis op Adams Rust. Grootouma se eerste regte egte huis.

Het die bak sy oorsprong by ouma Dina gehad, is dit waarskynlik by een of ander plattelandse handelaar gekoop. Vermoedelik ou Charney in Mariental of dalk Pupkewitz op Kalkrand? ‘n Handelaar wat enigiets van ‘n speld tot ‘n dooie poliesman verkoop het. Sy winkel sou effe donker gewees het aan die binnekant. Hyself sou agter dit toonbank staan en nougeset jou bestelling afmaak.  Saam met dié generasie sou die bak uit die Namib, Adams Rust toe skuif.

In die begin sewentigs neem my pa die familieplaas oor. Hy erf die plaas, die kliphuis, losgoed, waaronder die bak vermoedelik ook was.  Dis dan ‘n paar jaar later wat ek Die Bak leer ken het. En hiervandaan is Die Bak se storie nie meer ‘n opgemaakte storie nie, maar ‘n regte egte een. Ma het dit nie veel gebruik nie, vermoedelik omdat die maar ‘n kleinerig bak is. Net  genoeg vir vier miskien ses mense. Let wel: mense. Nie groeiende Strydoms seuns nie. Dit was ook heeltemal te klein vir somertyd se familiekuiers of wintertyd se jaggaste. In ons huis was daar nooit min mense nie.
Dis heel moontlik waarom Die Bak later by my geland het. In my eerste woonstel begin ek Die Bak gebruik. Vir alles. Dis net die regte grootte vir byna al my resepte. Van bobotie, pastei, groente, oondpatats tot by poeding, pannekoek en melksnysels. Boonop kan dit van die oond na die tafel na die yskas, sonder ‘n onnodige uitskep- en gewassery. Dis prakties en onbreekbaar. Dis mooi genoeg vir die tafel en prakties genoeg vir die kampvuur. Kyk, in my huis was enamel items ‘n ‘trendie’ item lank voordat  Sarie daaroor begin skryf het of Mastechef hopies grênd kos daarin bedien  en almal koorsagtig blou en wit enamelware ten duurste begin aanskaf het.
So, hierdie Bak het vele lief en leed aanskou. Dink net aan al die stories wat dit aan elke etenstafel en om elke braaivleisvuur aangehoor het. Dit het deur generasies se slegte en goeie tye geleef. Deur menige droogte, misoeste en goeie jare. Deur mislukte resepte en brousels. Deur wonderlike huis geregte. Dit was so tuis langs die kampvuur soos op die  Sondag etenstafel.
Nou ja , die laaste been van Die Bak se (huidige) reis begin 29 Maart 2013 toe dit amptelik aan boord, van een of ander vragskip, die Afrika vasteland verlaat vir ‘n nuwe Bak-generasie hier in Annderland. En ek ken die deeltjie van die storie, maar wie gaan dit oor ‘n paar jaar nog weet? Niemand, want dis bloot ‘n bak. Vir hulle...


Thursday, 5 December 2013

OUPA COEN SE SêGOED


Hierdie is ‘n stukkie wat ek lankal wou skryf, maar dit het nog altyd agtergebly. Dit sluit bietjie aan by my laaste skryfseltjie, waarin ek ons taal besing het en tog het hierdie een het so ‘n bietjie meer van ‘n persoonlike kleur.

Ek het nou maar eenmaal ‘n sagte plekkie vir Afrikaans en dit sal seker maar altyd so wees. Daar is baie fasette waarin Afrikaans vir my uitstaan, waarop ek nie nou gaan ingaan nie. Maar een van die besondere dinge is verseker die spreekwoorde. Daar is erkende spreekwoorde en dan dié wat in ‘n streek of familie gebruik word. Dis gewoonlik laasgenoemde wat kosbaar is, maar ongelukkig deur generasies heen verlore raak. Spreekwoorde, vergelykings of sommer maar net sêgoed, maak enige gesprek kleurryk. Boonop is dit soveel makliker om jouself uit te druk as jy hierdie taaljuweeltjies kan gebruik.

In hierdie stukkie wil ek graag ‘n paar sêgoed van oupa Coen met julle deel. Sommige is nie vir sensitiewe lesers of taal puriste nie, maar is nou maar eenmaal beskrywende en leef steeds voort in ons huis. So, lees, geniet en knyp maar die oë toe as jy dit nie wil sien nie.

Wanneer Geitjie en Koggelmander by ‘n plek byeen is, is daar min of meer iets van alles wat soortvan dieselfde lyk, maar eintlik baie verskil, daar bymekaar.  Dis baie beskrywende en jy kan baie sê, sonder om te veel te sê of enigsins aanstoot te gee.

