ODE AAN ANNERLAND
Stippeltjie-op-die-aardbol-land.
Met jou turkoois see en bloed sand.
Doer, vér ver ver onder…
Oor jou, het ek altyd gewonder.
Gewonder oor jou vreemdsoortige diere:
Naglewend, hopend, kruipend en tonnelgrawend.
Jou plantegroei, vaalgroen van blaar en blommend met swier,
wanneer hul die eerste reëns vier.
Gewonder oor jou wêreldberoemde riwwe.
Party van kosbare koraal.
Ander word gemyn en met industriële siwwe,
word onskatbare rykdomme uit die rooi grond gehaal.
Gewonder oor jou tongknoper plekname,
Soos Joondalap, Mullewa en Ballingup,
met jou saamgeflanste taal tesame,
“Ye ‘snotbad Mate, whats up!” (is not bad)
Nou na ‘n paar maande in die vreemde,
het jy amper my hart verower.
Tog is daar steeds ‘n verlange-leemte,
na Suidwesvalktes wat my so kan betower.
En tog, Annerland,
Stap ek en jy hand aan hand.
Dag vir dag, tree vir tree, leer mekaar versigtig ken
Miskien sal jy in die verre toekoms ‘n deeltjie van my hart wen.
Net miskien...
Stories was en is steeds 'n wonderlike deel van my lewe. Dit is dus gepas dat die 'stories' blog my storie vertel.
Sunday, 25 October 2015
Troosbriefie
TROOSBRIEFIE
Ek bly sonsakkant van Annerland
en jy, sonsakkant van my land.
Maar met my boodskapper maak,
oseane tussen ons nie saak.
Geskryf op stemmige wit papier en styf gevou
om dié belangrike boodskap binne te hou,
stuur ek vandag vir jou 'n troosbriefie
saam met die son.
Sal jy dit versigtig oopmaak
en saggies daaraan raak?
Want tussen die geykte trooswoorde van my,
sal jy 'n stukkie van my hart ook kry...
(Opgedra aan Mino)
Ek bly sonsakkant van Annerland
en jy, sonsakkant van my land.
Maar met my boodskapper maak,
oseane tussen ons nie saak.
Geskryf op stemmige wit papier en styf gevou
om dié belangrike boodskap binne te hou,
stuur ek vandag vir jou 'n troosbriefie
saam met die son.
Sal jy dit versigtig oopmaak
en saggies daaraan raak?
Want tussen die geykte trooswoorde van my,
sal jy 'n stukkie van my hart ook kry...
(Opgedra aan Mino)
Thursday, 25 June 2015
KALGOORLIE en die PALACE HOTEL
“Do you ever dream, my
sweetheart, of a twilight long ago,
Of a park in old Kalgoorlie, where the bougainvilleas grow?
Where the moonbeams on the pathways trace a shimmering brocade,
And the overhanging peppers form a lover's promenade?
Where in soft cascades of cadence from a garden close at hand,
Came the murmurous, mellow music of a sweet orchestral band.
Years have flown since then, my sweetheart, fleet as orchid blooms in May.
But the hour that fills my dreaming, was it only yesterday...”
Of a park in old Kalgoorlie, where the bougainvilleas grow?
Where the moonbeams on the pathways trace a shimmering brocade,
And the overhanging peppers form a lover's promenade?
Where in soft cascades of cadence from a garden close at hand,
Came the murmurous, mellow music of a sweet orchestral band.
Years have flown since then, my sweetheart, fleet as orchid blooms in May.
But the hour that fills my dreaming, was it only yesterday...”
Toe ek op ‘n koue wintersaand, in die
helder verligte portaal van die Palace Hotel staan en hierdie gedig lees het dit dadelik my
verbeelding aangegryp. Ek wou wéét wat die storie agter dié gedig is. Wie was
die man was so met woorde kon omgaan? Wat op dees aarde het hy tussen die rowwe
delwers gemaak? Belangrikste van als, wat of wie het hom geinspireer om hierdie gedig te skryf?
Kalgoorlie, is ‘n
myndorp in Wes-Australië en is sowat 600km oos van Perth geleë. Hierdie is rooi
sand en Salmon Gum wêreld en hier is stories. Baie stories, party mooi en ander
glad nie iets wat jy in enige geselskap kan vertel nie. ‘n Verrassende storie is egter die een van
Herbert Hoover en sy verbintenis met Wes-Australië, meer spesifiek Kalgoorlie
en die Palace Hotel, maar kom ons begin by die begin.
