Thursday, 25 June 2015

KALGOORLIE en die PALACE HOTEL


“Do you ever dream, my sweetheart, of a twilight long ago,
Of a park in old Kalgoorlie, where the bougainvilleas grow?
Where the moonbeams on the pathways trace a shimmering brocade,
And the overhanging peppers form a lover's promenade?
Where in soft cascades of cadence from a garden close at hand,
Came the murmurous, mellow music of a sweet orchestral band.
Years have flown since then, my sweetheart, fleet as orchid blooms in May.
But the hour that fills my dreaming, was it only yesterday...


Toe ek op ‘n koue wintersaand, in die helder verligte portaal van die Palace Hotel staan en  hierdie gedig lees het dit dadelik my verbeelding aangegryp. Ek wou wéét wat die storie agter dié gedig is. Wie was die man was so met woorde kon omgaan? Wat op dees aarde het hy tussen die rowwe delwers gemaak? Belangrikste van als, wat of wie het hom geinspireer om hierdie gedig te skryf?

Kalgoorlie, is ‘n myndorp in Wes-Australië en is sowat 600km oos van Perth geleë. Hierdie is rooi sand en Salmon Gum wêreld en hier is stories. Baie stories, party mooi en ander glad nie iets wat jy in enige geselskap kan vertel nie.  ‘n Verrassende storie is egter die een van Herbert Hoover en sy verbintenis met Wes-Australië, meer spesifiek Kalgoorlie en die Palace Hotel, maar kom ons begin by die begin.

Gedurende die laat 1800’s word die eerste goudvelde in Wes-Australië ontdek. Coolgardie is een van die grootste goudvelde en trek delwers, prospekteerders en skarminkels van heinde en verre. Paddy Hannan, Dan O’Shea en Tom Flanagan is maar drie van die menigte wat hul fortuin daar kom soek het. Lewe op die Wes-Australiese goudvelde van daardie tyd, was beslis nie ‘n sprokie nie. Vars water was die grootste probleem. Kort op die waterprobleem se hakke, was al die sosiale probleme wat met so ‘n stormloop gepaard gaan. Daar was geen huisvesting of skuilings nie. Kos was baie skaars en delwers het soms dae sonder kos klaargekom. Mense het enigiets gedoen om te oorleef.  Die meer innoverende dames het nie op hul laat wag om ‘n ‘besigheid’ te begin nie, terwyl van die manne se dade ook nie aldag die daglig kon aanskou nie. Dit was ‘n harde lewe en die naaste wetgewer was in Perth. Wat regtig op die goudvelde gebeur het, het hom nie juis geskeel nie en was beslis nie prioriteit nie.

In Januarie 1893 begin gerugte die rondte doen dat daar ryk goudneerslae by Mount Youle ontdek is en Hannan, O’Shea en Flanagan saal hul perde op en vat die pad soontoe, via Mount Charlotte (laasgenoemde is net buite die huidige Kalgoorlie geleë). Oppad kry hul teëspoed met die hoefysters van een van die perde en moet noodgedwonge die reis onderbreek om dit eers uit te sorter. Dis dan tydens dié onderbreking, terwyl hul na water gesoek het, wat hul tekens van goud in die omgewing opmerk. Hul besluit daar en dan om eers te bly en dit verder te ondersoek. Op 17 Junie 1893 handig Hannan ‘n “Reward Claim” by die magistraat in Coolgardie in. Hierdie was net die begin van nog ‘n groot goudstormloop. Teen 1895 bestaan Kalgoorlie, hoewel dit daardie tyd as Hannas Find bekend gestaan het, met ‘n populasie van net oor die 2,000. In 1901 is die populasie byna 5,000 en teen 1903 byna 7,000. Hierdie area rondom Kalgoorlie en Coolgardie, staan vandag nog bekend as die Goue Myl en word allerweë beskou as die rykste stuk aarde ter wêreld.  Mynbou is vandag nog die hoofindustrie.

Met ‘n area populasie van ongeveer 200,000 in die laat 1800’s, was daar ‘n onversadigbare aanvraag na infrastruktuur en werksmense. Besighede, banke en natuurlik bordele het oornag soos paddastoele opgeskiet. Die Palace Hotel is dan ook in hierdie tyd gebou. In 1897 word die hotel gebou teen ‘n astronomiese koste van 17,000 pond. Die amptelike opening van die 44 kamer hotel is in Desember van dieselfde jaar. Die hotel word op daardie stadium beskou as die luukste hotel buite Perth. Die meubels is van Melbourne af bestel en dit was die eerste hotel met elektriese lig (vanaf hul eie kragopwekker) en vars water in al die badkamers. Hierdie vars water het van die hotel se eie kondenseerders gekom.

Dit bring my die volgende deel van die storie, naamlik Herber Hoover se konneksie met Kalgoorlie. Herbert Hoover was die 31ste president van Amerika tussen 1929 – 1933.  Hy het in 1897 as 23 jarige myningenieur, in die goudvelde van Wes-Australië kom werk. Hy het in die Palace Hotel oorgebly en by verskillende myne in die area gewerk. Vanaf Coolgardie, Kalgoorlie op na Menzies, en Leonora en selfs tot in die Murchison, het hy as geoloog en ingenieur gewerk. Hy het Wes-Australië as volg beskryf: “black flies, red dust and white heat”. (Dit kan ek bevestig, is vandag nog die geval. Daar was sedertdien geen verandering op daardie front nie.) Tydens sy verblyf in die Palace Hotel het hy blykbaar verlief geraak op ‘n barmaid. Daar word egter nie veel oor die verhouding geskryf nie, hoewel my storiesiel meer daaragter wil sien. In 1899 vertrek hy na China en trou later daardie jaar met sy skoolliefde Lou Henry. Hy het nooit weer in Australië gebly nie, maar het die land ‘n paar maal in die vroeë 1900’s besoek in sy hoedanigheid as oorsese belegger.  