Wanneer mense of kinders soos dors bees is, is ‘n situasie wat die leser hom- of haarself kan indink. Wanneer beeste afkom water toe en dors genoeg is, moet jy nie tussen hul en die water kom nie. Hul ontsien niks of niemand, storm water toe en trap als wat voorkom. Hul maal om daardie krip, dat jy die stofwolk van ver af kan sien. So as iemand soos ‘n dors bees is, is hy op sy missie en ontsien niks of niemand.

Wanneer jy nie betyds vir ‘n geleentheid of afspraak opgedaag het nie, het jy gewoonlik weggelê soos ‘n bieslammetjie in die bossies. Dié van julle wat al ‘n pasgebore lammetjie met ‘n pensie vol bies gesien het, sal presies verstaan. As daardie lammetjie dik gedrink is, soek hy net ‘n lêplekkie onder die naaste bos. Dan kan hoor en sien vergaan, sy ma kan blêr, boer kan soek en selfs oom Jakkals en ant Bobbejaan kan ‘n draai maak, maar lam se kind sal slaap. Daar is net een ding wat hom sal wakker kry en dis as sy magie weer begin dun raak. So as jy weggelê het soos ‘n bieslammetjie in die bossies, beteken dit jy het weggebly sonder enige verskoning of verduideliking.

Wanneer iemand soos ‘n blaar in die wind is, is hy vandag hier en more daar. Hy gaan bloot waar die lewe hom vat en bekommer hom nie veel oor die dag van more nie. Net soos ‘n droë blaartjie in die wind.

Hier is my gunsteling sêding en persoonlik dink ek dis baie beskrywend. Wanneer iets op genade sit, het oupa altyd gesê daardie ding hang aan sy ooghare. Nou ja, liewe leser, jy kan jou indink hoe seker jou hang is as jy aan jou ooghare hang. Dis maar ‘n erg onseker hang daai en tog hang dit so op ‘n manier.

Wanneer iemand so ongewild is soos die kat wat in die spens gepis het, is hy BAIE ongewild.  Kom ek verduidelik vir die gelukkiges wat nog nooit met ‘n ongeskikte kat te doene gehad het nie. In die eerste plek, kom ons noem dit nou maar by die naam, ken ons almal katpiepie. Jy ruik dit gewoonlik lank voordat jy dit sien. So dan loop jy ruik-ruik deur die huis om DIE KOL te prober opspoor. Indien jy gelukkig genoeg is om dit op te spoor, kry jy dit vir niks en met niks skoon nie. Of dalk kry jy dit skoon, maar daardie reuk bly! Geen skoonmaakmiddel of boereraat help nie. En selfs al is die reuk meer leefbaar moet jy liefs nie te vinnig bly raak nie., want wanneer die eerste onweer in die lug is, is DIE REUK terug. So, die reuk deel is uiters onsmaaklik en ongewild en, dink jou nou net in, dan is dit nog in die spens ook…

Wanneer iemand hoed vasdruk, beteken dit dat hy rieme neerlê. In gewone Akrikaans: hy hardloop. Nou, jy kan hoed vasdruk oor verskeie redes. Oupa het immers ook altyd gesê dat ‘n mens baie vinnig kan wees, hang net af wie sy drywer is. As kinders moes ons hoed vasdruk as ons kwaadgedoen het en oupa dit agter gekom het. Daardie kosbare minute tussen agterkom en plak gaan haal, het ons gewoonlik hoed vasgedruk.  Ek gaan dus afsluit met ‘n hoed vasdruk staaltjie. (Ek dink die grootmense het in idiome gepraat, nie noodwendig om ons te leer nie, maar eerder omdat hulle nie so vinnig soos ons kon hardloop nie.)

Een goeie dag sit ek en Coenie doodonskuldig onder die prosopisboom en speel. Ek dink amper ons albei was nog voorskool, ek definitief. Dis somer en baie warm op ons Suidwesplaas. Al wat hoorbaar is, is die gezoem van die heuningbye wat stuifmeel in die prosopisbome versamel. Pa kom van die groot tuin se kant af huis toe, haal sy hoed af en so in die verbygaan sê hy: “Ek het ‘n appeltjie met julle twee te skil.” Ek is dadelik vreeslik opgewonde, pa gaan vir ons appels skil! Inderdaad nie iets wat elke dag gebeur nie. (Eintlik sê hulle ons moet die skille eet, dis waarin die voedingswaarde is ens.)  Coenie wat ouer en meer geletterd was, het dadelik die impak hiervan besef en voorgestel dat ons moet hoed vasdruk. Wat ons toe ook gedoen het. Op daardie stadium het ek hom net gevolg, want hoewel ek nie geweet het wat pa nou regtig gesê het nie, het daardie baie betroubare sesde sintuig van ‘n kind ingeskop. Om ‘n lang storie kort te maak, vat ons die pad, veld in. (In daardie kosbare minute wat pa in die huis ingaan om die Rooi Riem te gaan haal.) Teen die tyd wat ons weer huis toe gekom het, was pa nie meer kwaad nie en ons het toe nooit pak gekry nie.