Gedurende die
laat 1800’s word die eerste goudvelde in Wes-Australië ontdek. Coolgardie is
een van die grootste goudvelde en trek delwers, prospekteerders en skarminkels
van heinde en verre. Paddy Hannan, Dan O’Shea en Tom Flanagan is maar drie van
die menigte wat hul fortuin daar kom soek het. Lewe op die Wes-Australiese
goudvelde van daardie tyd, was beslis nie ‘n sprokie nie. Vars water was die
grootste probleem. Kort op die waterprobleem se hakke, was al die sosiale probleme
wat met so ‘n stormloop gepaard gaan. Daar was geen huisvesting of skuilings
nie. Kos was baie skaars en delwers het soms dae sonder kos klaargekom. Mense
het enigiets gedoen om te oorleef. Die
meer innoverende dames het nie op hul laat wag om ‘n ‘besigheid’ te begin nie,
terwyl van die manne se dade ook nie aldag die daglig kon aanskou nie. Dit was ‘n
harde lewe en die naaste wetgewer was in Perth. Wat regtig op die goudvelde
gebeur het, het hom nie juis geskeel nie en was beslis nie prioriteit nie.
In Januarie 1893
begin gerugte die rondte doen dat daar ryk goudneerslae by Mount Youle ontdek is en
Hannan, O’Shea en Flanagan saal hul perde op en vat die pad soontoe, via Mount
Charlotte (laasgenoemde is net buite die huidige Kalgoorlie geleë). Oppad kry
hul teëspoed met die hoefysters van een van die perde en moet noodgedwonge die
reis onderbreek om dit eers uit te sorter. Dis dan tydens dié onderbreking,
terwyl hul na water gesoek het, wat hul tekens van goud in die omgewing opmerk.
Hul besluit daar en dan om eers te bly en dit verder te ondersoek. Op 17 Junie
1893 handig Hannan ‘n “Reward Claim” by die magistraat in Coolgardie in.
Hierdie was net die begin van nog ‘n groot goudstormloop. Teen 1895 bestaan
Kalgoorlie, hoewel dit daardie tyd as Hannas Find bekend gestaan het, met ‘n
populasie van net oor die 2,000. In 1901 is die populasie byna 5,000 en teen
1903 byna 7,000. Hierdie area rondom Kalgoorlie en Coolgardie, staan vandag nog
bekend as die Goue Myl en word allerweë beskou as die rykste stuk aarde ter
wêreld. Mynbou is vandag nog die
hoofindustrie.
Met ‘n area
populasie van ongeveer 200,000 in die laat 1800’s, was daar ‘n onversadigbare
aanvraag na infrastruktuur en werksmense. Besighede, banke en natuurlik bordele
het oornag soos paddastoele opgeskiet. Die Palace Hotel is dan ook in hierdie
tyd gebou. In 1897 word die hotel gebou teen ‘n astronomiese koste van 17,000
pond. Die amptelike opening van die 44 kamer hotel is in Desember van dieselfde
jaar. Die hotel word op daardie stadium beskou as die luukste hotel buite
Perth. Die meubels is van Melbourne af bestel en dit was die eerste hotel met
elektriese lig (vanaf hul eie kragopwekker) en vars water in al die badkamers.
Hierdie vars water het van die hotel se eie kondenseerders gekom.
Dit bring my die
volgende deel van die storie, naamlik Herber Hoover se konneksie met
Kalgoorlie. Herbert Hoover was die 31ste president van Amerika tussen 1929 –
1933. Hy het in 1897 as 23 jarige myningenieur,
in die goudvelde van Wes-Australië kom werk. Hy het in die Palace Hotel oorgebly
en by verskillende myne in die area gewerk. Vanaf Coolgardie, Kalgoorlie op na Menzies,
en Leonora en selfs tot in die Murchison, het hy as geoloog en ingenieur gewerk.
Hy het Wes-Australië as volg beskryf: “black
flies, red dust and white heat”. (Dit kan ek bevestig, is vandag nog die
geval. Daar was sedertdien geen verandering op daardie front nie.) Tydens sy
verblyf in die Palace Hotel het hy blykbaar verlief geraak op ‘n barmaid. Daar word egter nie veel oor
die verhouding geskryf nie, hoewel my storiesiel meer daaragter wil sien. In
1899 vertrek hy na China en trou later daardie jaar met sy skoolliefde Lou
Henry. Hy het nooit weer in Australië gebly nie, maar het die land ‘n paar maal
in die vroeë 1900’s besoek in sy hoedanigheid as oorsese belegger.