Nou vir die teleurstellende kinkel in die kabel: daar is heelwat kenners wat sterk daarin twyfel of Hoover werklik die gedig geskryf het. Hy was blykbaar nie juis bekend vir skryf en glad nie gedigte nie. Hul redeneer dat Kalgoorlie op daardie stadium nie juis ‘n dorp was nie en daar sou beslis nie gevestigde bougainvilleas en peppers gewees het nie. Nog minder geplaveide paadjies. Lewe op die goudevelde was ‘n daaglikse stryd om oorlewing en sou daar enige tuine gewees het, sou dit groente gewees het. Water was ook maar skaars en sou beslis nie gebruik gewees het vir tuine nie. Hul redes is heel logies en realisties, maar die storie-kant van my wil nie daaraan byt nie. Wat het geword van drome? Kan die liefde nie dalk maak dat die prentjie wat onthou word, soveel rooskleuriger is nie? Die leser moet maar self besluit.

“Love Poem”
Attributed to Herbert Hoover (USA President) – relating to an affair he reputedly had with a barmaid from the Palace Hotel while in Kalgoorlie in 1897-98 

Do you ever dream, my sweetheart, of a twilight long ago,
Of a park in old Kalgoorlie, where the bougainvilleas grow,
Where the moonbeams on the pathways trace a shimmering brocade,
And the overhanging peppers form a lovers’ promenade?
Where in soft cascades of cadence from a garden close at hand,
Came the murmerous, mellow music of a sweet, orchestral band.
Years have flown since then, my sweetheart, fleet as orchard blooms in May,
But the hour that fills my dreaming, was it only yesterday?

Stood we two a space in silence, while the summer sun slipped down,
And the grey dove dusk, with drooping pinions, wrapt the mining town,
Then you raised your tender glances darkly, dreamily to mine,
And my pulses clashed like symbols in a rhapsody divine.
And the pent-up fires of longing loosed their prison’s weak control,
And in wild, hot words came rushing from my burning soul.
Wild hot words that spoke of passion, hitherto but half expressed,
And I clasped you close, my sweetheart, kissed you, strained you to my breast.

While the starlight-spangled heavens rolled around us where we stood,
And a tide of bliss kept surging through the current of our blood.
And I spent my soul in kisses, crushed upon your scarlet mouth,
Oh! My red-lipped, sunbrowned sweetheart, dark-eyed daughter of the south.
It was well that fate should part us, it was well my path should lead,
Back to slopes of high endeavour, aye, and was it well, indeed.
You have wed some southern squatter, learned long since his every whim,
Soothed his sorrows, borne his troubles, sung your sweetest songs for him.


I have fought my fight and triumphed, on the map I’ve writ my name, 

But I prize one hour of loving, more than fifty years of fame. 
It was but a summer madness that possessed us, men will hold, 
And the yellow moon bewitched me with its wizardry of gold. 
Let them say it, dear, but oft-times in the dusk I close my eyes
And in dreams drift back to where the stars rain splendour from the skies, 
To a park in far Kalgoorlie, where the golden wattles grow, 
Where you kissed me in the twilight of a summer long ago. 
And I clasp you close, my sweetheart, while each throbbing pulse is thrilled, 
By a low and mournful music that shall never more be stilled


Die ingangsportaal van die Palace Hotel

Die Herbert Hoover Mirror



















Saturday, 20 June 2015


OAKABELLA STATION



Die stoep van die homestead, met George se kamer aan die onderpunt van die stoep.