Waaroor? Baie jare later vra ek eendag vir pa, waaroor hy ons daardie dag wou pakgee en of hy dit nog onthou, want met die weghardloop het ons nooit by die oortreding uitgekom nie. Daar was nie tyd nie en na die tyd praat jy ook nie onnodig daaroor nie, want nou net onthou pa weer. Ja, sê hy hy onthou dit baie goed. Hy het blykbaar die dag van die tuin af huis toe gestap. Die groot groentetuin was so 800m van die huis af. Daar is ‘n dam en windpomp, maar daar is ook ‘n pypleiding van die huis se dam af. Dis so ‘n swart plastiekpyp en wanneer daar te min water in die onderste dam is, pomp ons uit die boonste dam water.  Ek, met die beste bedoelings op aarde, het ‘n pendoring gevat en klomp gaatjies in die pyp gesteek. Sodat Maja die By kan water hê! So toe pa die middag huis toe kom, sien hy net die boeë water staan. Later jare, toe die gaatjies al ouds toegekalk is en ek verstaan het wat ‘appeltjie skil’ beteken, het ek hom toe van Maja vertel. En so kry ons nou nog snaaks daaroor. 

So-by-so is dit blykbaar net Suidwesters wat snaaks kry oor iets.  Ek sal nie weet nie, maar wat ek wel weet. Sodra jy so-by-so sê, weet die mense presies waarvandaan jy kom.  Blykbaar is dit ook net Suidwesters wat die woord onsmaaklik as beskrywing vir alles behalwe kos bebruik. Vir Suidwesters is die weer, die buurman, die hond se middernagtelike geblaf, die liedjie oor die radio ens, onsmaaklik.

Wel, ons het ‘n unieke land. Dan is dit seker niks minder as reg om unieke taaljuweeltjies ook te hê nie?

 

Thursday, 28 November 2013

AFRIKAANS


Dis die ontasbare dinge in die lewe, wat vir ons as mense onaantasbaar is. Anders gestel, dit waaraan mens nie kan vat nie, is ook die goed waaraan ander nie moet karring nie. Goed soos godsdiens, taal, kultuur en sentimentele dinge. Dis die dinge waaroor mense driftig raak, waaroor daar kwaaivriendskappe en ons-praat-nooit-weer-met-mekaar-gevoelens kom. Hierdie goed was ook al sovele male, direk of indirek, die oorsaak van oorlog.