Nou vir die teleurstellende
kinkel in die kabel: daar is heelwat kenners wat sterk daarin twyfel of Hoover
werklik die gedig geskryf het. Hy was blykbaar nie juis bekend vir skryf en
glad nie gedigte nie. Hul redeneer dat Kalgoorlie op daardie stadium nie juis ‘n
dorp was nie en daar sou beslis nie gevestigde bougainvilleas en peppers gewees
het nie. Nog minder geplaveide paadjies. Lewe op die goudevelde was ‘n
daaglikse stryd om oorlewing en sou daar enige tuine gewees het, sou dit
groente gewees het. Water was ook maar skaars en sou beslis nie gebruik gewees
het vir tuine nie. Hul redes is heel logies en realisties, maar die storie-kant
van my wil nie daaraan byt nie. Wat het geword van drome? Kan die liefde nie
dalk maak dat die prentjie wat onthou word, soveel rooskleuriger is nie? Die
leser moet maar self besluit.
“Love
Poem”
Attributed
to Herbert Hoover (USA President) – relating to an affair he reputedly had with
a barmaid from the Palace Hotel while in Kalgoorlie in 1897-98
Do
you ever dream, my sweetheart, of a twilight long ago,
Of a park in old Kalgoorlie, where the bougainvilleas grow,
Where the moonbeams on the pathways trace a shimmering brocade,
And the overhanging peppers form a lovers’ promenade?
Where in soft cascades of cadence from a garden close at hand,
Came the murmerous, mellow music of a sweet, orchestral band.
Years have flown since then, my sweetheart, fleet as orchard blooms in May,
But the hour that fills my dreaming, was it only yesterday?
Of a park in old Kalgoorlie, where the bougainvilleas grow,
Where the moonbeams on the pathways trace a shimmering brocade,
And the overhanging peppers form a lovers’ promenade?
Where in soft cascades of cadence from a garden close at hand,
Came the murmerous, mellow music of a sweet, orchestral band.
Years have flown since then, my sweetheart, fleet as orchard blooms in May,
But the hour that fills my dreaming, was it only yesterday?
Stood
we two a space in silence, while the summer sun slipped down,
And the grey dove dusk, with drooping pinions, wrapt the mining town,
Then you raised your tender glances darkly, dreamily to mine,
And my pulses clashed like symbols in a rhapsody divine.
And the pent-up fires of longing loosed their prison’s weak control,
And in wild, hot words came rushing from my burning soul.
Wild hot words that spoke of passion, hitherto but half expressed,
And I clasped you close, my sweetheart, kissed you, strained you to my breast.
And the grey dove dusk, with drooping pinions, wrapt the mining town,
Then you raised your tender glances darkly, dreamily to mine,
And my pulses clashed like symbols in a rhapsody divine.
And the pent-up fires of longing loosed their prison’s weak control,
And in wild, hot words came rushing from my burning soul.
Wild hot words that spoke of passion, hitherto but half expressed,
And I clasped you close, my sweetheart, kissed you, strained you to my breast.
While
the starlight-spangled heavens rolled around us where we stood,
And a tide of bliss kept surging through the current of our blood.
And I spent my soul in kisses, crushed upon your scarlet mouth,
Oh! My red-lipped, sunbrowned sweetheart, dark-eyed daughter of the south.
It was well that fate should part us, it was well my path should lead,
Back to slopes of high endeavour, aye, and was it well, indeed.
You have wed some southern squatter, learned long since his every whim,
And a tide of bliss kept surging through the current of our blood.
And I spent my soul in kisses, crushed upon your scarlet mouth,
Oh! My red-lipped, sunbrowned sweetheart, dark-eyed daughter of the south.
It was well that fate should part us, it was well my path should lead,
Back to slopes of high endeavour, aye, and was it well, indeed.
You have wed some southern squatter, learned long since his every whim,
Soothed
his sorrows, borne his troubles, sung your sweetest songs for him.
I have fought my fight and
triumphed, on the map I’ve writ my name,
But I prize one hour of loving, more than fifty years of fame.
It was but a summer madness that possessed us, men will hold,
And the yellow moon bewitched me with its wizardry of gold.