Op die oog af is Oakabella ‘n ‘station’ soos alle ander ‘stations’ in Wes-Australie
. Tog is hierdie een uniek as jy na sy geskiedenis gaan kyk. Wat van die hedendaagse beweringe waar, is en wat nie, sal ek my nie oor uitlaat nie, maar ek sal wel graag die leser op ‘n kort feitlike toer deur Oakabella wil neem. Ek sal probeer beskryf wat ek gesien het en hoe ek dit beleef het. Hierna kan die leser self besluit wat hy of sy hiervan dink. 
Wintertyd is die ryk rooi sand van Wes-Australië toegegooi met ‘n sagtegroen opslagkombersie. Pers, geel en wit blommetjies gee nog meer kleur aan die kombersie. ‘n Paar kilo’s noord van Geraldton tussen golwende rante, knus teen ‘n rivier en ‘n klipgooi of drie van die see af, sal jy Oakbella ‘station’ kry. Hierdie station is ongeveer 150 jaar reeds in Europese besit en het ‘n groot vriendelik plaaswerf. Noord van die huis, staan ‘n enorme wildevy waarin ‘n swerm papegaaie baljaar.  Die klipopstal (homestead) self is op ‘n rantjie geleë en kyk uit oor die loop van die rivier. ‘n Entjie verder na die suidekant, is daar ‘n groepie buitegeboue met onder andere ‘n groot skeerskuur. Tussen die opstal en die buitgeboue is die buite kombuis, soos wat dit die gebruik van daardie tyd was. Daar is ook ‘n kerk / skuur met ‘n solder. Oor dit alles, hang ‘n loom plaaswerf-vrede.
Sodra jy egter deur die geboue begin stap, kan jy aanvoel dat hierdie ‘n besige werf was en steeds is. Hier het dinge gebeur en mense geleef.  Hier het mense gewerk en daar is duisende skape deur daardie skeerskuur. Die skeerders moes kos hê na ‘n dag se harde arbeid en jy kan jouself probeer indink hoeveel potte kos daar in die nederige klipkombuis gemaak is. Ek kan my indink hoe die klomp skeerders saans met hul borde kos gesit het , terwyl hul die dag se gebeure bespreek het en hoe die kok gespook het om almal se mae vol te hou. Tussendeur was daar nog ‘n span wat die lande moes bewerk. Die gereedskap in die skuur vertel ‘n storie van hul eie. Van swaarkry met gesukkel klaarkry. Van planne maak in ‘n harde vreemde land met nog vreemder peste. Daar is onder andere ‘n kontrêpsie waarmee hul hase uit die gate gerook of gejaag het. Dit is silinder vormige en jy stook dit met groen bloekomtakke vir die maksimum rook. Die slinger word gedraai en die rook word dan met behulp van en ‘n rubberpyp in die konyne se gate gepomp.  Ek weet nou nog nie of die rook, of die onaardse geluid wat die ding maak, veronderstel is om die hase uit hul gate te jaag nie.
Dis egter in die 13 vertrek huis wat mens regtig begin wonder oor die mense wat die afgelope byna eeu en ‘n half hier gebly het. Wat jy begin wonder oor hul wel en weë, oor hul voor en teenspoed. Met reg ook, want kyk jy dieper sal jy sien dat daar baie was. Dis dan ook van hier af wat ek my bloot by die feite gaan bepaal en waar elke leser sy eie gevolgtrekking kan maak. Hierdie opstal is soos meeste van die ou plaasopstalle (van Suidwes tot in Wes-Australië) enorm, maar uiters onprakties. Dit het 13 vertrekke maar is soos ‘n swaeltjie se nes gebou. Die een vertrek loop uit die ander en daar is geen gang.
Toe ons saam met ons gids Loretta by die kombuis se kant instap, kry ek dadelik ‘n plaashuis gevoel. Die meubels is dieselfde ou kombuiskas met die glasdeure en horlosie bo in die middel, wat ek nog in my ouma se kombuis leer ken het. Dieselfde liggeel kleur met ‘n groen blad. Die breekgoed wat in die kombuis uitgestal is, is van praktiese skottelgoed tot dié wat goed genoeg is vir ‘n ‘high tea’. Soos soveel male tevore, staan ek verstom oor die vlak van beskwawing wat die mense hier in die gopse gehandhaaf het. Ek kan my net probeer indink, prakties gesproke, hoe moeilik dit was. Soos wat ons verder deur die huis loop val die ou soliede hout meubels uit die 1800’s my dadelik op. In meeste van die vertrekke is kaggels ingebou. Die eerste ry vertrekke kyk dan ook almal uit op ‘n stoep wat die lengte van die huis is.
Dan vertel Loretta jou van bietjie meer van die inwoners van die huis, wat volgens haar en die meer sensitiewe siele in die lewe, nog steeds inwoners is.
In 1885 tref ‘n vreemde tragedie Oakabella. ‘n Driejarige seuntjie staan voor die venster van een van die leefvertekke, wat uitkyk op die rantjies oorkant die rivier. Op ‘n onverklaarbare manier, val die venster op hom in en hy breek sy nek. In 1901 het ene Elliot, wat op daardie stadium die eienaar van die station was, ‘n tragiese ongeluk gehad. Hy het, soos dit die gebruik daardie jare was, gaan visvang met dinamiet. Wat presies gebeur het, weet niemand, maar die dinamiet het in sy hand afgegaan. Hy het wel die huis gehaal en ‘n dokter het sy arm en been geamputeer. Elliot het bly leef om sy storie te vertel, maar het nooit vrede gemaak met sy ongeluk nie. In 1918 tref Spaanse griep die station en nog ‘n sewejarige seun beswyk. Hierdie keer aan griep.  In 1973 maak ene George Jackson sy geweer skoon, soos wat hy nog al die jare gedoen het, maar die geweer gaan op ‘n manier af en so sterf hy. 
Dis omtrent ‘n string tragiese en hartseer gebeurtenisse vir een plek Vir my was dit  bloot ‘n mooi plaaswerf met ‘n ou huis met die allermooiste houtmeubels. Ook vra ek myself, hoeveel plase en plaashuise het sulke tragiese stories om te ‘vertel’? Ek dink heelwat meer as wat ons dink, veral dié wat ver afgeleë is. Ongelukke gebeur en hulp, primitief soos dit ook maar was, was dagreise ver. 
Vir my is Oakabella se storie, net nog ‘n storie. Een wat vertel moet word.
Die buitekombuis
Die kombuis in die homestead


Die uitsig vanaf die voorstoep

Wednesday, 17 June 2015


WAARDE VAN EENVOUDIGE DINGE

Mens kry dromers en jy kry realiste. Almal van ons val in een van hierdie kategoriee. Sommige van ons, is dalk bietjie dromer, bietjie realis.  Deesdae noem die geleerde mense dit onder andere linker- en regterbrein dominant. Hul het baie slim toetse om te bepaal watter kant van die brein dominant is. Hul kan sê of dit oorerflik is en of dit deur omstandighede gevorm is. Of dit ‘n aanwendsel is en of een of ander iets of iemand op jou lewenspad jou beinvloed het. Of ietsie van jou grootouma of ietsie van jou Sub-A juffrou, iewers in jou vasgesteek het.