Hoekom? Is dit omdat hierdie sake ons regtig na aan die hart lê? Omdat dit regtig uitdrukking gee aan wie ons werklik is? Waar ons vandaan kom en waarheen ons oppad is? Anders as materiele dinge wat ‘n statussimbool is, is hierdie sake die boustene van ons menswees. Dit is wie ons is. Die grense van bloed is myns insiens baie sterker as wat enige geografiese grens ooit sal wees.
Oor die eeue heen het die mens die oseane bevaar en kontinente bewandel. Hoewel dit deesdae baie makliker en vinniger is as toe, het niks verander nie. Soos ‘n malende trop damara ooie, was hul altyd oppad. Party het bloot die voorste ooi gevolg, oppad na êrens. Ander die veewagter wat hul water toe gelei het. Dan was daar altyd die een wat afgedwaal het. Maar beweeg het die klomp beweeg.  Vandag is dit soveel makliker en geografiese grense beteken nie meer veel nie. Dit is bloot geografiese grense, want tegnologie maak alles een. Dus is die migrasie van een land na ‘n ander bloot ‘n paspoort en soms ‘n visa ver. Soos ‘n swerm swaeltjies, kruis ons gereeld die oseane. Altyd oppad.
Behalwe jou menswees, dit kan tegnologie nie verander nie. Sake wat vir oupa en ouma na aan die hart gelê het, lê maar steeds na aan ons harte ook. Die maanlanding, IPhone’s, Kindle’s, kerntegnologie of boeings het niks verander nie. Toenterjare was daar, tydens politieke- kerk- en skoolvergaderings, vurige debatte oor godsdiens, taal en kultuur. Vir daardie mense, was die wêreld moontlik so groot soos sy plaas of land, maar hy het geweet wat vir hom belangrik is. In my skoolgaanjare, was taal een van die grootste besprekingspunte op die skoolvergaderings. Vir menige boere was engelse bloot die taal van die Anti-Chris. En sovele vergaderings was dié ongenotuleerde punt driftig bespreek. Hoekom? Omdat hierdie dinge in ons siele gewortel is. Die oomblik as dit bedreig word of ons voel dit word bedreig, het ons die onwillekeurige aanvalsreaksie. Vandag klink die betrokke vergaderings nie veel anders nie. Hierdie dinge is steeds vir ons belangrik. Baklei-belangrik en hartseer-sentimenteel.
Ekself is deesdae deel van die swaeltjie-brigade, wat huis en haard verlaat het om vir eers nes te skrop in ‘n vreemde land. Dit bring noodwendig veranderinge mee. Die taal was een van die verandering wat maar vir my swaar was. Nie omdat ek ewe skielik ‘n ander taal moet praat nie. Nee, eerder omdat ek so lief is vir my grootwordtaal. Dit bly nou maar eenmaal die taal waarin ek my gevoelens wil uitdruk. Die taal wat so lekker op die tong lê en die die taal wat ek wil besig, as ek my vinger in die deur vasgeslaan het. Die taal waarin ek wil lag, wil huil, wil lief hê en kwaad word. Dis so deel van my, dat ek nie regtig weet waar die ophou en ek begin nie. Dis wie ek is.
Nou’s ek in ‘n vreemde land en moet noodwendig ‘n ander taal praat. Ek moet, want as vreemdeling in Jerusalem, is dit nou maar eenmaal die manier om te kommunikeer. En kommunikeer moet jy kommunikeer. As jy in Rome is maak jy soos die Romeine.
Maar dit, lede van die swaeltjie-brigade, moet jou nooit verhoed om jou eie taal te troetel soos ‘n kosbare kleinood. Om dit gereeld af te stof, blink en vryf en te laat hoor nie. Om dit uit te stal. Om dit op papier neer te sit en jou te baai in die bekendheid van die woorde. Om jou toe te draai in beskrywende idiome en ‘n pinakoteek van beelde met woorde op te vorm. Jou taal is ‘n groter deel van jou as wat jy besef of (wil) erken.
En dit, liewe leser, sê vir my dat ‘n taal ‘n manier van kommunikasie is. (So, maak maar soos die Romeine as jy in Rome is.) Dat my taal, Afrikaans is. Dit sal so bly want dis ‘n lewende taal. Hierdie gedagte laat ‘n warm behaaglike kolletjie op my maag, amper soos wanneer jy ‘n stukkie van die son gesluk het. Of soos herinnering aan winter in Suidwes , boertroos of oorgens-Kalahari-kuiers....

'N NAAM

Al ooit mooi oor jou naam gedink? Nou nie die feit dat jy vernoem is na ouma die of tante daai nie. Of die feit dat jy nou die soveelste generasie is wat Maria, Wilhelmina, Petronella, Susanna is nie. Nee, eerder analities en die ou paadjie wat jul noodgedwonge saam moet stap. Wel, ek het nou die dag.  So broei daar toe, op ‘n gewone Dinsdagnamiddag tussen ‘n klomp syfers in ‘n vaal rekenmeesterskantoor, ‘n storie in my kop uit. Ja iets het aanleiding daartoe gegee en daarby kom ek later. Nou ja, onthou my goue reël in die lewe: stories moet geskryf word.