Let them say it, dear, but oft-times in the dusk I close my eyes
And in dreams drift back to where the stars rain splendour from the skies,
To a park in far Kalgoorlie, where the golden wattles grow,
Where you kissed me in the twilight of a summer long ago.
And I clasp you close, my sweetheart, while each throbbing pulse is thrilled,
By a low and mournful music that shall never more be stilled
Die ingangsportaal van die Palace Hotel
Die Herbert Hoover Mirror
Saturday, 20 June 2015
OAKABELLA STATION
Op die oog af is Oakabella ‘n ‘station’
soos alle ander ‘stations’ in Wes-Australie
. Tog is hierdie een uniek as jy na sy geskiedenis gaan kyk. Wat van die hedendaagse beweringe waar, is en wat nie, sal ek my nie oor uitlaat nie, maar ek sal wel graag die leser op ‘n kort feitlike toer deur Oakabella wil neem. Ek sal probeer beskryf wat ek gesien het en hoe ek dit beleef het. Hierna kan die leser self besluit wat hy of sy hiervan dink.
. Tog is hierdie een uniek as jy na sy geskiedenis gaan kyk. Wat van die hedendaagse beweringe waar, is en wat nie, sal ek my nie oor uitlaat nie, maar ek sal wel graag die leser op ‘n kort feitlike toer deur Oakabella wil neem. Ek sal probeer beskryf wat ek gesien het en hoe ek dit beleef het. Hierna kan die leser self besluit wat hy of sy hiervan dink.
Wintertyd is die ryk rooi sand van
Wes-Australië toegegooi met ‘n sagtegroen opslagkombersie. Pers, geel en wit
blommetjies gee nog meer kleur aan die kombersie. ‘n Paar kilo’s noord van
Geraldton tussen golwende rante, knus teen ‘n rivier en ‘n klipgooi of drie van
die see af, sal jy Oakbella ‘station’ kry. Hierdie station is ongeveer 150 jaar
reeds in Europese besit en het ‘n groot vriendelik plaaswerf. Noord van die
huis, staan ‘n enorme wildevy waarin ‘n swerm papegaaie baljaar. Die klipopstal (homestead) self is op ‘n
rantjie geleë en kyk uit oor die loop van die rivier. ‘n Entjie verder na die
suidekant, is daar ‘n groepie buitegeboue met onder andere ‘n groot skeerskuur.
Tussen die opstal en die buitgeboue is die buite kombuis, soos wat dit die
gebruik van daardie tyd was. Daar is ook ‘n kerk / skuur met ‘n solder. Oor dit
alles, hang ‘n loom plaaswerf-vrede.
Sodra jy egter deur die geboue begin stap,
kan jy aanvoel dat hierdie ‘n besige werf was en steeds is. Hier het dinge
gebeur en mense geleef. Hier het mense
gewerk en daar is duisende skape deur daardie skeerskuur. Die skeerders moes
kos hê na ‘n dag se harde arbeid en jy kan jouself probeer indink hoeveel potte
kos daar in die nederige klipkombuis gemaak is. Ek kan my indink hoe die klomp
skeerders saans met hul borde kos gesit het , terwyl hul die dag se gebeure bespreek
het en hoe die kok gespook het om almal se mae vol te hou. Tussendeur was daar
nog ‘n span wat die lande moes bewerk. Die gereedskap in die skuur vertel ‘n
storie van hul eie. Van swaarkry met gesukkel klaarkry. Van planne maak in ‘n
harde vreemde land met nog vreemder peste. Daar is onder andere ‘n kontrêpsie
waarmee hul hase uit die gate gerook of gejaag het. Dit is silinder vormige en
jy stook dit met groen bloekomtakke vir die maksimum rook. Die slinger word
gedraai en die rook word dan met behulp van en ‘n rubberpyp in die konyne se
gate gepomp. Ek weet nou nog nie of die
rook, of die onaardse geluid wat die ding maak, veronderstel is om die hase uit
hul gate te jaag nie.
Dis egter in die 13 vertrek huis wat mens
regtig begin wonder oor die mense wat die afgelope byna eeu en ‘n half hier
gebly het. Wat jy begin wonder oor hul wel en weë, oor hul voor en teenspoed.
Met reg ook, want kyk jy dieper sal jy sien dat daar baie was. Dis dan ook van
hier af wat ek my bloot by die feite gaan bepaal en waar elke leser sy eie
gevolgtrekking kan maak. Hierdie opstal is soos meeste van die ou plaasopstalle
(van Suidwes tot in Wes-Australië) enorm, maar uiters onprakties. Dit het 13
vertrekke maar is soos ‘n swaeltjie se nes gebou. Die een vertrek loop uit die
ander en daar is geen gang.