Ek beskou myself meer van ‘n dromer as ‘n realis. Hoekom? Wel ek lewe in kleure, in woorde en wanneer ek iets skeppend doen is ek op my gelukkigste. Ek lewe in stories, van stories en vir stories. Daar is te alle tye iets storie gewys aan die gang in my kop. Soos mens egter ‘n entjie op die lewenspaadjie loop, leer jy om soms ‘n realistiese, nugtere uitkyk te he. Jy leer dit, dit kom nie natuurlik nie. Jy leer om die bul by die horings te pak en die lewe terug te skouer. (Partymaal sommer dat hy hik.) Jy leer om elke dag vir agt ure agter ‘n lessenaar te sit en na twee skerms voor jou te staar. Kompleet soos een of ander laboratoriumrot, waarop daar vreemde futuristiese eksperimente gedoen word. Jy leer om die skreeuende stilte van ‘n rekenmeesterskantoor te verstaan. Dis nou uitgesluit die geluide van die lugverkoeling, drukkers, rekenaars en telefone wat jy naderhand, weereens, leer verdra. Jy leef saam met flourescent ligte, al skyn die son baldadig buite. Jy leer om die twyfelagtige ‘vars’ lug wat deur die verkoelingstelsel, op jou geblaas word, in te asem sonder om miljoene, mikroskopiese kieme te visualiseer. (Maar die stowwerige plastiekplant in die hoek van enige opregte rekenmeesterskantoor, is en bly nog steeds een te veel vir my.)

Jy probeer syfers in kleure en geure sien, want net miskien as jy dit so om doen, is dit so bietjie interessanter as ‘n toebroodjie, wat dae lank in ‘n songebakte kar vergeet gebly het. Ter oorlewing sit jy ‘n blommetjie vir Debiet op en trek vir Krediet ‘n das aan, dit maak ten minste die visualisering meer aanvaarbaar.  Jy dagdroom in ‘n onbewaakte oomblik van finansiele state op gekleurde papier met interessante randpatrone, wat in ‘n unieke handskrif uitgeskryf is. (Dink nou net, as een of ander groot maatskappy se swartpak direkteure so ‘n stel Finansiele State in hul “all glass and chrome boardroom” moet kry. Hulle verstik verseker almal aan hul gebottelde water en peperminte.) Die grootste kontradiksie wat jy seker kan kry, is wanneer ‘n kunssinnig persoon in die rekenmeestersberoep beland. Nou kyk, dit is ‘n resep vir lewenslange frustrasie of lewenslange innovasie. Jy is die enigste een wat kan kies hoe jy dit gaan hanteer. Wat jy daarvan gaan maak.

Ek gebruik die rekenmeensterskantoor, bloot as ‘n voorbeeld. Daar is vandag soveel mense in beroepe, wat net glad nie sy of haar belangstelling is nie, maar wat wel vir die brood op die tafel sorg. Hoe gemaak? Daardie vraag het ek myself ook al ‘n paar maal afgevra. Nie almal van ons kan doen wat ons wil nie en ons hoef ook nie. Ons kan wel innoverend raak met betrekking tot die werk wat sorg vir die brood op die tafel. Innoverend? (Ja, ek hoor nou al hoe die leser kla en mor.) Dit is dalk makliker gesê as gedaan, maar heeltemal moontlik. Daar is geen vinnige wenresep daarvoor nie, maar wat ek wel kan sê: begin by die eenvoudige dinge in die lewe en geniet dit. Geniet die goedjies wat jy elke dag as vanselfsprekend aanvaar. Laat toe dat hul, in hul eenvoud, aan jou siel raak. Ervaar dit sintuiglik. Laat toe dat die mooi in die lewe op jou groei. Geen beroep, ook nie die regte een, kan noodwendig daardie tevredenheid in mens se siel bring nie.

En ja, daar is niks daarmee fout om wel ‘n stel finansiele state op skokpienk papier te druk nie! Die syfers lyk sommer mooier en ek is seker die regte egte vaal rekenmeensters se reaksies sal ook heeltemal die moeite werd weesJ