Nou ja ek is Marlize. Net dit. Gedoop, geregistreer en getjap. Geen afkortings, verkleinwoordjies, troetelnaampies nie. Geen Sprinkaanvlerkie of Springbokpensie nie. (Nou gaan ek myself in die rede val. Afrikaanse is nou maar net ‘n lekker taal. Hoe op dees aarde sê jy nou vir iemand in engels. Jy is my ou Erdvarksnoetjie? Onmoontlik.) Terug by die onderwerp so ek is net, Marlize.  Kort, bondig. Finish en klaar. Al die jare tot en met nou, was my naam maar net my naam. Ek het nie eers altyd ag geslaan daarop nie. Tog was daar hier en daar kere wat ek wel, daarop ag geslaan het, om verskeie uiteenlopende redes.
In my Sub-A jaar was ek natuurlik baie dankbaar dat my naam so kort was en boonop feitlik geen pensie-letters gehad het nie.  As ek verby die rondings van die a en die e gekyk het, was die res net stokkies-letters. Maklik en reguit. (Ja, ek was in die Sub-tyd in die skool. Genadiglik is vandag se kinders in die grade-tyd in die skool, anders sou hul defnitief nie hul fênsie saamgestelde name so vinnig geleer skryf het nie!) Toe die ander kinders in die klas nog swoeg met die lange ingewikkelde Sussarra’s, Wilhelmiena’s, Petronella’s ensovoorts het ek al my naam onder die knie gehad. As bonus het die z my naam baie belangrik laat lyk. Vir my in elk geval. Niemand anders se name het daardie letter gehad nie, want liewe leser, jy moet in ag neem dat dit voor die tye was, waarin ouers hul kinder se name agter uit Die Huisgenoot, gekies het. In vandag se Uit-Die-Huisgenoot-en-Van-Die-Internet-name, kry jy die vreemdste letters en konkoksie-samestellings. Met, as die spreekwoordelike kersie op die koek, deeltekens kolletjies en kappies net om dit af te rond of dalk meer belangrik te laat lyk. Geen mens weet regtig hoe om dit uit te spreek of wat dit beteken nie, net die ma. En seker ook net die dag wat sy dit uitgedink het. “Sussie, jou naam is die eerste letterr van Pappa se derde naam, die agste letter van ta’Breggie se naam, want dalk onthou sy jou hieroor in haar testament, die laaste lettergreep het ons uit die Huisgenoot gekry en die agtervoegsel is Tom Cruise en Demi, wat al intussen geskei is, se tweede kind se middelste deel van haar naam.” ’n Mondvol Sussie. Ek hoop jy onthou dit.  Sterkte Sussie, die tussenin tyd van jou lewe is dit gangbaar, maar onthou jy moet dit iewers leer skryf en dan moet jy dit ook onthou  - al is jy tagtig!

 

Toe ek 16 word, was ek net so bly dat ek ‘n redelike kort en eenvoudige naam het.  Wanneer jy 16 word, doen jy aansoek vir ‘n Identiteits dokument en dit in ‘n land wat pas onafhanklik geword het. ‘n Land met ‘n spik-splintenuwe regering in die kussings wat nuwe wette na willekeur uitdink sonder om aan die uitvoerbaarheid aandag te gee. Nou ja, dit alleen spreek van ‘n moontlike ramp, wat dit ook in baie gevalle was. Dit was eintlik choas, want daar kon ‘n halwe honderd goed op daardie I.D. kaart verkeerd gegaan het. Die feit dat ek net een, maklike en boonop duidelik vroulike naam gehad het, het die deure vir heelwat verwarring toegeklap.  Dankie tog! My I.D was met die eerste aansoek reg en tot vandag toe waak ek ooe daardie kaartjie soos die duiwel oor ‘n vroom siel! Weereens dankie aan my ouers wat my nie 4 saamgestelde name, besaai en getooi met kolletjies en koppeltekens, gegee het nie, Dis sou eenmaal te veel gewees het vir die Namibiese regering en later jare, vir my Aussie kollegas…

 

So loop ek toe soos almal, verder op die lewenspaadjie wat op hierdie stadium in Aus draai. Dis dan ook net hier wat dinge interessant raak. Nou ja, net soos die Engelse, sê die Aussies nie graag ‘n ‘r’nie. Hul vermy dit soos pes. So ek was skaars ‘n week hier, toe het Marlize van vorm en klank verander. (Darem nog herkenbaar). Dié torie broei toe uit na aanleiding van my kollega se Aus-Maleisies uitspraak van my naam.Nou ek werk tans in ‘n kantoor met verskeie nasionaliteit, aksente en uitsprake. En dis waar dinge interessant raakJ

 

So om ‘n lang storie kort te maak. My naam,uitgespreek met ‘n Aus-Maleisiese aksent is: Maaali (Jip amper soos die staat in Afrika maar met ‘n langer aa klank.) In Aus-Iers is dit is soos Marly. ‘n Vinnige klank met klem op die a en ‘n vae ‘r’is wel te hore. In Aussie is dit Marley. Soos die fliek van daardie verskriklike stout hond, onthou jul? Die ‘r’word nie regtig uitgespreek nie, maar is darem daar. In Kanadees, met ‘n sterk Vancouver aksent is die mARlize. Met die a heeltemal oorrond en die R word gerol en baie DUIDELIK uitgesprrrrrreek. Maar alles steeds herkenbaar. In Engels is die Maly, deur die neus uitgespreek. Sag en waardig soos net die Engelse dit kan doen. In een of ander Noord-Afrika aksent is dit iets soos:  Ma (dan raak alle klanke verlore) i. Daar is ten minste nie ‘n klik of ‘n klak in nie. Dit kon //Mariesa gewees of Steenboktongetjie…

Baie groete uit Annerland.

M

            A

                        r

                                    L

                                                I

                                    Z

                        E…….

Friday, 27 September 2013

OP WIEKE VAN WESTEWINDE (Opgedra aan my ouers en skoonouers)

Nou die dag vra my skoonma my of ons emosioneel net oorleef en of ons darem lééf hier in Annerland? Goeie vraag en dit sit my toe aan die dink.