Toe ons saam met ons gids Loretta by die
kombuis se kant instap, kry ek dadelik ‘n plaashuis gevoel. Die meubels is
dieselfde ou kombuiskas met die glasdeure en horlosie bo in die middel, wat ek
nog in my ouma se kombuis leer ken het. Dieselfde liggeel kleur met ‘n groen
blad. Die breekgoed wat in die kombuis uitgestal is, is van praktiese
skottelgoed tot dié wat goed genoeg is vir ‘n ‘high tea’. Soos soveel male tevore,
staan ek verstom oor die vlak van beskwawing wat die mense hier in die gopse
gehandhaaf het. Ek kan my net probeer indink, prakties gesproke, hoe moeilik
dit was. Soos wat ons verder deur die huis loop val die ou soliede hout meubels
uit die 1800’s my dadelik op. In meeste van die vertrekke is kaggels ingebou.
Die eerste ry vertrekke kyk dan ook almal uit op ‘n stoep wat die lengte van
die huis is.
Dan vertel Loretta jou van bietjie meer van
die inwoners van die huis, wat volgens haar en die meer sensitiewe siele in die
lewe, nog steeds inwoners is.
In 1885 tref ‘n vreemde tragedie Oakabella.
‘n Driejarige seuntjie staan voor die venster van een van die leefvertekke, wat
uitkyk op die rantjies oorkant die rivier. Op ‘n onverklaarbare manier, val die
venster op hom in en hy breek sy nek. In 1901 het ene Elliot, wat op daardie
stadium die eienaar van die station was, ‘n tragiese ongeluk gehad. Hy het,
soos dit die gebruik daardie jare was, gaan visvang met dinamiet. Wat presies
gebeur het, weet niemand, maar die dinamiet het in sy hand afgegaan. Hy het wel
die huis gehaal en ‘n dokter het sy arm en been geamputeer. Elliot het bly leef
om sy storie te vertel, maar het nooit vrede gemaak met sy ongeluk nie. In 1918
tref Spaanse griep die station en nog ‘n sewejarige seun beswyk. Hierdie keer
aan griep. In 1973 maak ene George
Jackson sy geweer skoon, soos wat hy nog al die jare gedoen het, maar die
geweer gaan op ‘n manier af en so sterf hy.
Dis omtrent ‘n string tragiese en hartseer
gebeurtenisse vir een plek Vir my was dit
bloot ‘n mooi plaaswerf met ‘n ou huis met die allermooiste houtmeubels.
Ook vra ek myself, hoeveel plase en plaashuise het sulke tragiese stories om te
‘vertel’? Ek dink heelwat meer as wat ons dink, veral dié wat ver afgeleë is.
Ongelukke gebeur en hulp, primitief soos dit ook maar was, was dagreise ver.
Vir my is Oakabella se storie, net nog ‘n
storie. Een wat vertel moet word.
Die buitekombuis
Die uitsig vanaf die voorstoep
Wednesday, 17 June 2015
WAARDE VAN EENVOUDIGE DINGE
Mens kry dromers en jy kry
realiste. Almal van ons val in een van hierdie kategoriee. Sommige van ons, is
dalk bietjie dromer, bietjie realis.
Deesdae noem die geleerde mense dit onder andere linker- en regterbrein dominant.
Hul het baie slim toetse om te bepaal watter kant van die brein dominant is.
Hul kan sê of dit oorerflik is en of dit deur omstandighede gevorm is. Of dit
‘n aanwendsel is en of een of ander iets of iemand op jou lewenspad jou beinvloed
het. Of ietsie van jou grootouma of ietsie van jou Sub-A juffrou, iewers in jou
vasgesteek het.