Thursday, 20 November 2014


GREENOUGH

Greenough is ‘n historiese nedersetting wat ongeveer 400 km noord van Perth en 24 km suid van Geraldton geleë is. Hierdie was dan ook die eerste dorpie in die geweste en vandag staan daar nog elf van die oorspronklike geboue wat deur die National Trust of Australia bestuur en beheer word. In 1839 is George Grey die eerste westerling wat hierdie area kom verken. Hy vernoem dan ook die area na Sir George Bellas Greenough, wat op daardie stadium die president van die Royal Geographical Society in Londen was.
In 1851 word ongeveer 30 000 (nagenoeg 120 vierkante kilometer) akker opgemeet en onderverdeel in 20 tot 30 akker groote plotte. Hierdie gedeelte staan dan bekend as die Greenough Flats. Die doel van die Flats was om meer Engelse setlaars, wat gewoond was aan kleiner as Australiese standaard plase, aan te moedig om hul in hierdie, tot toe nog byna onbewoonbare gebied, te kom vestig. Binne ‘n paar jaar is die Flats ‘n suksesvolle graan-produserende gebied met ongeveer 1 000 inwoners, waaruit ‘n klein dorpie ontwikkel.
Hierdie dorpie het ‘n polisiestasie en tronk, ‘n skool, ‘n Anglikaanse en Katolieke kerk, ‘n klooster, meule, ‘n paaiekantoor, ‘n gemeenskapsaal en ‘n algemene handelaar. ‘n Entjie verder van die dorpie is die Wesley Church, nog ‘n handelaar en ook die Convict Bridge.
 Stap jy vandag deur die dorpie se straat, kan jy jou byna indink hoe ‘n skemeraandtoneel in hierdie dorpie moes gelyk het. As die middag room word en goud op die omliggende koringlande kom lê het, sou die winkelier sy negosiegoedjies van die stoep af ingedra en sy winkel se houtdeur toegetrek het. Die mans sou streep-streep, met hul gereedskap in die hande, van die lande af teruggekom het. Moeg na ‘n dag se harde werk in die warm son. Teen vroeg skemer sou die koperklok suid van die Katolieke kerk lui om sodoende die nonne te herinner aan die aanddiens.
Wanneer strek skemer sag oor die dorpie kom vou, sou die dames, deftig uitgevat in hul Victoriaanse drag aan die sy van hul ewe deftige mans, na die gemeenskapsaal stap vir ‘n dansparty. Dit terwyl die polisieman aan diens moet bly, want soos dit in daardie jare gewerk het, is sy woonkwartiere, die polisiestasie, die hof en tronk als in een gebou. Hy sou laatnag, wanneer slegs die vae klanke van die bedrywigheid by die gemeen-skapsaal nog hoorbaar is, sy swaar bos sleutsels en parafienlamp vat en stoep-langs omstap tronk toe om kyk of als nog pluis is met die prisioniers. Die prisioniers wat in koue klipselle sit. Wittes elkeen in hul eie sel en die Abbo’s almal saam in een sel, vasgeketting aan die yster-reëling teen die muur, met die die ysige nagkoue en duisternis as enigste geselskap. (Liewe leser, moet asb nie meegevoer raak nie, hul was áfterall’net prisioniers!)
Vanaf 1872 tot in die 1900 tref ‘n paar natuurrampe Greenough, wat dan  saam met die ontdekking van goud in die binneland, daartoe lei dat die gebied teen die 1900 sou leeg loop. In 1872 tref ‘n sikloon die nedersetting. Kort op sy hakke in 1888, vloed die nedersetting. (Die vloedmerk is vandag nog in baie van die geboue te sien. Byna soos Mariental, verloor die inwoners byna, indien nie, alles.) Die ontdekking van goud in die vroeër 1900, was die laaste strooi en die gebied loop leeg. In 1980 word hierdie geboue deur die National Trust oorgeneem, gerestoureer en bewaar. Vandag is hierdie stukkie geskiedenis daar vir elkeen van ons en sodra jy deur daardie hekke stap, stap jy terug in tyd en jou verbeelding neem sy eie loop...

 

 

 

-

 

SHARK BAY

Saterdag 27 September 2014 pak ons die Wit Wa en vat die northwest coastal highway (NWCH) noorde toe. Boot en bord op die dak, padkos in die Engel en Slim Dusty, om ons in die regte bui te kry. Hierdie is ons laaste langnaweek in die jaar en ons is van plan om dit goed te benut, deur Shark Bay te besoek. Georg was al daar vir een of ander werksverwante kurses, maar ek was nog nie daar nie.
Net buite Geraldton kry jy die eerste lande. Land op land staan die koring goud in die aar. Oor ‘n paar weke gaan die boere verseker begin stroop. Later ry oor ons die Murchinson rivier. Daar is sommer nog baie water in die rivier en ou reier staan en wag rustig vir ‘n vissie om verby te kom. Daarna begin die plantegroei droeër raak. Dis die tipies vaalgroen plantegroei in die rooi-rooi sand, wat ons kilometer na kilometer sien.
Laatoggend stop ons by die Overlander Roadhouse om bene te rek. Die wind waai verwoed en die bloekoms langs die Roadhouse staan skeef in dié wind. Rooi stofbollings, hardloop padlangs en ‘n Road Train probeer sy groot lyf langs die petrolpomp inkry. Kom jy binne, is jy egter aangenaam verras. Jy kan enigiets van die spreekwoordelike dooie poliesman tot ‘n posseël daar kry. Aan die agterkant is daar ‘n mooi skoon eetplekkie, onderdak, met ‘n kontant papegaai in ‘n hok in die hoek. Nadat ons bietjie bene gerek het, draai ons van die NWCH af en vat die pad kus toe.
Oor die volgende paar dae sou ek wel deeglik besef, waarom dié deel, in 1991, as ‘n Wêrelderfenisgebied gelys en verklaar is. Dis inderdaad ‘n uiters unieke plek en beslaan sowat 2,200,902 hektaar, waarvan omtrent 70% seewater is. Volgens die 2011 sensus is daar ‘n bevolking van so om en by 1000, in die gebied. (So, liewe leser, as jy hou van flieks, stadsliggies, winkelsentrums en verkeersknope, moet jy eerder nie Shark Bay besoek nie.) Die Shark Bay Wêrelderfenisgebied sluit plekke soos Dirk Hartog eiland, Monkey Mia, Hamelin Pool Marine Reserve, Shark Bay Marine Park en Peron National Park in. Die baai self is 1,300,000 hektaar en het ‘n gemiddelde diepte van ongeveer 9m. Dit sluit die grootste seegras bed ter wêreld in (103 000 hektaar), wat op sy beurt ‘n natuurlike habitat vir soveel seediere is.
Middagtyd stop ons by Hamelin Pool om die stromatolites te kyk. Ek gaan probeer om dit in eenvoudige taal te probeer verduidelik en dan die res aan die foto oorlaat. Dis blykbaar blou-groen alge wat oor eeue heen opgebou het en dan hierdie strukture gevorm het. Die alge groei daar omdat die soutinhoud van die baai twee maal hoër as normale seewater is. Die soutgehalte is so hoog as gevolg van die feit dat daar nie veel beweging in die water is nie, die verdamping baie hoog is en die baai baie vlak is. ‘n Mondvol. Maar al hierdie goed bymekaar is die ideal habitat vir die vorming van stromatolites, wat nie fossiele is nie, maar wel lewende organismes. Ek hoop julle verstaan dit, vir my lyk dit maar soos klippe, maar darem mooi klippe.
Sowat 45km suidoos van Denham is Shell Beach. Hierdie is een van slegs twee strande ter wêreld wat van skulpe is. Jip, julle het reg gelees. Daar is geen sand nie, net skulpe. Vir 60 kilometer lê die klein mantelskulpies van die Fragum Erugatum spesie. Jy kan kan maar grawe, daar is net skulpies. Dié skulpdiertjies het so vermenigvuldig omdat die hoë soutgehalte in die water, dit vir hul natuurlike vyande onmoontlik maak om daar te oorleef. Dus kan hul na hartelus vermeerder.
Laatmiddag stop ons by ons blyplekkie. Dis teen die see en terwyl ons afpak kom loer oom Emu in. Laataand sit ons op die stoepie met ‘n koppie boeretroos en kyk na die klein glofies op die baai. In die weste trek die son water en bootjies wieg lui-lui in die baai. En ek wonder waar in die seegras, die ou dugongs wei...
Hamelin Pool - stromatolites