My bestaan, van vroeg af, is nou verweef met die weste en tot nou toe het dit nog nie verander nie. Die Weste en meer spesifiek, die dorre weste (van enige land) blyk nou maar eenmaal ‘n belangrike rol in my lewe, te speel.  Dié fyn goue draad is alom teenwoordig. Dié gedagte het nou die dag by my opgekom terwyl ek staan en skottelgoed was hier in my Annerland huisie. My kombuisvenster uitsig is maar beperk.  ‘n Staalmuur (die Aussie glo in staalmure), agterstoepie en afdak vorm die grootste gedeelte van die uitsig. Regs is ‘n klein bedding, waarin twee palms en ‘n slakgevrete kruisement moedig probeer groei. ‘n Strepie blou lug en bietjie van die buurman se wasgoed op sy wasgoeddraad, rond die verbeeldinglose prentjie af. Dié dat my gedagtes hul eie loop neem. Ek sit eers die weste-gedagte uit my kop, maar dit spring net weer op. Dan tussen die seepborrels in die wasbak en nou-net weer tussen die kruisementblare. Ek druk dit weer weg, maar hul systap my en spring tussen die pietersielie op die vensterbank uit. Ek gee op en soos dit maar in my lewe gaan, skryf ek 'n storie daaroor...
Waar jy grootword is ‘n gegewe en nie iets waaroor jy beheer het nie. Tog is dit jou vormingsjare en ek glo dat dit ‘n rol speel in wie jy is en hoe jy die lewe sien. Ek het in die suidwestelik deel van Suidwes op ‘n plaas grootgeword.’n Pragtige, maar ook barre, grootwordplek.  Ek onthou die mooi groen reëntye, die goue wintersgras en die helderste herinnering is die van die westewinde. Ja, hoewel jy op daardie stadium van jou lewe nog nie veel van rigtings of weer verstaan nie, was hierdie een van my eerste bewuswordinge van die dorre weste. Daardie Augustus-winde wat soms dae aanmekaar sulke rooi stofbollings waai wat oral indring. Dit waai drade toe en windpompe flenters. Dit loei om die huis se hoeke en binne is als met ‘n fyn lagie stof bedek (al is dit net die oggend skoongemaak) en buite buig die dennebome laag in die wind. Soggens beur die karakoelooie moedig teen die wind, rant uit om te gaan wei. Saans as hul streep-streep teen die rant afkom, waai die wind steeds en is die poeiergetrapte kraalwerf net een groot  rooi stofwolk.  Dit waai en waai en waai. Sonder ophou en selfs op ‘n jong ouderdom, onthou ek hoe weemoedig dit my altyd gestem het. Na so ‘n winderige dag, was die son gewoonlik ‘n rooi vuurbal teen die tyd wat dit in die weste gesak het. 
Vir die grootste deel van my skooljare, word die suidelike deel van Suidwes deur ‘n ernstige droogte geteister. Die oostelike dele lê in ‘n effe hoër reënval gebied en het sagter veld, dus is die droogte nie so fel nie. By ons is dit wat die woord sê: droogte. In die volle sin van die woord. Die veld is rooi en die diere maer. Later in die droogte begin die wild vrek en pa huur oral veld om ‘n kernkudde te probeer deurdra tot die volgende reëntyd. Augustus-winde in die droogte is selfs erger. Dan is daar nie veel grondbedekking nie en die stofvlae waai daelank oor die velde. Mistroostig. Die droë warm wind tap die laaste bietjie lewe en vog uit mens en dier. Ons moed is laag, die plaas lelik en rooi. Die water, op sommige plekke, min. Ek begin die weste verpes. Vir my is dit sinoniem met swaarkry , droogte, dooie diere en rooi stofwolke. Dis sinoniem met wanhoop en moedeloosheid. ‘n Groter mag, waarteen elke mens  volkome weerloos staan. 
Die jare stap aan. Onbepland en vinnig koop my pa teen die einde van my skoolloopbaan die bakkery op die dorp. Ek begin glo dat dinge nou beter sal loop, want die dorp is ten minste oos van die plaas. Tog is die bakkery in die westelik deel van die dorp geleë. Die westelike deel van Mariental is dan ook die deel wat, in uitsonderlike reënjare vloed. Gelukkig is die klem op uitsonderlik en dis iets wat nog net eenkeer in die dorpie se bestaan gebeur het. So dit pla ons nie te veel nie. Met moed en ywer spring ons in om hierdie besigheid op te tel. Ons werk en werk en ongesiens glip ‘n paar jaar verby.  Wel…  ‘n Paar uitsonderlike reënjare breek die jarelange droogte en drie vloede later, is ons weer moedeloos.  Hierdie keer, modder-moedeloos. Die water is deur die bakkery en met die laaste vloed is al die masjiene en oonde daarmee heen.  Die weste bly maar sy rugkant na ons draai. Die weste brei jou, dit tap jou, maar die lewe gaan aan en Mariental staan op uit die modder. Ons ook.
Vir die volgende paar jaar bly ek steeds in die (ge)weste en leer lief raak vir die deel van die land. Die mense in vriendelik, die natuur hard maar mooi. Ek begin die mooi in ons deel van die land raaksien en waardeer. Ek waardeer elke oomblik daarvan en ag myself baie gelukkig om juis hier groot te geword het. Hier waar jy van jongs af, alle fasette van die lewe gesien het. Hier waar jy geleer het om na die stilte te luister en dit te waardeer, waar reën altyd ‘n hoogtepunt is en groen altyd mooi sal bly. Hier waar die son die lewe uit die aarde kan bak, waar die boomwortels diep in die dorre aarde indring op soek na ‘n bietjie vog en waar sonbesies jou moedeloos kan skree. Hier word mens weer een met jou Skepper.
Nog ‘n paar jaar later, gebeur dit dat die lewe se westewinde my, soos ‘n blikhaarsaadjie,  tot in die ewe droeë, Wes-Australie waai. Dit het so vinnig gebeur, dat ek eers na die tyd besef het: Dis sowaar al weer wes! En hoewel ek myself vir die ergste aanpassing ooit voorberei, voel ek byna dadelik tuis. Ja, daar is dinge wat anders is, daar is selfs dinge wat baie anders is, maar wat die land en natuur betref voel ek dadelik tuis. Dis hard, ongenaakbaar, rooi maar mooi en die ooreenkomste is daar.
Vandag bly ons in die westelikste deel van Wes-Australie en ek is elke dag dankbaar dat my grootwordplek my so goed voorberei het hierop. Dat dit my voorberei het op die kringloop van die lewe: lewe en dood, mooi en lelik, goed en sleg. Dat mens nie die onmoontlike moet verwag nie en eerder realisties moet bly.  Dit het my voorberei op swaarkry en dit het my geleer om die vermoë  te behou om die mooi rondom jou te sien. Of dit nou die see op ‘n onweersoggend is, of die Golden Crownbeard (onkruid) wat goudgeel in die blom staan, maak nie saak nie.Dit het my geleer om te waardeer wat jy het. Dit het my geleer om aan te pas, van die een uiterste na die volgende. Belangrikste van alles het dit my geleer dat jou geloof oor kontinente heen saam met jou gaan, dat jou Skepper oral is. Ja die droë grootwordjare het my geleer om vandag met my voete vas op die aarde te staan. Dit het my geleer dat die westewinde my nie moedeloos moet maak nie. Nee, dat ek dit eerder moet gebruik om soos 'n arend op hul te sweef, met my gesig na die son en te lééf!