Ek beskou myself meer van ‘n dromer
as ‘n realis. Hoekom? Wel ek lewe in kleure, in woorde en wanneer ek iets
skeppend doen is ek op my gelukkigste. Ek lewe in stories, van stories en vir
stories. Daar is te alle tye iets storie gewys aan die gang in my kop. Soos
mens egter ‘n entjie op die lewenspaadjie loop, leer jy om soms ‘n realistiese,
nugtere uitkyk te he. Jy leer dit, dit kom nie natuurlik nie. Jy leer om die bul
by die horings te pak en die lewe terug te skouer. (Partymaal sommer dat hy
hik.) Jy leer om elke dag vir agt ure agter ‘n lessenaar te sit en na twee
skerms voor jou te staar. Kompleet soos een of ander laboratoriumrot, waarop
daar vreemde futuristiese eksperimente gedoen word. Jy leer om die skreeuende
stilte van ‘n rekenmeesterskantoor te verstaan. Dis nou uitgesluit die geluide
van die lugverkoeling, drukkers, rekenaars en telefone wat jy naderhand,
weereens, leer verdra. Jy leef saam met flourescent
ligte, al skyn die son baldadig buite. Jy leer om die twyfelagtige ‘vars’ lug
wat deur die verkoelingstelsel, op jou geblaas word, in te asem sonder om
miljoene, mikroskopiese kieme te visualiseer. (Maar die stowwerige plastiekplant
in die hoek van enige opregte rekenmeesterskantoor, is en bly nog steeds een te
veel vir my.)
Jy probeer syfers in kleure en
geure sien, want net miskien as jy dit so om doen, is dit so bietjie
interessanter as ‘n toebroodjie, wat dae lank in ‘n songebakte kar vergeet
gebly het. Ter oorlewing sit jy ‘n blommetjie vir Debiet op en trek vir Krediet
‘n das aan, dit maak ten minste die visualisering meer aanvaarbaar. Jy dagdroom in ‘n onbewaakte oomblik van
finansiele state op gekleurde papier met interessante randpatrone, wat in ‘n
unieke handskrif uitgeskryf is. (Dink nou net, as een of ander groot maatskappy
se swartpak direkteure so ‘n stel Finansiele State in hul “all glass and chrome boardroom” moet kry. Hulle verstik verseker
almal aan hul gebottelde water en peperminte.) Die grootste kontradiksie wat jy
seker kan
kry, is wanneer ‘n kunssinnig persoon in die rekenmeestersberoep beland. Nou
kyk, dit is ‘n resep vir lewenslange frustrasie of lewenslange innovasie. Jy is
die enigste een wat kan kies hoe jy dit gaan hanteer. Wat jy daarvan gaan maak.
Ek gebruik die
rekenmeensterskantoor, bloot as ‘n voorbeeld. Daar is vandag soveel mense in
beroepe, wat net glad nie sy of haar belangstelling is nie, maar wat wel vir
die brood op die tafel sorg. Hoe gemaak? Daardie vraag het ek myself ook al ‘n
paar maal afgevra. Nie almal van ons kan doen wat ons wil nie en ons hoef ook
nie. Ons kan wel innoverend raak met betrekking tot die werk wat sorg vir die
brood op die tafel. Innoverend? (Ja, ek hoor nou al hoe die leser kla en mor.)
Dit is dalk makliker gesê as gedaan, maar heeltemal moontlik. Daar is geen
vinnige wenresep daarvoor nie, maar wat ek wel kan sê: begin by die eenvoudige
dinge in die lewe en geniet dit. Geniet die goedjies wat jy elke dag as
vanselfsprekend aanvaar. Laat toe dat hul, in hul eenvoud, aan jou siel raak.
Ervaar dit sintuiglik. Laat toe dat die mooi in die lewe op jou groei. Geen
beroep, ook nie die regte een, kan noodwendig daardie tevredenheid in mens se
siel bring nie.
En ja, daar is niks daarmee fout om
wel ‘n stel finansiele state op skokpienk papier te druk nie! Die syfers lyk
sommer mooier en ek is seker die regte egte vaal rekenmeensters se reaksies sal
ook heeltemal die moeite werd weesJ
Thursday, 20 November 2014
GREENOUGH
Greenough is ‘n historiese
nedersetting wat ongeveer 400 km noord van Perth en 24 km suid van Geraldton
geleë is. Hierdie was dan ook die eerste dorpie in die geweste en vandag staan
daar nog elf van die oorspronklike geboue wat deur die National Trust of
Australia bestuur en beheer word. In 1839 is George Grey die eerste
westerling wat hierdie area kom verken. Hy vernoem dan ook die area na Sir George
Bellas Greenough, wat op daardie stadium die president van die Royal
Geographical Society in Londen was.