Shell Beach en die skulpies van naderby

Shark Bay
 

Friday, 26 September 2014


AKWARIUM VAN WES-AUSTRALIE
AQWA
My gedagtes, my onthou en my lewe is in kleure. Sommige mense het weer met reuke ‘n assosiasie. Of klanke. Soms ek ook, maar meeste van die tyd leef ek in kleure.
As ek aan Suidwes dink, sien ek ‘n mengsel van aardse kleure. Die Suide se harde, rooibruin kliprante oortrek met goue wintersgras, die Namib se oranje duine en die vaalbruin klipkoppe van die Kaokoveld. Die bruin modderwaters van ons riviere en donker stofbruin stamme van kameeldorings omsoom met blouselblou lug, is vir my die kleure van Suidwes. Dink ek aan die Kaap, is my prentjie in alle skakerings van groen en blou met helder water. Dink ek aan die Kalahari is my prentjie rooi en ougoudgeel met ‘n tikkie donkergroen. Parys is alle skakerings van grys, met swart en blinknat strate. Amsterdam is bruin met hier en daar ‘n uitbundige mengelmoes van helder vrolike kleure. England is soos die bekende liedjie sê: Forty shades of green, met statige grougrys geboue. Ek kan met die lysie aangaan en aangaan. So beland ek vir die eerste maal in my lewe in Australie en my brein begin dadelik met kleurassosiasie. My Wes-Australiese prentjie is tans ‘n mengsel van bloedrooi sand en vaalgroen plantegroei na die binneland se kant toe. En hier teen die seekant is dit turkoois met wit. Hier draai byna alles om die see, veral in die somer, maar vir die ernstige surfers sommer in die winter ook. 

So kom dié Suidwester na ‘n land waar alles om die see draai. Nou kyk, my kennis van die see en sy inwoners is beperk tot ‘n paar maal se Henties vakansies. Boonop is die Suidwes seewater so koud, dat dit heelwat beter is om op die strand rond te sit as om jou toon in die water te sit, wat nog te sê van jou lyf nat te maak. My kennis oor die see se inwoners is ook uiters beperk, tot ‘n visvangkompetisie wat ek eenmaal bygewoon het. Ek het blinklywe gesien, maar weet nie wie is wie nie. As jy egter so naby aan die see bly, soos ons die afgelope 18 maande, begin jy onwillekeurig wonder wat alles in daardie pragtige turkoois waters woon. So kry ons nou die dag die geleentheid om die Wes-Australiese Akwarium in Perth te besoek. Dit het my oë bietjie oopgemaak vir die wonderwêreld in die see. Ek gaan probeer om hierdie ervaring met die leser te deel.

Dertien April 1988 open Underwater World Perth, sy deure vir die publiek. Dis ‘n akwarium met, op daardie stadium, slegs twee uitstallings. Een van die uitstallings is, vrylik vertaal, die Voel Poel. (Nee, nee nie ‘n jacuzzi nieJ Die Voel Poel is ‘n vlakkerige poeletjie, met verskeie seediere waaraan die besoekers mag raak. Soos rotspoeletjies langs die see.) In 1991 verander die akwarium van eienaar en die nuwe eienaars verander toe die naam na WA Aquarium, soos dit vandag nog bekend staan.

Vandag kan jy meer as 400 spesies van die seelewe, wat jy teen die 12 000km lange kuslyn van Australie kry, daar te siene kry. Daar is 40 verskillende uitstallings met oor die 4 000 visse in altesaam 4 miljoen liter water. Die omvang van die akwarium is dus heel indrukwekkend en dek ‘n wye verskeidenheid van die seelewe. Dis basies in 5 afdelings ingedeel, wat elkeen sy eie deel van die kuslyn verteenwoordig. In elke afdeling is nie net die seediere van daardie streek te sien nie, maar ook hul hele habitat. Dis ingedeel in die volgende 5 afdelings: Great Southern, Shipwreck Coast, Perth Coast, Far North and Marmion Marine Park.

Die grootste van die uitstallings is natuurlik die Shipwreck Coast. Daar stap jy deur ‘n indrukwekkende onderwater akrieltonnel, wat 40m lank en 20m wyd is. Eens in daardie tonnel is jy omring van 3 miljoen liter seewater, 13 haaie, waarvan die ‘grey nurse sharks’ tussen 3 en 4m lank is. Daar is ook groot loggerhead sea turtles wat lui-lui oor jou kop swem.  Daar is heelwat pylsterte, seekatte, nog heelwat ander soorte haaie en visse.