 

 

 

 

Saturday, 20 July 2013

GLOUDINA SUSANNA STRYDOM (néé VAN LILL) - 19 Julie 2013


Dis met groot hartseer maar ook dankbaarheid wat ek vandag in ‘n paar woorde hulde aan ‘n besondere mens probeer bring. Ek moet ‘n leeftyd se herinneringe en wysheid op twee blaaie probeer neersit. ‘n Leeftyd se Indrukke wat sy op ons gelaat het in woorde probeer omsit. Wel dis onmoontlik, maar ek gaan steeds probeer. Waar en wanneer het alles begin? 

28 Maart 1922 op ‘n warm laat somersdag word daar nog ‘n dogtertjie vir die Van Lill gesin van Betta in die Namib, gebore. Gloudina Susanna Van Lill. Nog ‘n blondekop dogtertjie vir die trotse ouerpaar  en nog ‘n sussie vir die ouer broers en susters. En later jare sal haar rol uitbrei na die van ‘n geliefde vrou, ma, ouma en selfs grootouma.  

Hierna volg haar grootwordjare op die familieplaas. Soos enige plaaskind, was die lewe op daardie stadium idilies. Al wat jy geken het was jou familie en jy het die vryheid van die wye vlaktes gehad: gesonde kos, swem, son en diere. Wat meer kan ‘n kind vra? Soos die jare aanstap, verander dinge en elke dag was nie noodwendig sorgeloos en kommervry nie. Hul verloor hul pa op ‘n jong ouderdom. Daar is baie kinders en dis ‘n droë boerdery gebied. Later jare gaan van haar broers oorlog toe in Noord-Afrika. Iets wat ek glo moeilik was vir hul as gesin. Die materiele middele was dalk nie altyd mildelik nie en tog het ouma altyd met liefde en deernis na haar grootword- en jongjare verwys.  Oor die jare heen het sy menige staaltjies daaroor vertel en ek glo dat daardie vormingsjare ‘n baie belangrike rol gespeel het in haar karaktervorming. 