In 1851 word ongeveer 30 000 (nagenoeg
120 vierkante kilometer) akker opgemeet en onderverdeel in 20 tot 30 akker groote
plotte. Hierdie gedeelte staan dan bekend as die Greenough Flats. Die
doel van die Flats was om meer Engelse setlaars, wat gewoond was aan
kleiner as Australiese standaard plase, aan te moedig om hul in hierdie, tot
toe nog byna onbewoonbare gebied, te kom vestig. Binne ‘n paar jaar is die
Flats ‘n suksesvolle graan-produserende gebied met ongeveer 1 000 inwoners,
waaruit ‘n klein dorpie ontwikkel.
Hierdie dorpie het ‘n polisiestasie
en tronk, ‘n skool, ‘n Anglikaanse en Katolieke kerk, ‘n klooster, meule, ‘n
paaiekantoor, ‘n gemeenskapsaal en ‘n algemene handelaar. ‘n Entjie verder van
die dorpie is die Wesley Church, nog ‘n handelaar en ook die Convict Bridge.
Stap jy vandag deur die dorpie se straat, kan
jy jou byna indink hoe ‘n skemeraandtoneel in hierdie dorpie moes gelyk het. As
die middag room word en goud op die omliggende koringlande kom lê het, sou die
winkelier sy negosiegoedjies van die stoep af ingedra en sy winkel se houtdeur
toegetrek het. Die mans sou streep-streep, met hul gereedskap in die hande, van
die lande af teruggekom het. Moeg na ‘n dag se harde werk in die warm son. Teen
vroeg skemer sou die koperklok suid van die Katolieke kerk lui om sodoende die
nonne te herinner aan die aanddiens.
Wanneer strek skemer sag oor die
dorpie kom vou, sou die dames, deftig uitgevat in hul Victoriaanse drag aan die
sy van hul ewe deftige mans, na die gemeenskapsaal stap vir ‘n dansparty. Dit
terwyl die polisieman aan diens moet bly, want soos dit in daardie jare gewerk
het, is sy woonkwartiere, die polisiestasie, die hof en tronk als in een gebou.
Hy sou laatnag, wanneer slegs die vae klanke van die bedrywigheid by die gemeen-skapsaal
nog hoorbaar is, sy swaar bos sleutsels en parafienlamp vat en stoep-langs
omstap tronk toe om kyk of als nog pluis is met die prisioniers. Die prisioniers
wat in koue klipselle sit. Wittes elkeen in hul eie sel en die Abbo’s almal
saam in een sel, vasgeketting aan die yster-reëling teen die muur, met die die
ysige nagkoue en duisternis as enigste geselskap. (Liewe leser, moet asb nie
meegevoer raak nie, hul was áfterall’net prisioniers!)
Vanaf 1872 tot in die 1900 tref ‘n
paar natuurrampe Greenough, wat dan saam
met die ontdekking van goud in die binneland, daartoe lei dat die gebied teen
die 1900 sou leeg loop. In 1872 tref ‘n sikloon die nedersetting. Kort op sy
hakke in 1888, vloed die nedersetting. (Die vloedmerk is vandag nog in baie van
die geboue te sien. Byna soos Mariental, verloor die inwoners byna, indien nie,
alles.) Die ontdekking van goud in die vroeër 1900, was die laaste strooi en
die gebied loop leeg. In 1980 word hierdie geboue deur die National Trust oorgeneem,
gerestoureer en bewaar. Vandag is hierdie stukkie geskiedenis daar vir elkeen
van ons en sodra jy deur daardie hekke stap, stap jy terug in tyd en jou
verbeelding neem sy eie loop...
-
Saterdag 27
September 2014 pak ons die Wit
Wa en vat die northwest coastal highway (NWCH) noorde
toe. Boot en bord op die dak, padkos in die Engel en Slim Dusty, om ons in die regte bui te kry. Hierdie is ons laaste
langnaweek in die jaar en ons is van plan om dit goed te benut, deur Shark Bay te besoek. Georg was al daar
vir een of ander werksverwante kurses, maar ek was nog nie daar nie.
Net buite
Geraldton kry jy die eerste lande. Land op land staan die koring goud in die
aar. Oor ‘n paar weke gaan die boere verseker begin stroop. Later ry oor ons
die Murchinson rivier. Daar is sommer nog baie water in die rivier en ou reier
staan en wag rustig vir ‘n vissie om verby te kom. Daarna begin die plantegroei
droeër raak. Dis die tipies vaalgroen plantegroei in die rooi-rooi sand, wat
ons kilometer na kilometer sien.