In die Marmion Marine Park afdeling is daar die mooiste korale waaraan mens kan dink. Kompleet met skole veelkleurige vissies wat deur hul vleg. Wat baie interessant was, is dat daar vergrootglase teen die tenk se ruite is. Met die blote oog lyk baie van die korale soos veelkleurige klippe of rotse, maar kyk jy deur die vergrootglas sien jy hoe hul beweeg en hul ‘spre’afskei. Dis ook dan wanneer mens verstaan waarom korale so bedreig word, veral deur besoedeling. 

Die Far North afdeling word ook die Danger Zone afdeling genoem. Met reg en rede ook. Hier kan jy van die giftigste seediere te wêreld te  siene kry. En glo my, vir my ongeoefde woestynoog lyk hul na heel onskadelik vredeliewende seediertjies. Niks monsteragtig nie. Geensins. Maar gaan lees maar oor hulle en jy sal hul volgende keer met ander oë na hul kyk. (Hopelik in ‘n akwarium…). Daar kan jy onder meer die Stonefish, Sea Snake (hul is wel baie lelik), Black Tip Sharks, Port Jackson Sharks, Lion Fish  en Cone Shells sien. Die Lion fish is ‘n kleinerige, rooi, wit, room, en swart gestreepte vis met lang ‘fin rays’. Hierdie ‘fin rays’ is baie giftig. Die Stonefish is een van die giftigste visse ter wêreld en kan dood by mense ook veroorsaak. Omdat hierdie vis tot 24 uur buite die water kan leef, gebeur dit baie dat slagoffers hul nie tussen die rotse of korale sien nie en op hul trap. Dus is daar baie gevalle van Stonefish steke wat buite die water plaasvind. En dan sal die Far North ook nie die Far North wees sonder ‘n paar krokodille nie. Hoewel dit kleintjies is, is daar 3 krokkedilletjies ook te sien. Die gids sê egter dat hul weer teruggevat word as hul groter word, want hul raak te aggressief.

Stap jy nou na die uitstallings aan die buitekant van die akwarium, sal jy onder meer die Sting Ray Bay kan sien. Pylsterte kan tot 4m in deursnee raak. Dié wat daar te siene was, was wel nie heeltemal so groot nie. Tog was daar ‘n paar grootes (in ag geneem dat hul in aanhouding is) te sien. Die interessant om hul dop te hou en te sien hoe hul na die oppervlak kom en half bo-op die water swem, net om hulself nou net in die sand te begrawe. Lelike goed dié.

So het ons ‘n blitstoer deur die mooi, maar ook gevaarlik turkoois waters van Australië gevat. Hoewel dit my nie regtig uit die see sal hou nie,  want teen 43 grade smelt my brein en kan ek nie meer onthou wat ‘n haai nou eintlik is nie, sal ek van nou af die see met die nodige respek aandurf. En ek sal ‘n besoek aan die koraalriwwe of my ‘bucket list’ byvoeg. Dis inderdaad ‘The Serengeti of the Seas’.
Korale kompleet met die veelkleurige visse wat daardeur swem