Later jare ontmoet sy haar lewensmaat, wyle Coen Strydom en ‘n paar jaar na die troue verlaat hul die Namib en gaan woon op die plaas Adams Rust. Hier het hul saam soveel beleef. Goeie en swaar tye. Hierdie huwelik was dan ook geseën met 3 kinders. Hul bly tot en met aftree ouderdom op Adams Rust. Teen daardie tyd was daar ook al ‘n paar kleinkinders. Daarna verlaat hul die Suide vir ‘n wyle en gaan woon ‘n paar jaar in Grootfontein. In die middel tagtigs trek hul terug na Mariental waar hul vir die volgende 16 jaar sou bly. Daarna verruil hul die Suide vir Okahandja. En ja soos die meeste van ons weet, was ouma se laaste paar jare, nadat oupa oorlede is, so tussen Mariental, Windhoek en Okahandja. 

 As ek vandag aan ouma terugdink, kom daar twee ‘soorte’ herinneringe by my op. Eerstens onthou ek die materiele. Ek onthou die ouma wat die lekkerste wildvleis en koringpap kon kook. Wat elke Sondag poeding gemaak het en wie se koekblikke altyd vol was. Ja die ouma, wat altyd reggestaan het vir familie en gaste. Die ouma wat altyd ‘n lappie gehad het vir ‘n stukkie klere, wat sokkies kon stop en truie kon brei. Die ouma wat die interessantste boks speelgoed agter die spensdeur gehad het, wat altyd ‘n lekkertjie in die kas gehad het. Die ouma, wie se hande vir niks verkeerd gestaan het nie: van wintertye se vleiswerk op die plaas tot basaarpoedings en –koekies by die dosyne. Die ouma wat ons geleer het dat jy nie met kos mors nie. Die ouma, by wie jy in die middae moes rus en saans het sy altyd vir ons uit ‘Saam na Jesus ‘ gelees. So het elkeen van ons, ons spesiale herinneringe aan haar. Wonderlike herinneringe, goeie tye. 

Tweedens onthou ek die mens wat sy was. ‘n Nederige, standvastige mens met ‘n stil maar sterk karakter. Hoewel sy nie nooit veel gepraat het nie, het haar dade vanself gespreek en was sy in alle gevalle ‘n voorbeeld vir die generasies wat sou volg. Volgens vandag se standaarde was sy glad nie ‘n geleerde vrou nie. Tog het sy oneindig baie lewenswysheid gehad. Sy was nie vreeslik belese of berese nie, maar haar prioriteite reg. Haar Skepper was eerste en weereens het haar lewe daagliks daarvan getuig. Tweedens was sy ‘n getroue lewensmaat vir haar man en haar gesin en hul versorging was haar lewenstaak.  Sy het met die grootste geduld en sorg haar mense versorg. Van kosmaak, skoonmaak, klere herstel tot by hul emosionlele versorging. Vir haar was dit nie ‘n werk nie, maar eerder ‘n lewenstaak wat sy getrou vervul het. 

Dit was Ouma, dis soos sy was. En as ek vandag iets moet uitsonder sal dit nie die koekblik-herinneringe wees nie. Dis was ook wonderlik, dis mos waarvoor ouma’s daar is. Nee, wat ek sal uitsonder, was haar lewensvoorbeeld was sy vir ons was.. Dis kosbaar. As ons vandag haar voorbeeld in ons lewens kan toepas, sal ons baie wen en sy baie gelukkig wees.  

Ouma Dina, jy het jou lewenstaak op aarde vervul. Nou kan jy rus, maar weet dat jy altyd in ons herinneringe sal voortleef. Weet ook dat jou voorbeeld vir my kosbaar was en dat ek as persoon baie daaruit geleer het. Al kan ek nie vandag jou begrafnis bywoon nie, maak dit nie saak nie, want ons het baie goeie jare saam gehad. Jare waarin ek soveel by jou geleer het. En as daar vandag een versugting in my hart is, is dit dat ek jou voorbeeld sal nastreef. In my geloof, my lewe, my huwelik en daaglikse menseverhoudings. In my dagtaak, sal onthou hoe jy dit gedoen het.










MEER AS NET ‘N KWILT Vandat ek kon onthou was kwilts, of soos dit in die volksmond bekend staan, lappieskomberse deel van my lewe. Me...