Laatoggend
stop ons by die Overlander Roadhouse
om bene te rek. Die wind waai verwoed en die bloekoms langs die Roadhouse staan
skeef in dié wind. Rooi stofbollings, hardloop padlangs en ‘n Road Train probeer sy groot lyf langs
die petrolpomp inkry. Kom jy binne, is jy egter aangenaam verras. Jy kan enigiets van die
spreekwoordelike dooie poliesman tot ‘n posseël daar kry. Aan die agterkant is
daar ‘n mooi skoon eetplekkie, onderdak, met ‘n kontant papegaai in ‘n hok in
die hoek. Nadat ons bietjie bene gerek het, draai ons van die NWCH af en vat die pad kus toe.
Oor die
volgende paar dae sou ek wel deeglik besef, waarom dié deel, in 1991, as ‘n
Wêrelderfenisgebied gelys en verklaar is. Dis inderdaad ‘n uiters unieke plek
en beslaan sowat 2,200,902 hektaar, waarvan omtrent 70% seewater is. Volgens
die 2011 sensus is daar ‘n bevolking van so om en by 1000, in die gebied. (So,
liewe leser, as jy hou van flieks, stadsliggies, winkelsentrums en
verkeersknope, moet jy eerder nie Shark Bay
besoek nie.) Die Shark Bay Wêrelderfenisgebied sluit plekke soos Dirk Hartog
eiland, Monkey Mia, Hamelin Pool Marine Reserve, Shark
Bay Marine
Park en Peron National Park
in. Die baai self is 1,300,000 hektaar en het ‘n gemiddelde diepte van ongeveer
9m. Dit sluit die grootste seegras bed ter wêreld in (103 000 hektaar), wat op
sy beurt ‘n natuurlike habitat vir soveel seediere is.
Middagtyd
stop ons by Hamelin Pool om die stromatolites te kyk. Ek gaan probeer om
dit in eenvoudige taal te probeer verduidelik en dan die res aan die foto
oorlaat. Dis blykbaar blou-groen alge wat oor eeue heen opgebou het en dan
hierdie strukture gevorm het. Die alge groei daar omdat die soutinhoud van die
baai twee maal hoër as normale seewater is. Die soutgehalte is so hoog as
gevolg van die feit dat daar nie veel beweging in die water is nie, die
verdamping baie hoog is en die baai baie vlak is. ‘n Mondvol. Maar al hierdie
goed bymekaar is die ideal habitat vir die vorming van stromatolites, wat nie
fossiele is nie, maar wel lewende organismes. Ek hoop julle verstaan dit, vir
my lyk dit maar soos klippe, maar darem mooi klippe.
Sowat 45km
suidoos van Denham is Shell Beach .
Hierdie is een van slegs twee strande ter wêreld wat van skulpe is. Jip, julle
het reg gelees. Daar is geen sand nie, net skulpe. Vir 60 kilometer lê die
klein mantelskulpies van die Fragum Erugatum
spesie. Jy kan kan maar grawe, daar is net skulpies. Dié
skulpdiertjies het so vermenigvuldig omdat die hoë soutgehalte in die water,
dit vir hul natuurlike vyande onmoontlik maak om daar te oorleef. Dus kan hul na hartelus
vermeerder.
Laatmiddag
stop ons by ons blyplekkie. Dis teen die see en terwyl ons afpak kom loer oom
Emu in. Laataand sit ons op die stoepie met ‘n koppie boeretroos en kyk na die
klein glofies op die baai. In die weste trek die son water en bootjies wieg
lui-lui in die baai. En ek wonder waar in die seegras, die ou dugongs wei...
| Hamelin Pool - stromatolites |
| Shell Beach en die skulpies van naderby |
| Shark Bay |
Subscribe to:
Posts (Atom)
MEER AS NET ‘N KWILT Vandat ek kon onthou was kwilts, of soos dit in die volksmond bekend staan, lappieskomberse deel van my lewe. Me...
-
MEER AS NET ‘N KWILT Vandat ek kon onthou was kwilts, of soos dit in die volksmond bekend staan, lappieskomberse deel van my lewe. Me...
-
SHARK BAY Saterdag 27 September 2014 pak ons die Wit Wa en vat die northwest coastal highway (NWCH) noorde toe. Boot en bord op ...
-
Hierdie is ‘n stukkie wat ek lankal wou skryf, maar dit het nog altyd agtergebly. Dit sluit bietjie aan by my laaste skryfseltjie, waari...