Die onderwatertonnel


DALGARANGA
Padpredikant
Vat jy die pad uit Geraldton na die noord-ooste, ry jy deur die ‘n kleine deeltjie van die hartland van die sogenaamde ‘Outback’. Geen 100km van Geraldton begroet die eerste rooi sand en droeë plantegroei jou. Nog ‘n paar kilo’s verder en dis net rooi en droog sover soos die oog kan sien. Stil wye uitgestrekte paaie, is plek-plek net uitkenbaar aan die padbordjies wat weerskant van die pad geplant is, sodat ‘n eensame reisiger nie die pad byster raak nie. Was dit nie vir die bordjies nie, was dit maar net nog ‘n vlakte gewees. Die landskap is oor die algemeen platterige, met hier en daar ‘n kop of reeks rante, wat die Aussies ‘break aways’ noem. Soms kruis die pad ‘n seisoenale rivier waarin moeë bloekoms hangblaar staan. Kol-kol word die sanderige dele afgewissel met dorre kliprante en oral sal jy die staal geraamtes van vroeër jare se boerdery- en myngereedskap te siene kry. Stille getuies van voorspoed wat eens was.
Dis ‘n harde ongenaakbare wêreld dié. Tog hou hierdie deel vir my ‘n groot bekoring in en wanneer die geleentheid hom voordoen vat ons die rooi stofpad. Ons het eenmaal regtig vir twee dae lank gery sonder om ‘n ander mens of voertuig te sien. Al hoekom ons wel teen die derde dag iemand anders gesien het, was omdat ons na die beskawing teruggekeer het. Mens kan kwalik deur hierdie klein plattelandse dorpies en tussen die stations ry, sonder om oor die geskiedenis te wonder. Sien jy die harde droeë land waar die kwik somertye gereeld in die middel veertigs kuier, wonder jy watter oppurtinis die eerste maal hier ‘n lewe begin maak het? Wat het hom juis hiernatoe laat kom en hoe het hy reggekom? Waarvan het hulle geleef? Wat was hul lief en leed? Ja, die vrae maal deur jou kop en kort voor lank loop die stories. Vandag wil ek ‘n station storie met julle deel.
Dalgaranga is ‘n medium grootte eiendom en is sowat 250km noord-oos vanaf Geraldton, in die Yalgoo Shire geleë. Hierdie eiendom is ‘n skrale 102 000 hektaar groot en behoort die laaste paar jaar aan die Department of Park and Wildlife.  Voor dit, was dit egter ‘n aktiewe plaas, met ‘n groot skaapboerdery en alles wat daarmee gepaard gaan. In 1878 neem A.G Lacy die  pastoral lease vir die eerste vier blokke op. Die eerste jare is moeilik sonder enige infrakstruktuur. So ‘n paar jaar later raak dit weer Kroongrond. In 1908 neem twee boere van die Morowa distrik weer die lease op. Die pastoral lease, wat in die name van JJ Keefe en FJ McGuiness geregistreer was, is 10 blokke en die grootte van die eiendom soos ons dit vandag ken.
In 1910 verwissel die lease weer hande. Hierdie keer koop A.R Richardson dit en registeer dit in die naam Dalgaranga Pty. In 1911 begin ene Wellard, sy susterskind, by hom werk en teen 1915 is hy die bestuurder. Dis dan ook onder sy bestuur, wat die grootste infrastruktuur tot stand gekom het. Toe hy aanvanklik op die station gekom het, het hy in ‘n hut by White Water Well gewoon. Laasgenoemde was ‘n bekende oorstaan punt vir transportryers of die ou Cue pad. In hierdie tyd bou hy die station op. Hy bou ‘n homestead, skeerskuur,  span drade en grawe putte.
 Vanaf 1917 – 1919 pak hy die enorme taak aan om ‘n dam te bou. Hierdie was ‘n baie groot taak en sou selfs met vandag se masjiene ‘n groot projek gewees het. Hy besluit om die dam op die granietrantjie agter die huis te bou. Die sement word met Tom Seaman se wa en donkies van Yalgoo af aangery en die granietklippe waarmee die wal gebou word, word uit die rantjie gekap. Die boumateriaal word met ‘n slee wat deur donkies getrek word, teen die rantjie uitgekarwei. Die dam se wal is 1.5m dik en 3.6m hoog. Wanneer dit vol was, het dit 2 250 kiloliter water gevat. In die dorre Outback was die dam net twee maal in sy leeftyd van 44 jaar vol gewees. Die laaste keer was in Julie 1963. Onverwagse buie oor die groot opvangsgebiede het verskeie riviere in vloed gehad. Daar was dus oral in die Yalgoo distrik vloede en Dalgaranga se dam het vinnig volgeloop. Boonop het ‘n sterk wind gewaai en die golwe van die water het teen die wal ‘gedruk’.  In die middel van die nag breek die damwal. Die water sleur meer as 25m van die wal saam. Bome, heinings en diere wat in die pad van die water was word saamgesleur. Die water kom tot by die homestead.
Terug na die boerdery aktiwiteite. In 1917 boer hul met 14 000 skaap op Dalgaranga. Uit die rekords blyk dat dit goeie reënjare was en teen die middel twintigs is daar tot 22 000 skaap op dié station. Net hierna breek die depressiejare aan. Net soos wat in Suid-Afrika die geval was, was dit ook maar hier. Heelwat mense is daardie tyd uit hul grond uit. Richardson en Wellard byt vas tot en met 1943 wat hulle die station aan Cyril Ross verkoop. Ross se een seun Russell en sy vrou Roma gaan woon op die station totdat Parks and Wildlife dit koop. Russell en Roma was baie aktief in die gemeenskap. Hy het op verskeie rade gedien nl: Nursing Post, Shire of Yalgoo, Yalgoo Hockey Club ens. Roma was ‘n tuisteskepper, wat ook hul kinders tuisonderrig gegee het. Sy was ook baie aktief by die Childrens and Parents Home Schooling Association  betrokke. Boonop het Roma ‘n lushof van ‘n tuin in die woestyn gehad. Vandag is daar nie meer veel van die beroemde tuin te siene nie.
Daar is twee ander bekende kenmerke wat ook vermelding verdien as ons van Dalgaranga praat. Die eerste is Dalgaranga Hill, ‘n lostaande koppie 650m bo seevlak, wat letterlik bo die kaal vlaktes uittroon. Hierdie was van die vroegste tye af ‘n baie bekende landmark en was dan ook deur die eerste landmeters as trigpunt gebruik. Die tweede kenmerk is die Dalgaranga krater. Hierdie is ‘n kleinerige krater, ongeveer 21m in deursnee en 3m diep. In 1967 is hier ‘n buitelug museum opgerig.
Laaste maar nie die minste, wat vermelding verdien, is die Dalgaranga myn. Twee Abbo broers Dan en Don Todd ontdek in die rantjies  om die homestead beryl terwyl hul een dag bokke bymekaar maak om aan die plaaslike winkelier te verkoop. Gou-gou neem een of ander myn maatskappy die regte oor en myn aktief vir die volgende 20 jaar.
 Vandag is ‘n groot gat in die grond die enigste getuie van wat eens myn was. Gebarste  sementakkertjies op die werf is die enigste getuies van wat jare gelede Roma se spogtuin was. ‘n Ent verder skree die geraamte van die groot skeerskuur stil sy storie van die goeie woljare uit. Ja, op die oog af is dit net nog ‘n werf. Kyk jy egter fyn, sien jy die stories van voortuigang en ook swaarkry. Van drome teenoor realiteit. Van oorblyfsels waaroor die westewinde rooi bollings stof waai.  In die verte swyg Dalgaranga hill…
Die oorblyfsels van die damwal
 
'n Myn gat daar êrens op die vlak
 
 

 

 

 

 

 

 

 

MEER AS NET ‘N KWILT Vandat ek kon onthou was kwilts, of soos dit in die volksmond bekend staan, lappieskomberse deel van my lewe. Me...